Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Islam en die Shariah-regstelsel

Onlangs is die nuus oorheers deur beriggewing van protesaksies in Iran. Behalwe vir voertuie wat aan die brand gesteek is en strate wat blokkeer is, het vroue hulle hoofbedekkings (hijab) in die openbaar verbrand. Veertig mense het reeds in dié protesaksie gesterf. Dit alles het gevolg op die dood van ‘n jong vrou, Mahsa Amini, wat deur die Morele Polisie van Iran doodgemaak is. Sy het geprotesteer teen die drakoniese wette in die land, wat onder andere vroue verplig om te alle tye in die openbaar ‘n hijab te dra.

Hierdie gebeure het opnuut Islam se baie berugte Sharia-regstelsel in die kollig geplaas. In die algemeen, wanneer oor hierdie stelsel gepraat word, roep dit beelde op van mense wie se hande afgekap word, in die openbaar lyfstraf ontvang en ook (veral Christene) in die openbaar onthoof word.

Dat hierdie die prentjie is wat die wêreld van die Sharia het, is iets waarvoor net Islam verantwoordelikheid moet aanvaar. Daar is selfs onder Moslems ‘n groot verskil van opinie oor wat hierdie regstelsel beteken en hoe dit vandag toegepas behoort te word. Daar is ten minste vyf skole in Islam wat daaroor debatteer. Om op al die besonderhede in te gaan, is nie in hierdie ruimte moontlik nie.

Die geweld en dood wat ekstremistiese Moslems in die noorde van ons buurstaat, Mosambiek, veroorsaak het (onder andere met die implimentering van Sharia) beteken dat ons onsself moet vergewis van wat Sharia werklik beteken. In Arabies beteken Sharia “die duidelike pad na ‘n waterput”. Dit is iets, wat hulle glo, beide goddelik en filosofies is. Goddelik omdat dit Allah se wil vir die mensdom is, maar ook filosofies omdat dit afhanklik is van mense se denke oor wat Allah se wil sou wees.

Die Sharia is saamgestel op grond van drie bronne, naamlik die Koran, die Sunnah (dade van Mohammed) en die Hadith (versamelde leerstellings van Mohammed). Daar is groot verskil onder Moslems oor hierdie bronne. Ons kyk ‘n volgende keer na hierdie verskille.

Soos genoem, is daar vyf verskillende skole en interpretasies van die Sharia. Daar is egter geen spesifieke boek wat ‘n lys van Sharia-wette bevat nie en dit word op teenstrydige maniere geïnterpreteer en toegepas deur wie ook al op ‘n tyd en plek aan bewind is. Dit is hoekom plekke soos Iran en Afghanistan, waar staat en godsdiens verstrengel is, veral op hierdie stelsel steun – en waar daar geen vorm van menswaardigheid bestaan nie.

‘n Groot probleem wat Moslems self ervaar ten opsigte van die Sharia, is dat daar geen vorm van Penologie (Strafkunde) in hierdie stelsel bestaan nie. Vir ‘n bepaalde oortreding mag een hof dalk lyfstraf vir die oortreder gee, terwyl ‘n ander hof vir dieselfde oortreder of oortreding ‘n amputasie of onthoofding sou beveel.

Daar is dus, in kort, min dinge in Islam wat mense so verdeel as Sharia – die interpretasie daarvan en die toepassing daarvan. Vir die ordelike bestaan van ‘n geslote gemeenskap kon dit ‘n paar eeue gelede dalk ‘n vorm van orde gehandhaaf het. Dit was egter nooit bedoel om ‘n juridiese stelsel vir ‘n regering te wees nie. Dit is juis as regeringsvorm waar die meeste vergrype van hierdie stelsel voorkom. Die Christelike kerk het nog altyd eerste in die ry van slagoffers gestaan waar lande hierdie stelsel omarm.

116 | Maatskaplike NOODLYN