Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie
Verlossing uit genade teenoor verlossing deur werke
Ons het in die vorige artikel gesien dat die God van die Bybel neerbuig na sy kinders, terwyl die navolgers van ander gode (insluitende Allah) moet “opklim” na God. Dit beteken dat hulle hul gode moet paai en tevrede stel met goeie dade of offers. Hulle moet in effek hulle eie verlossing verdien.
Die kern van die saak is dat Christene glo dat hulle uit genade alleen gered word (Sola Gratia). ’n Teks (om maar net een te noem) is Efesiërs 2:8, waar ons lees: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”
Ons leef in ’n wêreld waar genade nie maklik verstaan word nie. Daar waar ons werk en speel moet jy altyd iets reg doen sodat jy iets kan kry. Die aktrise Grace Kelly het by geleentheid gesê: “My father had a very simple view of life: you don’t get anything for nothing. Everything has to be earned, through work, persistence and honesty.” Dit maak “genade” vir ons ’n baie moeilike konsep om ons eie te maak, omdat genade juis is om iets te ontvang waarvoor ons nie gewerk het nie. Ons ontvang verlossing en die ewige lewe wat Christus vir ons verdien het. Die ewige dood wat ons wél verdien het, het op Hom afgekom.
In Islam is daar geen genade nie. Jy moet self jou plek in die paradys verdien deur jou werke. Volgens hulle sal daar by die eindoordeel ’n skaal wees waarop jou goeie en slegte dade geweeg word en dit wat die swaarste weeg sal bepaal waar jy die ewigheid deurbring. In Sura 23:102-103 staan daar: “As for those whose scale is heavy with good deeds, it is they who will be successful. But those whose scale is light, they will have doomed themselves, staying in Hell forever.” In Sura 7:8,9 staan daar ook: “And the measuring out on that day will be just; then as for him whose measure (of good deeds) is heavy, those are they who shall be successful. And as for him whose measure (of good deeds) is light, those are they who have made their souls suffer loss because they disbelieved in our communications.”
Die weeg van die mens se dade gaan selfs verder as die oordeel wat ’n Moslem se ewige bestemming betref, dit bepaal selfs die mate van jou vergoeding in die paradys. Islamitiese teologie beskryf ’n vorm van hiërargie in die hemel — waarna dikwels verwys word as die sewe vlakke van Jannah (Paradys). Hierdie vlakke weerspieël die geestelike rang en dade van individue, met hoër vlakke wat gereserveer is vir diegene wat groter geloof, vroomheid en goeie werke getoon het.
Die Gereformeerde tradisie, gegrond in sola gratia (genade alleen) en sola fide (geloof alleen), beklemtoon dat verlossing en toegang tot die ewige lewe ’n geskenk van God is, nie ’n verdienste nie. Alle gelowiges is gelyk voor God, omdat niemand op hul eie werke kan roem nie. Die fokus vir Gereformeerdes, wat die hemel betref, is nie op vlakke van beloning nie, maar op volmaakte gemeenskap met God, waar elke gelowige ten volle deel in Christus se heerlikheid.
Die ironie is dat Allah in die Koran “genadig” genoem word. Die “Barmhartige/Genadige” is ‘n vertaling van een van die 99 name (eienskappe) van Allah. Spesifiek is Ar-Rahim (Die Mees Barmhartige) en Ar-Rahman (Die Besonder Barmhartige) die twee primêre name wat Allah se sogenaamde genade weerspieël. Dit is egter duidelik dat Mohammad die woord “genade” by die Christene geleen het, sonder om die inhoud van die woord en die omvang van die saak te verstaan.
Martyn Lloyd-Jones[1] omskryf genade as: “favour shown to people who do not deserve any favour at all. And the message of the Gospel is that any one of us is saved and put right for eternity solely and entirely by the grace of God, not by ourselves … it is the gift of God.”
Die God van die Bybel red dus deur selfopoffering. Die god van die Koran “red” egter deur selfopoffering van sy volgelinge te vereis.
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za
[1] Lloyd-Jones, M. 1990. The Cross. Banner of Truth: Pennsylvania.
’n Reeks Islam-artikels. Hierdie artikel handel hoofsaaklik oor die verskil tussen die God van die Bybel en Allah: Verlossing uit genade teenoor verlossing deur werke.

