Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

DEGNOS-dinge

Deur Andries Gous, DEGNOS

Liewe vriende van DEGNOS

Ons nuusberiggewing was vir ’n rukkie uit die normale ritme nadat die hele kantoor onder ’n verkouevirus deurgeloop het. Ons is dankbaar dat almal weer beter is en dat die Here ons deur hierdie tyd gedra het.

Getuienis

 

Een van die groot voorregte van die werk by DEGNOS is om te sien hoe die Here mense se lewens deur opleiding en bediening verander.

Studente van Groep 1 vertel hoe die Leraarsopleiding hulle geestelike lewe verdiep en ook na hulle gesinne en gemeenskappe deurvloei. Veral die opleiding oor gebed en geestelike groei het ’n besondere invloed.

Een student, mev Dominga Chiwoko, wat met kanker worstel, se getuienis gryp ons aan: “My pyn is my roeping.”

Bid asseblief vir Dominga.

Ons hoor ook hoe die Rentmeesterskapprogram lewens en gemeenskappe raak. Dit is ’n voorreg om te sien hoe gesinne verander, gemeenskappe groei en studente self geestelik verdiep.

Prys saam met ons die Here vir sy werk en hou asseblief aan om vir ons studente en lektore te bid.

Nuus in kort

 

  • Student Mirriam Shotty het tydens die kursus in kraam gegaan en ’n pragtige babaseuntjie is gebore. Sy het geweet haar kraamtyd is naby, maar wou haar opleiding nie misloop nie!
  • Kerkraadsvergaderings is op Tsumkwe, Mangetti Duin en Tsintsabis gehou.
  • ’n Uitreikgroep van NG Kerk Outeniqualand is ontvang.
  • Opleidingsgroep 1 het saam met ds Lucas hulle vyfde opleidingsblok voltooi.
  • Die nuwe Kerkwinkel op Omatako vorder goed en die sonkragstelsel is reeds geïnstalleer.
  • Smith Muyatwa het Blok 4-opleiding vir die Wes-Caprivi-studente voltooi.
  • Die klein vragmotor wat deur Verre Naasten moontlik gemaak is, help reeds om logistieke koste aansienlik te verminder.
  • Riana en Christiaan het 12 DEGNOS ECD-skooltjies besoek om kos af te lewer en onderwysers te mentor.
  • ’n Ringsitting is op Otavi gehou.
  • Ons jaareindbesoekprogram aan ondersteuners in Suid-Afrika word gefinaliseer.

Die !Kung reik uit na Suid-Afrika

Gemeenteleiers van Luhebu-Noord op sending na Platfontein

Veertien gemeenteleiers van die Luhebu-Noord-gemeente in die noordooste van Namibië het onder leiding van ds Jafet Moyo na Platfontein buite Kimberley vertrek om die plaaslike !Kung-gemeenskap en gemeente te ontmoet.

Die besoek spruit uit gesprekke tussen DEGNOS, die Sendingkantoor van die Vrystaatse Sinode en die Noord-Kaapse Sinode en is mede-moontlik gemaak deur ondersteuning van die NG Kerk Vrystaat.

“Ons wil ons mense op Platfontein gaan help om self kerk te wees,” sê die groep se leiers.

’n Volk wat deur oorlog verdeel is

 

Die geskiedenis van die !Kung-gemeenskappe in Namibië en Suid-Afrika is diep verweef. Ná jare van oorlog en politieke omwenteling het sommige !Kung-families in Namibië agtergebly, terwyl ander saam met die Suid-Afrikaanse Weermag na Suid-Afrika verhuis en hulle uiteindelik by Platfontein gevestig het.

Die besoek is daarom veel meer as ’n konferensie. Dit bied aan twee gemeenskappe, wat dekades gelede van mekaar geskei is, die geleentheid om weer kontak te maak en saam oor die toekoms te dink. Die groep uit Luhebu-Noord ontmoet kerkleiers van die !Kung Alfa-gemeente op Platfontein. Gesprekke fokus onder meer op hoe !Kung-gemeentes ’n sterk, eiesoortige kerkidentiteit binne die breër verband van die NG Kerk kan ontwikkel.

