Deur ds Janke Hurterr | Erediens Netwerk
Ek lees eenmaal hoe iemand die doop en die ingroei in die doop-identiteit wat daarmee saamhang, beskryf deur na die dooprok te verwys. Die persoon verduidelik dat die dooprok eintlik heeltemal te groot behoort te wees vir die kindjie omdat die doop juis iets is waarin ons ingroei.
Op 26 Oktober het die groep belydeniskatkisante hier in ons gemeente belydenis van geloof afgelê. Met hierdie geleentheid, wat oor twee dae gestrek het (met Sondag se Nagmaaldiens ingesluit), is ons in hierdie twee dae met beide sakramente – die doop en die nagmaal – bedien, gevoed en versorg. Hier staan ons nou aan dié kant van die doop, aan dié kant van die Nagmaal. Wat gebeur aan die kant van die doop? Of eerder wat gebeur nog nie, en wat sal ons graag aan die kant van die doop wil sien gebeur? wonder ek vir ’n oomblik.
Die vraag na wat dié kant van die doop gebeur, word in die boek Ontdekkings in die erediens deur Johan van der Merwe as volg verwoord: Wat beteken dit om in die nuwe identiteit in Christus wat Christus vir ons gee met ons doop, in te groei? Of dan, wat beteken dit om in die “dooprok” in te groei? Volgens Van der Merwe (135) is die vraag nie “watter doop” nie. Die vraag is eerder wat beteken dit om ons identiteit as gedooptes uit te leef in ’n wêreld wat ons ander name noem as die Naam van die Vader, Seun en Gees waarin ons gedoop is. (Ons kan tog so gou vergeet wie ons is. Luther moedig ons aan om elke more die teken van die kruis te maak en te sê: “In die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees”). Van der Merwe (136) verduidelik dat die doop nie ’n sagkense salwing is wat alles aan die babatjie mooi, skoon en onskuldig maak nie, maar dat dit eerder ’n verdrinking, ’n brutale sterwensproses is. Die doop is meer as ’n sentimentele onderbreking van die erediens, waar die gemeente wonder of die kind gaan huil of nie. Die doop is ’n sakrament, maar ook die bevestiging daarvan is ’n herhalende gebeurtenis (143).
Na Van der Merwe (130) se mening is dit wat vóór en ná die doop gebeur juis die probleem met die doop, en lê die probleem met die doop nie by die doop van kinders of by die doop in die algemeen nie. Om te vra wat gebeur aan dié kant van die doop, is ook om weer te kyk na wat voor die doop gebeur. Van der Merwe (131) verduidelik dat wanneer ons oor die doop praat, ons nie oor die doop in isolasie kan praat nie. Dit is nodig dat ons diep sal besin oor die verband tussen doop en belydenis van geloof, of dan “die verbintenis tot die geloof waarin ek gedoop is”, soos wat Van der Merwe ook voorstel. Juis daarom is dit nodig om die belydenis van geloof te sien as ’n bevestiging van my doop, eerder as ’n bevestiging van die gedoopte. Hierby is dit ook nodig om te praat oor die liggaam waarin die doop ons inlyf, die inlywing in die geloofsgemeenskap. Dit is om te verstaan dat om Christen te wees, is om deel te wees van ’n gemeenskap wat ’n unieke identiteit in Jesus Christus het. Dit verhoed dat die oomblik van die belydenis van geloof in die gelowige se lewe gesien word as iets wat die doop voltooi.
Wat aan dié kant van die doop gebeur, het te make met die mate waarin ons in ons gesprekke oor die doop op die eenheid tussen doop, bevestiging en nagmaal wys, asook die mate waarin ons erns maak met die pad wat ons saam met lidmate stap vanaf swangerskap tot doop, asook die pad wat ons met hulle ná die doop stap ten einde die ingroei in die doop-identiteit in families te fasiliteer.