Deur Magdaleen du Toit, lid van die Spiritualiteit Netwerk
“Ek is dankbaar teenoor God, wat ek, soos my voorouers, met ’n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik, bedags en snags, in my gebede aan jou dink. As ek aan jou trane terugdink, verlang ek daarna om jou te sien, sodat ek met blydskap vervul kan word. Ek dink steeds aan jou opregte geloof, daardie geloof wat eers in jou ouma Loïs, en in jou moeder Eunice was – en ek is oortuig dat dit ook in jou is.”
So skryf Paulus aan sy geloofskind, Timoteus (2 Timoteus 3-5).
Augustus is Vrouemaand, en more, op Saterdag 9 Augustus, vier ons Suid-Afrika se Nasionale Vrouedag.
In baie kulture verteenwoordig die uitdrukking ‘die gees van die ouma’ simbolies die wysheid van die oudstes, wat veral beliggaam word in die omgee, onvoorwaardelike liefde en wyse leiding wat van die grootmoeder uitgaan en van geslag tot geslag aangegee word. Dit verteenwoordig ’n kragtige versorgende omgee-energie, ’n onwankelbare geloof, verdraagsaamheid, aan God oorgegee in die aanvaarding van dinge soos dit is. Dis ryk lewenservaring wat neerslag vind in ’n aardse wysheid wat werk met die essensie van dinge, soos weerspieël in Filippense 1:9-10: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”
Hierdie metaforiese ouma-gees is nie net in die vroulike grootouer gesetel nie, maar in almal wat hierdie wysheidsfase betree: oumas en oupas, mammas en pappas … alle figure aan wie die sorg van die jonger geslag toevertrou word. Die ‘gees van die ouma’ is ’n lewenskwaliteit.
Ek ry onlangs verby ’n laerskool wat pas uitgekom het en kyk met verbasing na die figure wat die jong kinders by die hek kom ontmoet en na motors begelei: almal gryskoppe! Hoe bevoorreg is daardie kleingoed om so gekoester in die ‘gees van die ouma’ groot te word. Daar word gehelp met wiskunde en skooltake, daar is tyd, daar is grappies, daar is ’n geduldige oor – wat nie altyd die haastige, besige ouers beskore is nie.
Oumas is deesdae ook nie meer wat hulle was nie. Hulle is nie prentjieboek-figure met bollas en appelwange wat pal voorskoot en verstandige toerygskoene (of pantoffels!) dra nie. Hulle is byderwetse, aktiewe rolmodelle wat byhou met nuwe tegnologieë en allerlei nuwe tendense, en ingeligte opinies uitspreek. Hierdie wysheid omvat die hele lewe.
Ek dink aan my een hartsvriendin, reeds oor die sewentig, haar lewe lank ’n geliefde kleuter- en aanvangsfase-juffrou, wat onlangs haar enigste kleinkind op tragiese wyse aan die dood afgestaan het. Diep in rou, doen sy aansoek om ’n onderwyspos in Kazakhstan (van alle plekke!), die visumproses is reeds afgehandel en sy begin eersdaags daar met ’n span kleingoed werk. Die koesterende ‘gees van die ouma’ het nie verdwyn saam met die verlies van die geliefde kleinkind nie; dit word verder geneem ’na die uiterstes van die aarde’ – ’n brawe onderneming.
Mag hierdie koesterende ‘gees van die ouma’ die planeet omspan en al die pynlike, hartverskeurende dinge wat ons tans sien en beleef, gesond maak en uitkanselleer. Die gees van die ouma is in werklikheid die beliggaamde Heilige Gees wat in ons almal leef en aan die werk is; mag ons elkeen daagliks in die krag daarvan ons wêreld tegemoet gaan.
| verskaf: Magdaleen du Toit, lid van die Spiritualiteit Netwerk.

