Deur Andries Gous, DEGNOS
Liewe vriende van DEGNOS
Jeugbediening in Luhebu-Noord-gemeente is aan die brand
Sedert die 1ste Junie is Mishe Matteus voltyds deur DEGNOS aangestel as die jeugwerker vir die Luhebu-Noord-gemeente. Mishe se rol is om die jongmense te bedien wat ná die jeugkampe besluit het dat hulle die Here Jesus wil volg. Mishe was die afgelope week in die Omatako wyksgemeente (deel van die Luhebu-Noord-gemeente) waar hy met 60 jongmense tyd deurgebring het in hulle strewe om spoorsnyers te wees wat Jesus se spore volg.
| Verskaf deur: Andries Gous, DEGNOS
Kanovlei se kinderbediening
Broer Visser Njamba vertel dat daar ’n groep van 44 kinders bymekaargekom het om die Evangelieboodskap te hoor, Bybelstories te leer en speletjies te speel op Kanovlei. Kanovlei is ook een van die wyksgemeentes van die Luhebu-Noord-gemeente. Dank asseblief saam met ons die Here vir die wonderlike nuwe lewe wat daar in hierdie gemeente se kinders is, en bid asseblief dat hierdie nuwe lewe sal aansteek na die grootmense van die !Kung-gemeenskap en alle ander volke in hierdie area.
Ds Johannes Aucamp doen opleiding op Mangetti Duin
Die Aucamp-familie het die laaste week van hul drie maande lange besoek in Namibië in Mangetti Duin deurgebring waar ’n hele aantal van die gemeenteleiers opleiding ontvang het in praktiese dissipelskap: hulle het onder andere geleer om beter te verstaan hoe die bril waardeur ons na die wêreld kyk, ons eie wêreldbeskouing beïnvloed. Ons by DEGNOS sê baie dankie aan Johannes, Lizaan, Louwrens, Arina en Lizane vir die opoffering wat hulle gemaak het om vir die laaste drie aande te kom help met opleiding hier in die noord-ooste van Namibië.
Suiderhof Jeug-uitreik
Ons sê baie dankie aan Suiderhof-gemeente wat onder leiding van tannie Anita weer ’n kuiergroep gebring het om die Luhebu-Noord-gemeente te besoek. Dominees Amon en Isak en ons getroue drywer, Jesaja, het hulle vir die week onthaal en meer gewys van die werk wat die Luhebu-Noord-gemeente doen in die Koninkryk van ons Here en Meester.
Andries en Tracey in Suid-Afrika
Ons is van 21 Julie af in Ramsgate in Suid-Afrika waar Tracey na haar vader omsien wat terminaal siek is aan kanker. Bid asseblief saam met ons vir krag en vertroosting in hierdie baie moeilike tyd.
DEGNOS-groete
| Foto’s (verskaf): Deur Andries Gous



