Deur Andries Gous, DEGNOS
Liewe vriende van DEGNOS
Dankie vir u getrouheid om vir ons en die werk van DEGNOS te bid, u gebede versterk ons en maak dit vir ons moontlik om aan te hou om te werk in die koninkryk van ons Here en ons Meester.
Die afgelope tyd in oënskou:

Video vir Verre Naasten
Saam met Anneke Jagau was ons Sondag en Maandag in die veld om beeldmateriaal te versamel vir ’n bekendstellingsvideo van die werksaamhede van die DEGNOS-kleinskooltjies. Anneke het, in opdrag van Verre Naasten, as een van ons ondersteuners uit die Nederlande gekom om ’n video te maak van die Vroeë-kinderontwikkelingsinisiatief wat die Here gebruik om mense te bereik onder die San-mense. Die video sal as ’n bewusmakingsveldtog in die Nederlande gebruik word om fondse in te samel vir sendingwerk. Bid asseblief dat die video sal spreek tot mense en nog ’n instrument sal wees ter bevordering van die Evangelie.
Ploeg-geskenk aan Aasvoëlnes
Ons het by ds N!aici op Aasvoëlnes, sowat 260 km Noord-Oos van Grootfontein, gekuier en gehoor dat dit met hom en die gemeente goed gaan. Hy het vir ons sy pragtige tuin gewys en vertel van sy planne om met die nuwe ploeg wat geskenk is, die grond om te dolwe om groter lande te plant. Bid asseblief vir ds N!aici se inisiatiewe om die gemeenskap te leer hoe om self kos te produseer.


Die Here is sterk
Vroeg in Desember het die dak van die skool op !Kandu afgewaai. Die sware dak van sowat 800 kg is van die gebou afgewaai en het sowat 120 meter verder te lande gekom op ’n oop stukkie grond tussen die tradisionele huisies wat rondom die skool gebou is. Só maklik kon die dak op ’n huisie of op mense geval het. Selfs binne-in hierdie fratswind-situasie het die Here sy mense beskerm. Dit het die gemeenskap aan die praat – hoe die Here wys hoe sterk Hy is, dat Hy die dak kan afruk en ook sy mense beskerm!
Vlugbal op Aasvoëlnes trek mense na die Here
Om vlugbal te speel is beter as om by die drinkplekke rond te hang. Na afloop van die jeugkampe het ds N!aici die potensiaal van vlugbal ingesien om die jeug weg te lok van die sjebiens. DEGNOS het ’n net en bal voorsien en siedaar: ’n jeugbediening het ontstaan. Ons hoor van die jeug wat versot is op vlugbal speel; net een probleem: die bal is nou pap en hulle het ’n nuwe een nodig. Nie net die jeug nie, maar ook die res van die gemeenskap kom speel nou saam, en ds N!aici gebruik die geleentheid om te evangeliseer. Bid die Here van die oes om hierdie inisiatief te seën en baie in die kraal in te bring.

Tsintsabis se kerkraad reis van plaas tot plaas om te evangeliseer
Tsintsabis is 120 km noord-wes van Grootfontein. Onder leiding van broer Aron Ganseb werk die Wildevy se Tsintsabis-gemeentes vir drie dae lank in die omgewing en besoek buiteposte en plase om mense van die Evangelie-boodskap te vertel. DEGNOS het ’n bakkie beskikbaar gestel en die bakkie lê sowat 750 km af in dié drie dae. Bid dat elke saadjie wat gesaai is, sal groei en sal vrug dra, 30-, 60- of 100-voudig.
Begrotingsweek
Die res van die week het ek, Tracey en Riana aan die voorbereiding vir die volgende boekjaar se begroting bestee. Niks nuut nie – altyd meer om te doen as wat daar geld voor is, maar ons weet ook dat elke keer as die Here ’n plan gegee het, Hy ook deur gewillige harte die fondse beskikbaar gestel het. Bid asseblief vir ons vir onderskeiding en vir die nodige fondse om beskikbaar te wees om aan te gaan met die DEGNOS-werk.
Die groot uitgawes op ons koste-agenda is:
- 4 x Paaskampe – 1 per gemeente
- 5 x Jeugkampe
- 1 x Kerkraadsopleidingskamp (Tsumkwe en Luhebu-Noord)
- Opleiding van onderwysers (4 x vierdag-sessies)
- Opleiding in die Wes-Caprivi-gemeente (6 weke)
- Opleiding in die Tsumkwe-gemeente (2 maande)
- Opleiding in Tsintsabis (2 weke)
- Opleiding in Luhebu-Noord (3 weke)
- Vervoerkoste – altyd vervoerkoste
- Lewensonderhoud van 53 persone (dienswerkers, drywers, onderwysers, jeugwerkers, sendelinge, arbeiders en kantoorpersoneel)
- Gemeenskap-opheffingsprojekte
- Kos vir 450 skoolkinders
Baie dankie aan elkeen vir julle saamstap op die pad en julle gebede. U dra ons en maak ons sterk deur gereeld vir ons te bid.
DEGNOS-groete
| verskaf deur: Andries Gous