Departement Praktiese en Missionale Teologie, geloofsvorming van tieners en studente
Teologiese opleiding is ‘n belangrike saak vir die kerk. Verskeie debatte is al op Sinodale vlak hieroor gevoer en besluite geneem. Anders as baie ander studierigtings, gaan dit in teologiese opleiding nie net oor die versameling van kennis nie. Dit gaan ook om die vorming van ‘n bepaalde professionele persoon. Die verwerwing van kennis, die slyp van vaardighede en die spirituele vorming van die student, speel elkeen ‘n belangrike rol. Universiteite en teologiese skole gee op verskillende wyses aandag aan die geestelike/spirituele vorming van die studente. Aan die Vrystaatse Fakulteit vir Teologie en Religie word daar onder meer ‘n weeklikse biduur vir studente en dosente gehou. Die geleentheid heet Coram Deo – in God se teenwoordigheid. In daardie uur is geleentheid vir aanbidding, lofprysing en om die Here se Woord te hoor – om veral meer van Sy teenwoordigheid bewus te raak. Teologiese studente leer meer van die Here in hulle studies, maar moet ook gelei word om meer bewustelik saam met Hom te leef. Dit is trouens waartoe elke kind van die Here geroep word – om al meer bewustelik in Sy teenwoordigheid te leef en al minder bewus van die wêreld met sy beloftes en eise.
Om teologiese opleiding te ondergaan is ‘n voorreg. Dit rus jou toe met meer as net kennis oor die Bybel. Dit vorm jou om ‘n bepaalde professionele persoon te wees wat kan luister – na God en mense, raadgee en raad aanvaar, aanmoedig en aanmaan. Dit is ‘n besondere tyd in ‘n persoon se lewe om kennis te kan opneem, te verwerk en in jou konteks toe te pas. Hierdie leertyd is egter iets wat lewenslank gekoester moet word, nie net deur teologiestudente nie, maar deur elke student van die lewe.
Gebed
O Heer, hoor ons gebed in hierdie spesiale tyd van die jaar – Pinkstertyd.
Ons het behoefte dat U Gees ons opnuut verfris en verras met kennis oor Wie U is.
Laat die kennis wat ons in klasse en preke opdoen nie net by taalkonstrukte bly nie.
Laat dit deel word van nuwe verwysingsraamwerke wat nie vasval in ou bekende patrone nie.
Drie-eenheid, Verbond, Genade, Liefde, Vergifnis, Almag.
Hoe kan ons klein verstand ooit die diepte van al hierdie waarhede vasvat?
Gees van Waarheid, lei ons in ons soeke na waarheid.
Laat ons vreugde vind in U teenwoordigheid wat soveel meer is as wat ons van U kan weet.
“Dit is die ewige lewe – dat hulle U ken,” het ons Here Jesus gebid. Ons wil U al beter ken, Here.
Ons, u kinders, waarvan sommige dominees of teologiestudente is, ons wil vir ewig U studente bly!
Amen!
| Verskaf: Dr Lyzette Hoffman