Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die offerfees in Islam en die vraag oor Ismael of Isak

Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie

Onlangs op ’n uitreik na Durban praat ek met ’n ou Moslemman. Hy vertel my toe dat hulle binnekort die fees Eid al-Adha sou vier, waar hulle daaraan dink dat Abraham sy seun Ishmael moes offer. Ek vra hom toe watter betekenis dit vir hulle as Moslems het, waarop hy sê dat dit bloot op Abraham se gehoorsaamheid gedui het. Ek vertel hom toe van die Bybelse verhaal van Abraham wat vir Isak moes gaan offer en hoewel hierdie verhaal iets van Abraham se geloof en gehoorsaamheid te sê het, het dit soveel te meer iets belangrik oor God te sê. Die belangrike deel was dat God ’n ram gegee het om in die plek van Isak te sterf. Ek vertel hom toe dat mens die Bybel se boodskap in hierdie vier woorde kan saamvat, nl: “in die plek van”. Want nie net sterf ’n ram in die plek van Isak nie, maar ’n lam sterf ook in die plek van die Israeliete se eersgeboreners in Egipte. En hierdie het alles vooruitgewys na Christus wat in die plek van sondaars sterf.

Die Islamitiese Offerfees, Eid al‑Adha, is een van die belangrikste feeste op die Moslemkalender. Dit word wêreldwyd gevier, soos genoem, as ’n herdenking van Abraham (Ibrahim) se bereidheid om sy seun aan God te offer. Vir Moslems is dit ’n viering van gehoorsaamheid en vertroue in God se wil. Die fees val saam met die voltooiing van die Hajj-pelgrimstog in Mekka en word gekenmerk deur gebede, liefdadigheid en die simboliese slag van ’n dier, waarvan die vleis met familie, vriende en armes gedeel word.

In Islam word algemeen aanvaar dat die seun wat Abraham moes offer, Ismael was. Die Koran vertel die verhaal in Sura 37:99–113, waar Abraham ’n droom ontvang waarin hy sy seun moet offer. Wat belangrik is om te weet, is dat die Koran nie die seun by die naam noem nie. Dit is die hadith en tafsir wat hom as Ismael identifiseer.

Vir Moslems is Ismael die voorvader van die Arabiese volk en die lyn waaruit die profeet Mohammed sou kom. Daarom dra die verhaal vir hulle ’n besondere teologiese betekenis: Ismael word gesien as die seun van oorgawe, die een wat saam met Abraham die Kaäba herbou het, en die een deur wie God se seën oor die Arabiese nasies sou vloei. Die Kaäba (wat “kubus” beteken) is die allerheiligste heiligdom in die Islam en is geleë in die middel van die Groot Moskee in Mekka. Dit dien as die sentrale gebedsrigting vir Moslems wêreldwyd en is die hooffokus tydens die jaarlikse Hajj-pelgrimstog

Eid al‑Adha vier dus nie net Abraham se gehoorsaamheid nie, maar ook Ismael se gewilligheid om homself te laat offer.

Soos ons reeds gesien het, noem die Koran nooit eksplisiet die seun se naam nie — kon dit dus, soos die Bybelse verhaal, Isak wees? In Sura 37 word die seun eers beskryf as “’n sagmoedige seun” (37:101), en eers ná die offerverhaal word die geboorte van Isak aangekondig (37:112).

Hierdie volgorde het aanleiding gegee tot ’n debat onder geleerdes — selfs binne Islam. Sommige vroeë Islamitiese kommentatore het geglo dat die seun Isak was, nie Ismael nie. Die bekende Islamgeleerde al‑Tabari dokumenteer byvoorbeeld tradisies wat beide kante ondersteun. Hy as Moslemgeleerde kom selfs tot die konklusie dat die seun Isak is[1].

Die Koran se verswyging van die naam het waarskynlik te doen met die feit dat die gehoor reeds die Bybelse verhaal geken het, waar Isak duidelik die seun van die offer is (Genesis 22). Die latere Islamitiese identifikasie van Ismael kan dus verstaan word as ’n teologiese ontwikkeling wat die rol van Ismael in die Islamitiese tradisie wou beklemtoon.

Dr Shabir Ally, ’n bekende Kanadese Moslem-apologeet, erken dat die Koran nie die seun se naam noem nie. Hy wys daarop dat die teks “ruimte laat vir interpretasie”, maar dat die meerderheid Moslems Ismael as die seun van die offer beskou op grond van latere Islamitiese tradisie. Interessant genoeg sê Ally dat die Koran se struktuur wel kan dui op Isak, omdat die aankondiging van Isak se geboorte ná die offerverhaal kom. Hy stel egter voor dat die Islamitiese tradisie se identifikasie van Ismael teologies sin maak binne Islam se eie raamwerk.

Hierdie erkenning is belangrik, want dit wys dat die debat nie net tussen Christene en Moslems bestaan nie, maar ook binne Islam self.

Vanuit ’n Christelike perspektief is dit belangrik om hierdie gesprek met respek te voer. Christene en Moslems deel ’n diep waardering vir Abraham se geloof en gehoorsaamheid. Dit skep ’n brug vir gesprek, nie ’n muur nie. Tog hou Christene vas aan die Bybelse openbaring dat Isak die seun van die belofte én die seun van die offer is. Dit is teologies betekenisvol omdat:

  • Isak die kind van die verbond is (Genesis 17:19).
  • Die offer van Isak ’n profetiese heenwysing is na Christus, die Seun wat wel geoffer is.
  • Die lyn van verlossing deur Isak, Jakob en uiteindelik Jesus loop.

Die Christelike reaksie is dus nie om Moslems te kritiseer nie, maar om die evangelie helder te stel, naamlik God voorsien die Lam (Genesis 22:8). Die ware vervulling van Abraham se verhaal is in Jesus Christus, die Seun wat wel geoffer is en weer opgestaan het. Waar Abraham se seun gespaar is, is God se eie Seun nie gespaar nie — sodat ons gered kan word. ’n Evangeliese benadering wys liefdevol op die unieke rol van Christus as die finale Offerlam.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za

[1] The Sacrificial Son of Ibrahim: Discourse on Q.37:102 with Emphasis on Hamka’s Tafsir Azhar, ALS Indiana Journal of Humanities and Social Sciences, Volume-06|Issue-11|2025

’n Reeks Islam-artikels. Hier is ’n artikel wat handel oor die vraag of Abraham vir Isak sou offer (soos die Bybel sê) en of dit Ismael was (soos Moslems glo, maar die Koran NIE sê nie)