voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
Dit was weer ’n Maandag in Augustus, halfpad deur ons termyn as Moderamen en die nuus rondom die tafel van hoe dit in klein gemeentes gaan, hoe groot die veldbrande hierdie seisoen is, wat in ringe gebeur, waar daar kermis gehou word, kollegas wat beroep is en nuwes bevestig is, baba’s wat in die gesinne van leraars aangekom het, kinders wat matriekeksamen skryf, nog een wat emigreer, ’n eggenote wat gesond geword het … Ons het in Kroonstad vergader; dalk een van die heel belangrikste vergaderings van hierdie termyn tussen 2022 en 2026.
Dr Dawie Botes, ondervoorsitter van die Moderamen, het die vergadering geopen, pas terug van sy besoek aan die Reformed Church in Zambia, ons “dogterkerk” wat lankal mondig en selfstandig geword het; vanjaar 125 jaar oud. Dawie was aangegryp deur hierdie besoek, soveel te meer omdat sy eie familie lank in die sendingvelde betrokke was. Hy’t vir ons foto’s kom wys van die mense daar; drie videotjies van hul gemeentesang. Maar hy’t veral vir ons die Skrif kom oopmaak en ons gevra oor die “location pin” (die plekspeldjie) van ons roeping: Handelinge 1. Die dissipels se vraag: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
In baie van ons leef hierdie vraag tans, enkele weke vóór die Buitengewone Sinode van 3 Oktober 2024. Dit het dan ook tydens die moderamenvergadering die meeste van ons tyd in beslag geneem – dié deurpraat van ‘n agenda vir 3 Oktober. Om seker te maak alle inligting word ingesluit, die beskrywingspunte volledig opgeneem, keuses vereenvoudig, prosesse verduidelik, welwillendheid gesoek. Want ons almal is diep onder die indruk van hoe deurslaggewend die besluite wat ons moet neem, vir die NG Kerk in die Vrystaat kan wees; vir gemeentes, vir leraars, vir ons roeping. Wat is besig om te gebeur, byna dag en datum honderd-en-sestig jaar sedert hierdie Sinode in 1864/65 tot stand gekom het? Net om terselfdertyd ook te besef: In ons onmiddellike konteks, is daar nét sulke brandende kwessies en uitdagings – dertig jaar in ons demokrasie in, die platteland en dorpies wat uiteenval, boere wat baie bekommerd is, voedselsekuriteit op die spel, skoolbeheerliggame onder druk, jong dokters wat nie werk kry nie, radikalisme in die politiek … Hoe lank kan ons nog uithou en aanhou? Dan is daar die konflikte op in Afrika, die Midde-Ooste, Oekraïne – Here, is dit nou die tyd? Terselfdertyd: Hoe kan ons die boodskap van ’n verrassende verkiesingsuitslag miskyk óf dit wat ons atlete en sportsterre regkry, oor grense heen, in die internasionale arena, Siya en die Bokke? Is daar dalk juis besig om iets anders onder ons mense te gebeur, iets wat die weg wys na herstel en hoop vir almal? Here, is dit nou die tyd?
Jesus se antwoord – só het Dawie ons herinner – is rigtinggewend. Hy sê duidelik wat NIE in ons hande is nie, by wyse van spreke: Dit is nie vir ons om “die tye en spesifieke geleenthede te ken” nie; dít lê in die hande en allerwete en mag van ons Vader (Handelinge 1:7). Ons weet nie hoe om die tye te deurgrond nie; inteendeel, óns word deur Hom deurgrond. Ons word herinner aan wie ons regtig is. En gee Jesus dan die belofte én die roeping oor die Heilige Gees en krag, oor getuies wees, oor die missio Dei na die res van Jerusalem, die hele Judea en Samaria – “die ander” – en verder en verder. En Sy opdrag: “bly wag …” (Handelinge 1:4, 8). As NG Kerk Vrystaat het ons nie ’n ander weg om te gaan, as dít nie: Om Jesus op sy Woord te neem, te vertrou, te gehoorsaam, te volg, te volhard. Vir dit wat op 3 Oktober moet gebeur – nie omdat óns sus of so sou besluit nie, dalk selfs omdat ons haastig of ongeduldig geword het nie, maar omdat ons weet ook daardie Donderdag lê in die hande van ons Vader en van Christus, die Hoof van ons deeltjie van sy Liggaam.
Dit geld beslis ook vir die res van wat op die agenda van ons Moderamen daar in Kroonstad was: Die strategiese sake uit ons familiegesprek met die VGK en NGKA; sosiale kohesie in die Vrystaat; hulp met die bediening in klein gemeentes; studentebediening; die begeleiding van teologiestudente; die herstrukturering van ons sinodale werksaamhede en die kantoor; ons kommunikasiebeleid; die inkleding van ringsittings en verteenwoordiging van ringe in al ons werksaamhede; ons barmhartigheidsbediening wat al wyer uitkring; die verkwikkende besoek van Stephan van der Watt en Missie Japan die afgelope maand aan gemeentes wat hul ondersteun; ons finansiële state wat weer ’n ongekwalifiseerde ouditrapport gekry het; verligting vir gemeentes se pro rata’s … Daar is soveel om oor dankbaar te wees. God mee te vertrou.
En toe ons aan die einde van die moderamenvergadering amper soos die verslae dissipels na die hemel bly staar (Handelinge 1:10-11) en vra waarvandaan sal daar vir ons hulp kom – ook vir 3 Oktober – antwoord ds Gert Oosthuizen van Koppies: “As enigiemand van jul wysheid kortkom, laat hy dit van God bid …” (Jakobus 1:5). Dít is dan die liturgiese teks vir ons Buitengewone Sinode, het ons as Moderamen besef; in ons voorbereiding en vir die gees wat ons daardie dag by Kopano Nokeng – die “plek van ontmoeting” in Sotho – moet opdaag. Ons ken nie die tyd en geleentheid nie, maar God weet alles. Oor ons en die NG Kerk Vrystaat en Sy koninkryk hier beskik Hý alleen.
Laat ons daarvoor bid.