Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

DEGNOS-dinge

Deur Andries Gous, DEGNOS

Liewe vriende van DEGNOS

Bid vir die Ju//hoansi-volk

Vroeër in November is daar vir drie dae saam met ds Gerrie Cwi en ds Leviet Kxao in die Tsumkwe-gemeente gekuier. Tydens die besoek was daar ook geleentheid om verskeie organisasies te ontmoet wat in die Nyae Nyae-gebied saam met die Ju//hoansi-volk werk. Hoewel almal ’n verbintenis met die gemeenskap het, is daar ’n merkbare verskil in benadering.

Ds, N!aici besig om Goeie Nuus aan n groep Ju//Hoansi mense te vertel op Nhoma Nr. 2.
Die personeel van DEGNOS geniet n vreugdevolle lofsang geleentheid

Humanitêre organisasies en die Evangelie

Die meeste van hierdie instansies identifiseer hulself as humanitêre hulporganisasies wat daarop fokus om die kultuur-erfenis van die Ju//hoansi te bewaar en hulle tradisionele lewenswyse te beskerm. Hoewel dit op die oog af goed en lofwaardig klink, werk sommige van hierdie organisasies aktief teen die verkondiging van die Evangelie.

As deel van hul bewaringsmodel word die San-mense aangemoedig om nie afstand te doen van hul tradisionele geloof nie. Tradisionele aanbiddingspraktyke word onder nuwe benamings beskryf, soos “tradisionele speletjies”, om dit meer aanvaarbaar vir buite-ondersteuners te maak.

Miljoene Namibiese dollar word geskenk – maar soms met die voorwaarde dat Christelike organisasies uitgesluit moet word. In sekere werkswinkels word die gemeenskappe selfs ontmoedig om na die Christelike geloof te draai. Vir mense wat in groot nood leef, is dit moeilik om hierdie hulp te weier wanneer dit saam met kos en finansiële ondersteuning kom.

Stygende druk op gelowiges

Jare reeds is daar teenstand teen die Evangelie-werk, onder andere van sommige lodge-eienaars wat die tradisionele spirituele praktyke as ’n toeriste-aantreklikheid gebruik. Wanneer mense tot geloof in Christus kom, verdwyn hierdie “bemarkingsfoefie”, wat spanning tot gevolg het.

Daar word toenemend subtiele maniere gevind om Christene uit amptelike ruimtes te hou. Ds Gerrie, wat terselfdertyd voorsitter van die Nyae Nyae-bewaringskomitee is, ervaar groot druk. Hy word al meer uitgeskuif en daar word aantygings teen hom gemaak om sy werk en karakter te diskrediteer.

Ons word gevra om vir hierdie broers en susters te bid – mense wat swaar kry omdat hulle die tradisie verlaat het om Jesus te volg.

Bediening wat groei, ten spyte van stryd

Ten spyte van die uitdagings gaan ds Leviet en sy drywer, Tsamkxao, steeds getrou voort met mentorskapbesoeke aan verskeie habitatte. Hierdie inisiatief dra reeds waardevolle vrug.

Ons weet egter dat wanneer die vyand se terrein betree word, daar nie sommer sonder weerstand oorwinning is nie. Daarom onthou ons Paulus se woorde in Efesiërs 6:12:  “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke bose gees in die lug.”

Ons word opnuut herinner om getrou te bly in gebed. Bid asseblief vir die drie toordokters op Nhoma, sowel as vir ds Leviet, ds Gerrie, ds N!aici en hul families.

Dankbaarheid

Ons betuig opregte dank aan die eienaars van Tsumkwe Lodge vir hul ondersteuning van die Evangelie-werk. Hulle is nie deel van dié wat die kerk teenstaan nie.

Ook ’n hartlike dankie aan almal wat bemoedigende boodskappe gestuur het. ’n Broer het onlangs die verhaal van koning Josafat (2 Kronieke 20) met ons gedeel – ’n herinnering dat God self oorwinning bring, selfs wanneer die uitdaging onoorkombaar lyk. Die Here bly getrou.

Personeelkonferensie

Op Saterdag 22 November 2025 het die eerste groot personeelkonferensie plaasgevind en tot Dinsdagoggend geduur, waarna al die personeel weer na hul onderskeie gemeenskappe terugvervoer is. In totaal het 57 personeellede van DEGNOS en die vier gemeentes saamgekom om oor die bediening te gesels. Bid asseblief vir die hele span: Onderwysers, predikante, jeugwerkers, ondersteuningspersoneel, drywers en bestuur vir wysheid in 2026.

Die volledige DEGNOS-span soos saamgestel in 2025.
Die volledige DEGNOS-span soos saamgestel in 2025.

’n Geseënde tyd van eenheid en visie

Die afgelope paar dae was werklik ’n geseënde tyd vir almal betrokke. Vir die eerste keer het elkeen saam in een saal vergader—’n familie in Christus wat gehoor het hoe elke persoon, gemeente en bediening deel vorm van die groter missie van DEGNOS. Hierdie saamwees het nie net kennis gebring nie, maar ook ’n hernude bewustheid van ons kollektiewe roeping.

Die Bybeltekste wat ons deur hierdie tyd geanker het, was Esegiël 47, Romeine 12 en 1 Korintiërs 12. Saam herinner dit ons dat ons een liggaam is, met een doel: om op pad na 2026 lewe te bring waar daar dood en gebrokenheid heers.

In ’n atmosfeer van hoop en afwagting is daar gedroom oor praktiese maniere waarop ons die vars Water uit die Troonkamer van God kan laat vloei na plekke waar die lewe stagneer of versmoor. Elkeen van die gemeentes en skole het hul visie vir 2026 gedeel, wat ’n prentjie geskets het van ’n netwerk van gelowiges wat met oortuiging en doelgerigtheid vorentoe beweeg.

Nou bid ons vir die Here se genade en leiding om hierdie drome vir Sy Koninkryk werklikheid te maak—dat die water sal vloei, dat lewe sal herstel, en dat ons gehoorsaam sal wees aan die roepstem van ons Here.

DEGNOS-groete

 | Foto’s is deur Andries Gous, DEGNOS, verskaf.