Foto: Canva
Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis
Ons het al na ’n paar redes gekyk oor hoekom Moslems nie die inkarnasie van Jesus – dat Hy wat van ewigheid af God is, kon mens word en aan ’n kruis kom sterf het in ons plek – kan aanvaar nie. Ons het ook na ’n paar maniere gekyk waarop ons sinvol op hierdie besware van hulle kan reageer.
Vanuit ’n Christelike perspektief gesien, is dit eintlik baie eenvoudig hoekom dit in Islam nie sin maak dat God hierdie wêreld sou betree om te sterf vir sondaars nie. Die rede is onder andere dat Allah se geregtigheid, liefde, genade en barmhartigheid beperk, onvolmaak en totaal voorwaardelik is. Wat sê die Koran oor die liefde van Allah?
Ons kyk net na enkele tekste uit die Koran wat hierdie feit onderstreep:
Sura 2:190: Allah het geen liefde vir oortreders nie.
Sura 2:276: Allah hou nie van enige ondankbare kwaaddoener nie.
Sura 3:32: Gehoorsaam Allah en Sy boodskapper. As hulle steeds wegdraai, dan hou Allah waarlik nie van die ongelowiges nie.
Sura 3:57: Dié wat glo en goed doen, hulle sal ten volle beloon word. En Allah het geen liefde vir kwaaddoeners nie.
Sura 4:36: Allah het geen liefde vir diegene wat selfbedrog pleeg en grootpraterig is nie.
Sura 7:31: Allah het nie dié lief wat uitspattig leef nie.
Sura 8:58: Waarlik, Allah het geen verraaier lief nie.
Sura 28:77: Allah het geen liefde vir die korrupte wat onheil bewerk nie.
Sura 57:23: Allah het geen liefde vir dié wat arrogant en grootpraterig is nie.
Die god van die Koran en Mohammad is net lief vir dié wat hom eerste liefgehad het. Allah het geen liefde vir opstandige sondaars nie. In Islam is die verhouding tussen Moslems en Allah dié van ’n slaaf teenoor ’n genadelose meester. Trouens, Sura 19:93 stel dit in soveel woorde dat Allah se aanbidders vir hom niks meer as slawe is nie. Hoewel elke hoofstuk van die Koran meld dat Allah genadig is, word dit deur die res van die hoofstuk weerspreek.
Hierdie beeld wat die Koran van Allah teken, dat hy geen liefde vir sondaars het nie, dat selfs sy aanbidders (om nie eers dié te noem wat hom nié aanbid nie) vir hom niks meer as slawe is nie, maak dit vir Moslems ondenkbaar dat God mense, juis sondaars, so lief kan hê dat Hy mens sou word. Dat Hy nie mense as slawe behandel nie, maar sélf die gestalte van ’n slaaf sou aanneem (Filippense 2) en sou sterf vir ons, ons wat almal as sondaars in die wêreld gekom het. Dat Hy kom sterf het vir kwaaddoeners, oortreders, grootpraters, korruptes, verraaiers, arrogantes en bewerkers van onheil. Hulle wat die lys gehaal het van dié vir wie Allah geen liefde het nie. Ja, ook vir jou en my.
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie artikel handel ook oor die apologetiese gesprekke met Islam.