Waar die strome van die Evangelie vloei, kan daar ook genesing en herstel kom.

’n Kerk wat na buite kyk

 

Hierdie uitreik herinner ons dat die kerk nie net na binne leef nie. Gemeentes wat self nog op pad is na groter selfstandigheid, kan reeds vir ander tot seën wees. Die groep sien die reis as ’n praktiese uitlewing van Jesus se opdrag: “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies.”

Bid saam vir ds Jafet Moyo en die gemeenteleiers vir Alex wat die groep vervoer, en vir die gesprekke op Platfontein. Bid dat die Here hierdie “vuur aansteek”-geleentheid ryklik sal seën en dat dit groot geestelike vrug sal dra.

Getuienis uit die Standplaas-leraarsopleiding

 

Dit is ’n besondere voorreg om met die studente te werk – maar taal bly een van die grootste uitdagings. Sommige studente kan Afrikaans en Engels gemaklik lees, skryf en praat en help om die inhoud in hulle moedertaal oor te dra. Ander worstel om in ’n vreemde taal te leer en te skryf. Tog is dit juis hier waar ons telkens iets besonders sien.

Een student sit dikwels op die punt van haar stoel, vooroor geleun en intens gefokus om soveel moontlik te verstaan. Wanneer sy klasopening doen, is haar toepassing eenvoudig: “Nou kom ons gaan doen dit met die hulp van ons Here.”

’n Ander student het met trane gesê: “As die Here my tog maar net kan help om die Bybel te lees.”

Ons is dankbaar vir opleiers soos ds Amon Petrus en Smith, wat studente ook in hulle moedertaal kan ondersteun. Die Here gebruik mense om mekaar te help. Hy gee aan sommige die vermoë om tale te verstaan en te vertaal, en aan ander die volharding om aan te hou leer. Bo alles werk Hy deur sy Woord in mense se lewens.

Ná drie maande keer ek terug na Suid-Afrika. Ek sien uit na my geliefdes, maar neem met ’n swaar hart afskeid. Ek het probeer om die studente te help om die Bybel beter te ken, te verstaan en in hulle eie omstandighede uit te leef. Tog stuur die Here my terug met die woorde van daardie nederige student: “Nou kom ons gaan doen dit met die hulp van ons Here.”

Miskien sal ek self ’n bietjie meer liefdevol teenoor my vrou wees, nader aan my kinders leef en meer gehoorsaam aan ons Here wees. Ons dank die Here vir elke student, lektor en persoon wat deel is van hierdie bediening.

DEGNOS is nie bloot besig met opleiding, bouwerk, logistiek of gemeenskapsontwikkeling nie. Ons glo dat die Here deur dit alles mense toerus, gemeentes versterk en Sy Koninkryk laat groei.

Saam werk ons vir een Koning in een Koninkryk.

 

DEGNOS-groete

Dominga se getuienis - "My pyn is my roepping". Bid vir Dominga, een van die studente wat worstel met kanker.
Dominga se getuienis - "My pyn is my roepping". Bid vir Dominga, een van die studente wat worstel met kanker.
Ons eerst babatjie wat tydens die opleiding gebore is - Veels geluk Mamma Miriam en Oupa Shotty.
Ons eerst babatjie wat tydens die opleiding gebore is - Veels geluk Mamma Miriam en Oupa Shotty.
Rev. Lucas van Vuuren as part of the Degnos Training. Here he is blessing late Rev. Josef Gevers, with late Rev Hendrik van Zyl and late Rev. Koos Engelbrecht.
Rev. Lucas van Vuuren as part of the Degnos Training. Here he is blessing late Rev. Josef Gevers, with late Rev Hendrik van Zyl and late Rev. Koos Engelbrecht.

 | Foto’s is deur Andries Gous, DEGNOS, verskaf.