Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Degnos

Deur Andries Gous, DEGNOS

Liewe vriende van DEGNOS

Ons staan met ons voet in die stiebeuel vir ons terugvoerbesoek aan die Vrystaatse gemeentes wat om die draai lê.

Besoek aan die Vrystaat

Ek en Tracey het Woensdag 26 Februarie vertrek vir ’n vinnige besoek aan die Vrystaat om ons ondersteuningsgemeentes daar te gaan vertel van die werk wat die Here besig is om te doen in die verre noordooste van Namibië.

Ons sal besoek bring aan die NG gemeentes Fichardtpark, Heuwelsig, Heuwelkruin en Aandbloem, en dan sommer nog ’n klomp informele gesprekke by bidure en so meer. As jy in die Bloemfontein-omgewing is, hoop ek ons loop mekaar iewers raak! Bid asseblief vir ons reis en dat ons ware getuienis sal wees vir ons Koning.

!Kandu se skool kry ‘n nuwe dak

Attie en Willem, ons twee getroue medewerkers in die instandhoudingspan, maak goeie vordering op !Kandu waar die gebou wat deur ’n stormwind beskadig is, se mure herstel is en ’n nuwe dak en afdak opgerig is. Ons sê baie dankie aan ons donateurs, want sonder julle hulp sou ons nooit die materiaal kon aanskaf en in die lewensmiddele van die bouspan kon voorsien nie. Deur jou bydraes maak jy dit vir ons moontlik om in ons Koning Jesus se koninkryk te werk.

 | verskaf deur: Andries Gous

Die skool is amper weer bruikbaar. Rentmeesterskap vra dat ons alles na die beste van ons vermoë doen. Die skool se dak is nou aan staalpilare in die grond geanker. Terselfdertyd is daar sommer ’n afdak ook bygevoeg om skadu aan die kleintjies te verskaf wanneer hulle buite speel.

 | verskaf deur: Andries Gous

Op !Kandu maak mnr Johannes gebruik van die AGS-kerkie as tydelike klaskamer nadat die wind vroeg in Desember die skooltjie se dak afgewaai het tydens ’n swaar reënstorm.

Evangelisasie-opleiding vir DEGNOS-personeel

Ons spring weg met ’n kort kursus in praktiese evangelisasie vir al die voltydse personeel van DEGNOS op Grootfontein. Hier het ons mense uit verskillende agtergronde, kulture, tale, geletterdheid, vermoëns en gawes, maar almal met een gemeenskaplike doel – om te plant en te ploeg in die tuin van ons Here. Bid asseblief dat ons by mekaar sal leer, en deur God selfgeleer sal word, hoe ons mense kan bereik met die Evangelieboodskap en kan help met die insameling van die oes.

Baie dankie, Suiderhof

Alex was die afgelope naweek in Windhoek en het vir ons ’n hele bakkievrag vol skenkings opgelaai wat deur Suiderhof-gemeente bymekaargemaak is. Baie dankie aan die Suiderhof-gemeente vir hulle ondersteuning aan die Koningskinders onder die San-mense in die noordooste van Namibië.