Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Dag van Ekologiese Skuld – “Wanneer ons verbruik groter word as ons dankbaarheid”

Deur Mariëtte Odendaal

Ons leef in ’n kultuur van “meer is beter”, maar as navolgers van Christus moet ons leef met die wete “genoeg is ’n seën”. Elke klein daad van sorg – minder plastiek, minder mors, meer bewaring – word ’n daad van hoop.

Op 30 Julie is daar wêreldwyd gekyk na hoe ons as mensdom die ekologiese verbruik van die aarde se vermoë om te herstel, oorskry. In Engels staan dit bekend as Earth Overshoot Day (Dag van Ekologiese Oorskryding).

 

As uitvloeisel daarvan word daar op 22 Augustus wêreldwyd diep nagedink oor ons ekologiese skuld aan die aarde (Ecological Debt Day) — hoe die mensdom se jaarlikse verbruik van natuurlike hulpbronne die aarde se ekologiese vermoë oorskry om dit weer te herstel, met ander woorde: vanaf hierdie dag leef ons op “krediet” teenoor die skepping.

 

Dit is ’n ongemaklike waarheid, maar ook van kardinale belang om diep na te dink oor wat dit impliseer, want vir gelowiges is ekologie nooit net ’n wetenskaplike saak nie; dit is ’n geloofsdaad. Die manier waarop ons die aarde gebruik, demonstreer iets van die manier waarop ons God se gawes respekteer.

 

Wat beteken dit vir ons geloof?

Rentmeesterskap is eerstens nie ’n opsie nie — dit is ’n roeping. Genesis 2:15 sê dat God die mens in die tuin geplaas het “om dit te bewerk en te bewaak”.

 

Tweedens is ons is nie eienaars nie, maar bewakers. Wanneer die wêreld se verbruik die aarde se kapasiteit oorskry, wys dit dat ons vergeet het aan wie die aarde werklik behoort.

 

Oormatige verbruik is ’n geestelike probleem

Die Dag van Ekologiese Skuld herinner ons daaraan dat verbruik nie net ’n ekonomiese kwessie is nie, maar ook dankbaarheid, tevredenheid en eenvoud insluit — die kern van geestelike volwassenheid.

 

Ons leef in ’n kultuur van “meer is beter”, maar as navolgers van Christus moet ons leef met die wete “genoeg is ’n seën”. Elke klein daad van sorg – minder plastiek, minder mors, meer bewaring – word ’n daad van hoop.

 

Wat kan ons as gemeentes doen?

  • Begin klein: kies ’n Sondag waar lidmate hul plastiekverbruik vir ’n week monitor.
  • Plant byvoorbeeld ’n boom, ’n struik, ’n inheemse plant – ’n teken van herstel.
  • Leer saam: ’n kort gesprek of Bybelstudie oor rentmeesterskap.
  • Ondersteun plaaslik: koop by boere, herwin, verminder afval by kerkgeleenthede.
  • Bid saam: vir reën, vir boere, vir gemeenskappe wat onder droogte ly.

 

Ten slotte

Die Dag van Ekologiese Skuld is nie ’n dag van skuldgevoel nie; dit is ’n dag van herinnering:

  • God het die aarde goed gemaak.
  • Hy het dit aan ons toevertrou.
  • Hy nooi ons om deel te wees van die genesing daarvan.
  • Elke keuse om minder te mors, elke oomblik van dankbaarheid — dit is hoe ons die ekologie stukkie vir stukkie weer help herstel.