Deur Magdaleen du Toit, Sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk
What you dare not hope for, that is what He gives to you.
– Broer Roger, Taizè-gemeenskap
Hier aan die begin van die nuwe jaar staan ons reeds oorweldig deur soveel dinge wat gelyktydig op ons afstorm en ons lewensenergie tap. Die wêreldomstandighede is alles behalwe inspirerend, en in ons persoonlike lewens ervaar baie van ons dinge wat ons mismoedig maak en ons hoop wegkalwe. In Mystical Hope skryf Cynthia Bourgeault oor die soort hoop waarop ons eintlik nie “kan waag om te hoop nie”, soos Broer Roger hierbo sê. Ek sal stuk-stuk oor die verskillende hoofstukke gesels.

HOOFSTUK 1
JOURNEY TO THE WELLSPRINGS
Die skrywer neem ons op reis, ’n reis wat vir ons as individue moontlik begin in wanhoop, in hooploosheid. Ons ervaar almal die wipwa-rit tussen blydskap en pyn, verwagting en teleurstelling … Maar is dit moontlik om te leef vanuit ’n plek van groter ekwilibrium, gelykmoedigheid, balans – om ’n dieper, stiller, meer gelykmatige stroom te vind? Hierdie pad is moontlik, sê die skrywer, maar sy loop nie die pad van maklike antwoorde, psigologiese tegnieke, of gemoedelike gemeenplase nie. Die reis van hoop loop oor die berge na die bolope van hierdie dieper stroom – tot by die bronwaters van die Christus-misterie. “This journey to the wellsprings of hope is not something that will change your life in the short range, in the externals. Rather, it is something that will change your innermost way of seeing. From there, invariably, the externals will change.”
Ons gewone manier van hoop is verbind aan ’n positiewe uitkoms. In hierdie opsig word hoop gesien as ’n optimistiese gevoel dat dinge in die toekoms beter sal gaan, of dat ’n bepaalde ding sal gebeur. “Ek hoop ek kry die werk,” of, op ’n donkerder noot, wagtend op die uitslag van ’n biopsie: “Ek hoop dis nie kanker nie.” Hierdie vorm van hoop word altyd gekenmerk deur ’n polariteit: hoop en optimisme teenoor mismoedigheid of wanhoop.
Die Bybel is vol verhale van wanhoop wat omgekeer word deur God se wonderbaarlike ingryping. Die Israeliete voor die Rooi See; die psalmis wat weer en weer van God se uitredding getuig; Jesus se wondergenesings wat die skares hoopvol op sy spoor laat loop. Hierdie hoop is so sentraal tot Paulus se begrip van die goeie nuus in Christus dat hy dit saam met geloof en liefde insluit in die drie groot teologiese deugde.
Maar waar laat dit ons wanneer daar nie ’n wonderbaarlike Goddelike ingryping is nie? Wanneer die biopsie kwaadaardig blyk te wees, wanneer my hoop op ’n goeie uitkoms weereens verpletter word? Het God my nou verlaat? Laat my geloof my in die steek?
Vir Bourgeault is daar ook ’n ander soort hoop in die Bybel – die omgekeerde van wat ons gewoonlik as hoop beskou. Dieper as die gewone, optimistiese soort hoop wat die see laat oopgaan en ontreddering omkeer, is daar ’n stiller, selfs ironiese kontrapunt. Habakuk wat uitroep: “Al sou die vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die HERE, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop”
(Habakuk 3:17–19). Hier is nie sprake van ’n droefgeestige, stoïsynse ‘vasbyt’ nie; inteendeel, die profeet spreek met ’n ligtheid wat skyn asof dit in hom instroom ongeag die hooploosheid van die omstandighede. Sy pad loop opwaarts, na die hoogtes. Dit is die soort hoop wat Jesus impliseer in sy gesprek oor lewende water met die Samaritaanse vrou by die put (Joh. 4:10, 14): “… wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.”
