Ek wonder soms wat die wêreld sou wees sonder mense? In baie van hierdie “zombie” films is daar een of meer mense (humans) wat een of ander aanslag oorleef, en dan op mekaar aangewese is vir oorlewing. Dit speel dan gewoonlik af teen die agtergrond van ‘n “oormag” wat konstant ‘n aanslag loods teen die oorlewendes. Ek wil nie hierdie as analogie vir die Covid-19 pandemie gebruik nie maar soms het ek, in persoon, iets beleef van ‘n oormag, mense in nood en ons wat aangewese is op mekaar.
Met die uitbreek van die pandemie het talle mense, wat reeds op die broodlyn geleef het, skielik geskuif na ‘n lewe onder die broodlyn. Hier en daar sien mens dat skrywers ons herinner dat Covid-19 eintlik net die reeds bestaande breeklyne (fault lines) in ons samelewing kom vergroot het en selfs tot skeuring gebring het. Samelewings-foutlyne soos geweld, werkloosheid, swak ekonomiese groei en armoede het ongelukkig tot uitbarsting gekom tydens Covid-19. Iets amper van ‘n oormag wat baie maklik ‘n situasie skep van hopeloosheid.
As kinders van die Here Jesus weet en verstaan ons dat ons die hande en voete van die Here Jesus is. Ons weet dat liefde tot God ook liefde tot ander insluit op ‘n praktiese vlak. Dit was ons belewenis met die uitdeel van mieliemeel tydens die Covid-19 pandemie. Mense se liefde vir die Here Jesus en hulle liefde vir ander, het praktiese hande en voete gekry deur die uitdeel van mieliemeel. In die Vrystaat is mieliemeel ‘n kardinale deel van mense se daaglikse dieet. Deur die verskaffing van mieliemeel aan gesinne, maak jy ‘n bietjie van kosbare finansies los om bv. data te koop vir die kinders se skoolwerk.
Dit was die rasionele denke agter die mieliemeelprojek wat die Sinode van die Vrystaat in samewerking met georganiseerde Landbou, CLF, Reformed Initiative for Community Development en gemeentes geloods het. Dit is moeilik om te bepaal hoeveel meel uitgedeel is. Eintlik is dit ook nie ter sake nie. Wat ons wel beleef het, was dat daar oral in gemeenskappe mense besig was, en is, om mieliemeel uit te deel. Donateurs het geld of mielies gegee en dit is weer deur gemeentes, organisasies en individue versprei daar waar die “oormag” van nood en hopeloosheid die grootste was.
Hiermee ons dank aan elkeen wat deelgeneem het, geskenk het en uitgedeel het. Die skeure is steeds nie toe nie, die foutlyne is steeds daar en in baie gevalle word dit groter. Dus is ons taak nie voltooi en afgehandel nie. Ons bly steeds besig om meel te versamel en uit te deel. Neem gerus deel! Die foto’s wat ons insluit vertel maar net die verhaal van die meel wat via die Sinodale kantoor versprei is en reflekteer nie wat in gemeentes gebeur het nie. Ons bly op mekaar aangewese. Die wêreld is gevul met mense, sommige wat baie het (meer as genoeg) en ander wat min het (onder wat as minimum gereken kan word). Die hoop in Christus Jesus is daarin geleë dat ons daar is vir mekaar. Ons is nie alleen teen ‘n oormag nie. As ons deel wat ons het, is die beeld van die liefdevolle God net soveel helderder!
Dr Nico Mostert | Namens Vennote in Getuienis en Bedieningsbegeleiding