Skip to content Skip to footer

DEGNOS-dinge

Deur Andries Gous, DEGNOS

Liewe vriende van DEGNOS

’n Baie spesiale gebedsversoek vir die !Kung Tradisionele Owerheid

Oor die afgelope klompie jare was daar baie spanning binne die N#a-Jaqna-bewaringsgebied met vreemdelinge wat eenvoudig op onwettige wyses grond wederregtelik by die tradisionele hoofman koop. Dit bring groot spanning in die gemeenskap en het ook al tot insidente van lewensverlies gelei as gevolg van tradisionele kosversamelingsgronde wat toegekamp is.

Hierdie situasie is ondraaglik vir die !Kung-gemeenskappe van die Omatako-vallei.

Die gemeente onder leiding van ds Jafet Moyo het nou ’n afspraak gemaak met die tradisionele hoofman (’n vrou) om haar te gaan sien. Hulle doel is om ook aan haar die Evangelie te bring, want hulle glo daar is net een manier waarop hierdie situasie kan verbeter en dit is wanneer die Here mense se harte verander.

Hulle vra voorbidding vir hierdie ontmoeting – nie om gehoor te word nie, maar vir die redding van Chief Ilonie Arnold. Mag die Here kragtig werk deur hierdie pragtige groep gelowiges op Omatako. Bid vir ds Jafet vir wysheid en onderskeidingsvermoë, en bid dat Chief Ilonie Arnold die lewende Jesus sal ontmoet en Hom sal volg.

Pinksterreeks – Suiderhof

Ons het ’n baie geseënde Pinksterreeks gehad as gaste by Suiderhof-gemeente. Saam het ons op die Bloedspoor geloop, soekend na ons Here Jesus se spore in die Ou Testament.

Ontvang twee voertuie

Kevin en Cami Zwart, twee sendelinge van Africa Inland Mission, verlaat Namibië en ons het die geleentheid gekry om hul twee voertuie by hulle oor te koop. Die Hilux-bakkie sal uiteindelik sy pad vind na ds Isak en Jesaja vir gebruik in die Luhebu-Noord-gemeente, waar dit die voertuig wat in Februarie in ’n ongeluk was, sal vervang.

Die tweede voertuig is ’n klein Honda Fit-sedan, wat binnekort die DEGNOS-voertuig sal word vir gebruik in die Wes-Caprivi. Dit kan gebeur sodra Smith sy bestuurdersopleiding voltooi het en in besit is van ’n geldige rybewys.

Ds Leviet se pastorie op Tsumkwe

Die nuwe sinkhuis vir ds Leviet en mev Marietjie Kxao is klaar opgerig op Tsumkwe en die gesin sal binnekort in die woning intrek. Ds Leviet sal eersdaags sy bediening as mentorleraar vir die Tsumkwe-gemeente begin. Sy verantwoordelikheid sal die begeleiding van die naastenby 70 Habitat- geestelike leiers behels wat oor die laaste twee jaar in Tsumkwe opgelei is.

As die Here wil, sal ons eersdaags ’n bestuurder en ook ’n bakkie beskikbaar hê in die Tsumkwe-gemeente.

Bid asseblief vir ds Leviet se nuwe bedieningsfase.

Mishe trek na Mangetti Duin as jeugwerker

Mishe Matteus se huis op Mangetti Duin is ook klaar gebou en amper reg vir intrek. Alex en Attie sal die vensters insit, dan is hierdie huis ook reg vir ingebruikneming. Mishe is aangestel as die jeugwerker vir die Luhebu-Noord-gemeente waar die jeugbediening baie vinnig groei.

Bid asseblief vir Mishe se bediening.

TOPIA (Training of Pastors in Africa) – Opleiding op Tsumkwe loop ten einde

Ds Johannes Aucamp en sy familie is nog besig met opleiding in Tsumkwe tot volgende Vrydag, wanneer hulle sal oorskuif na Mangetti Duin en daarna na Omega in die Caprivi vir opleiding van leiers uit die omgewing. Loof saam met ons die Here vir die wonderlike resultate van die afgelope twee jaar se opleiding deur ds Johannes en ook ds Lucas van Vuuren.

Alex en die instandhoudingspan maak ’n vinnige draai in Boesmanland

Kos moet afgelewer word vir Imago Dei by !Ai Primary School, proviand moet uitgeneem word vir die opleiding op Tsumkwe en Mangetti Duin – want honger mae luister nie mooi in die klas nie.

’N Wiellaer op ’n sleepwa van ds Johannes Aucamp moet vervang word op Tsumkwe, deurslotte moet ingesit word vir Leviet en Mishe se huise, en Mishe se huis se vensterglas moet ingesit word.

Om te ry is duur, veral as so ’n retoer-trippie net meer as 650 km vir die dag is. Daarom probeer ons soveel vlieë moontlik met een klap tref. Dis net jammer die dae is nou so kort.

DEGNOS-groete

Mishe se huis op Manghetti Duin is klaar gebou.

 | verskaf deur:  Andries Gous, DEGNOS