Die boek Job vertel by uitstek die verhaal van hierdie soort hoop. Nie net verloor Job sy vrouens, kinders, besittings en selfs sy gesondheid nie; ook sy vriende, Jobstroosters wat hulle is, beroof hom van sy laaste sekerheid: sy vertroue in ’n samehangende heelal en sy geloof in sy eie onskuld. Maar paradoksaal groei Job se geloof en hoop uiteindelik sterker en sterker, en wat by hom posvat, is ’n “singlehearted yearning to see God” en ’n liriese sekerheid dat sy Verlosser leef. (Job 19:25–26). “Nowhere in all of literature is there such a triumphant statement of mystical hope,” sê Bourgeault, “… louder and louder it sings in his soul, as if the singing itself were the hope.” [Luister gerus na die wonderbaarlike aria I know that my Redeemer liveth uit Händel se Messiah.
Die kenmerke van mistieke hoop
In teenstelling met ons gewone idee van hoop, lig Bourgeault die volgende kenmerke uit van die soort hoop wat sy beskryf as mistieke hoop:
- Mistieke hoop is nie verbind aan ’n uitkoms of aan die toekoms nie. Dit leef ’n lewe van sy eie, skynbaar sonder verwysing na eksterne omstandighede of voorwaardes.
- Dit het iets te doen met teenwoordigheid; die onmiddellike ervaring dat jy tegemoet gekom word, dat jy in noue verbondenheid / heilige kommunie vasgehou word deur ’n Teenwoordigheid wat intiem teenwoordig is.
- Dit dra vrug in ons op psigologiese vlak in die sensasies van sterkte, blydskap en vrede. Dis nie afkomstig van eksterne verwagtings wat bevredig is nie; hierdie sensasies word van binne geproduseer.
- Dan wys sy ook op ’n vierde moontlike kenmerk; ’n ervaring van ’n moment van hoop waarin daar vir ’n oomblik ’n wyer veld van Teenwoordigheid ervaar word en waarin alles ligter, meer intens en helderder voel. Hierdie belewenis is soms atemporeel, daar is ’n ervaring dat tyd momenteel opgehef word, asof ’n mens uit die lineêre stroom van ure en dae gehaal word en tot in die onmiddellikheid van die NOU gebring word.
Sy vertel dat sy op ’n mistroostige wintersdag so ’n ervaring gehad het in ’n tyd van hooploosheid ná die dood van ’n vriend en medewerker: “As I sat there shivering and lost in misery, suddenly I could feel a strange lightness and joy starting to bubble up in my being. … There was an effervescence inside me that simply had not been there a moment before, as if I had been recharged, filled and refuelled with an energy so light and buoyant that I simply could not sink even if I wanted to. Like Habakkuk I found myself suddenly scooped up on the heights. … Nothing had changed in the physical world. And yet, for the several minutes the experience lasted, none of this really mattered. I was above it all, my being coming to me from some far deeper place.”
Genade
Hierdie ervarings beskryf sy as “momente van genade”, tye wanneer God ons lewens aanraak en seën en ons vernuwe vanuit die sentrum en middelpunt van God se eie bodemlose oorvloed. Genade en mistieke hoop is bykans sinonieme van mekaar, sê sy, en iemand wat hierdie genade of mistieke hoop ervaar, vertoon ooreenstemmende kwaliteite van vreugde, dankbaarheid en ligtheid – selfs in ’n skynbaar hooplose situasie.
Sy waarsku dat hierdie tipe ervarings nie net gesien moet word as ’n seldsame of buitengewone fenomeen nie: “It is all too easy to understate and miss that hope is not intended as an extraordinary infusion, but an abiding state of being” – ‘n blywende synswyse; ‘n blywende manier van “wees”.
Sy gaan voort: “We lose sight of the invitation – and in fact our responsibility, as stewards of creation – to develop a conscious and permanent connection to this wellspring.” Dit is ons taak, ons verantwoordelikheid, om ingetap te bly by hierdie Bron.
“We miss the call to become the vessel or chalice into which this divine energy can pour. … What if our insistence on treating it as a rare and exceptional phenomenon is a way of ducking the invitation that was permanently extended at the Samarian well that blazing midday?”
Die reis na hierdie bron, na die lewende water wat Jesus beloof, is in werklikheid die groot innerlike reis waartoe ons as Christene geroep word, sê Bourgeault.