Dat die COVID-19 pandemie ‘n impak op elke individu gehad het, en steeds het, is alombekend. Ook ons teologiese studente staar uitsonderlike uitdagings in die gesig in hierdie vreemde jaar.
Skielik is die (sorgvrye!) bekende studentelewe verby. Die veelbesproke “nuwe normaal” is ook nou vir die studente ‘n werklikheid. Lesings op die kampus is opgeskort, en onderrig vind aanlyn plaas. Aan beide dosente en studente stel dit geweldige nuwe, uitsonderlike eise.
Ook ondersteuningstrukture, mentorsverhoudings en onderlinge sorg vir mekaar moet nou herbedink word. Menige student beleef juis in hierdie tyd ‘n toenemende behoefte aan kontak en verbondenheid. Student-wees van agter ‘n masker?
Om aan hierdie behoefte te voldoen, en ook ter wille van die voortsetting van die kerklike vorming van die teologiese studente van die NG Kerk, is ‘n retreat vir jaargroepe 1 tot 5 van 21 tot 23 September 2020 by Menuha aangebied. Vir die studente is Menuha vanaf hulle eerstejaar sinoniem met koinonia, groei en vorming.
Die afgelope retreat was nie ‘n uitsondering nie. Daar was baie lag én trane. Oor die weer siens, herontmoetings, aanbiedings, en saamkuier.
Onder leiding van ds Jan Lubbe het die reëlmatige besoeke aan die kapel met die kleinprofeet Jona aan die woord, afgewissel deur gewyde sang, gebed en bepeinsing is ou geloofs-sekerhede weer herbevestig, en het diepgaande groei plaasgevind.
Die studente het weer eens aan die voete van meesters in elkeen van die vier vormingsbane gesit; blootstelling gekry aan mense met passie en kennis.
Deurentyd het ek gedink: die Kerk kan gerus wees oor die opleiding van voornemende predikante. Ons het geroepe en ernstige studente. Individue vol belofte, besig met toerusting om die kerk oppad na môre te lei. Juis omdat hulle roeping so ernstig is.