Deur Andries Gous, DEGNOS
Liewe vriende van DEGNOS
TOPIA-nuus
Tydens hierdie drie maande lange besoek in Namibië ondersteun ons die DEGNOS-bediening en gaan ons drie gemeentes bedien.
- Eerstens, vir ses weke, die gemeente in Tsumkwe. Die gemeente woon verspreid oor 1 miljoen hektaar met 45 nedersettings. Ons het verlede jaar by twee geleenthede hier opleiding gedoen. Die eerste keer saam as gesin en die tweede keer Johannes alleen.
- Die mense van die gemeente is Boesmans en verstaan óf Afrikaans óf hul eie taal, Ju/hoansi. Party van die mense kan die Afrikaanse Bybel lees, maar meeste kan nie lees nie. Daar is ook nie ’n Bybel in hulle eie taal nie. Die vertalingsproses na ’n klankweergawe van die Bybel in hulle taal, met sy baie klik-klak-geluide, het nog baie werk.
UP-studente
Tydens die week wat verby is, het prof Hannes Knoetze en drr Wicus van der Merwe en Buthle Mpafi by ons besoek afgelê met tien sesdejaar- en twee vyfdejaar-tokkelokke.
Ons het wyd en syd besoek afgelê by gelowiges in hierdie bediening van die Here. Daar is nie net gewerk nie, saans is daar tot laat om die kampvuur gesels en besoek afgelê by die ou landingstrook op Mangetti-duin om die pragtige sterrehemel te bekyk. Ons sê baie dankie vir Alex se hulp.
Gebedsversoek: Vir die studente om altyd te onthou wat God doen in sy Koninkryk hier tussen die San-mense.
Augustino, die uitreikgroep en die slang
In 2023 kuier die uitreikgroep van NG Worcester-Noord by ons en ons besoek die klein Habitat genaamd Danger. Een van die besoekers word op die hart gedruk om die storie van die koperslang te deel uit Numeri 21:4-9 – met die volgende klem: “As iemand wat deur ’n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef”, en dan die verbinding na Christus – wie ook al opkyk na Christus aan die kruis en glo, sal gered word.
Min weet enige van ons dat Augustino, wat sit en luister, ’n paar jaar vantevore gepik is deur ’n slang en dat hy daarna verlam gelaat is. Toe ons daarvan hoor, besluit ons om ons hande op hom te sit en vir hom te bid – dit is nie per toeval dat ons sopas oor slange en God se wonder uit Numeri gelees het nie.
In Februarie van 2025 kom ek weer by Augustino, en tot my verbasing kry ek hom waar hy kort entjies loop. Hierdie keer kry ek vir Augustino waar hy nou ver ente stap en by ou vriende gaan kuier. Augustino was Sondagoggend in die kerk op Mangeti-Duin as getuienis.
Gebedsversoek: Prys die Here vir sy genadige werking in die lewe van Augustino en dat hierdie getuienis van God se reddende krag mense se geloof sal versterk.
Tsumkwe-opleiding
Op Tsumkwe is die eerste vier weke van opleiding agter die rug. Tot dusver het 62 studente die opleiding bygewoon. Die vier tolke en ds Leviet leer terselfdertyd die materiaal so goed dat hulle dit self verder kan aanbied. Hierdie unieke manier van opleiding deur middel van prentjie-stories het die Bybel waarlik binne bereik van elke student gebring. Dankie Johannes en Lizaan vir julle inisiatief en bereidheid om altyd te soek na beter en meer toeganklike maniere om die studente te leer. Geletterdheid is nie ’n hekkie om te oorkom om die Bybel te leer nie, ons kan dit op ander maniere doen!
Eersdaags vertrek die Aucamp-gesin vir opleiding na Mangetti-duin en daarna na Omega in die verre noorde van die land.
Gebedsversoek: Dra hierdie gesin op aan die Here en bid asseblief dat elke student hierdie nuwe kennis sal vat en gaan oordra in die habitatte waar hulle bly.
Pinksterreeks in Suiderhof
Bid asseblief vir my (Andries). Ek sal van Sondag af die kort weergawe van die Vaste Fondamente-reeks preek/aanbied by Suiderhof-gemeente. Bid asseblief saam met my vir oop ore en harte.
DEGNOS-groete.
| verskaf deur: Andries Gous, DEGNOS.

