Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Om hande te vat oor grense heen: Toerusting vir die NGKA in Lesotho

Deur Mariëtte Odendaal

“Die visie is om die kerk te bemagtig. Daar is ’n groot aantal gemeentes en gebedshuise, en die fokus is om die leiers van hierdie gemeenskappe toe te rus …”

Ds Frans du Toit
Predikant: Hoopstad

Oor die naweek van 8 en 9 Augustus het daar iets besonders gebeur in Mafeteng, suid van Maseru, hoofstad van Lesotho. Vyftig kerkraadslede en Sondagskoolonderwysers van sewe NG Kerk in Afrika (NGKA-)gemeentes in Lesotho het van heinde en verre daarheen gereis – nie omdat hulle moes nie, maar omdat hulle ’n diep behoefte het aan opleiding en geestelike groei. Daar het hulle di Frans du Toit en Victor Cloete, predikante van die NG Gemeente Hoopstad, asook vir dr Herman Steyn, die koördineerder van Veritas in die Vrystaat, met ope arms ontvang. Die atmosfeer was hartlik, verwelkomend en vol afwagting.

Ntate Tumelo Raboletsi, sekretaris van die Ringskommissie NGKA Lesotho, som dit treffend op: “The training had a profound impact on our leadership … tools that are already strengthening how we shepherd our congregations.”

’n Kerk in ’n nuwe seisoen

Die NGKA Lesotho staan op die drumpel van ’n nuwe fase. Waar sendelinge vroeër die gemeentes bedien het, waarna daar ’n oorgangstyd was waar NGKA-predikante gemeentes bedien het, dra twee jong Sotho-predikante – di Tshepang Ts’oeu en Ramokhele Mokonenyane – nou die verantwoordelikheid vir die hele ring. Dit is ’n groot taak, maar ook ’n groot geleentheid: die geleentheid om plaaslike leiers te bemagtig om die bediening te help dra.

En dit is presies wat hierdie toerustingsnaweek gedoen het.

Toerusting wat die bediening verdiep

Veritas fokus hoofsaaklik op Bybelinterpretasie en bied omvattende opleiding vir kerkleiers aan. Dit is ’n praktiese model wat in feitlik enige konteks kan werk omdat dit nie groot hulpbronne vereis nie.

Dr Herman Steyn het die Veritas-kursus aan die groep verduidelik en hoe dit prakties en konteksvriendelik kan help om die Bybel te interpreteer. Die deelnemers was aangenaam verras en opgewonde hieroor, nie net oor die inhoud nie, maar veral oor die moontlikheid om die volledige kursus later te kan voltooi en sodoende hul gemeentes nog beter te kan bedien.

Die opleidingspan het met ’n evangelisasiemodel begin: ’n eenvoudige, maar kragtige hulpmiddel om die kern van die evangelie helder te kan verwoord. Daarna het hulle praktiese riglyne gedeel oor huisbesoek, verhoudingsbou en die oordra van die evangelie in die alledaagse lewe.

Omdat baie NGKA-gemeentes se Sondagbediening deur kerkraadslede gehanteer word, is Bybelinterpretasie van kardinale belang. Die Vertitas-opleiding het hulle toegerus om die Woord met groter insig en sekerheid te bedien; iets wat van onskatbare waarde is.

Die hart van die bediening: Bybel, kinders en roeping

Op Sondag het die fokus verskuif na Sondagskoolonderwysers. Die opleiding het die wêreld van die kind aan die groep verduidelik en hulle gehelp om dit beter te verstaan – ’n wêreld waar bediening holisties moet wees: fisiek, emosioneel, sosiaal en geestelik.

Om hierdie konsep prakties toe te pas is die diens toe in die vorm van ’n Kinderdiens aangebied. Sodoende kon daar uitgebeeld word hoe kinders nie net die kerk van môre is nie, maar ook die kerk van vandag.

Die impak van die opleiding op die aanbieders

“Die manier waarop almal so entoesiasties deelgeneem het, het ons as aanbieders diep geraak,” vertel Frans. “Dit was duidelik dat hulle graag meer wou leer en hulleself beter wou toerus vir die werk van die kerk en die Koninkryk. Hulle toewyding was vir ons aansteeklik.”

Vir Victor Cloete het hierdie ervaring ook baie diep geraak: “Die grootste seën was die mense wat daar was. Dit was asof hulle elke druppel opleiding wat hulle kon kry, wou inneem. Lesotho het my herinner aan die vreugde van mense wat honger is vir God, vir sy Woord en vir geestelike groei. Mag dit ook iets in ons wakker maak – ’n diep behoefte aan die Lewende Water – maar ook aan ons ’n Lewende Dors gee.”

’n Pad wat ons saam stap

“Hierdie was die tweede toerustingsgeleentheid van die jaar,” vertel Frans, “en die begeerte is dat dit ’n deurlopende proses sal word – ’n pad van groei wat ons saam met die NGKA wil stap; ’n toonbeeld van ons praktiese eenheid in Christus oor kultuurgrense heen.”

Ntate Tumelo Raboletsi sluit af: “This partnership has deepened the bond between our churches … We are deeply thankful to the DRC for walking alongside us.”

Vir meer inligting kan ds Frans du Toit gekontak word by franswanna@gmail.com

Foto’s verskaf deur ds Frans du Toit:

Ds Victor Cloete demonsteer Minute to win it-speletjies wat in kinderbyeenkomste gespeel kan word
Ds Victor Cloete demonsteer Minute to win it-speletjies wat in kinderbyeenkomste gespeel kan word
Herman Steyn en Frans du Toit besig om die Veritas-metode van Bybel-uitleg te demonstreer
Herman Steyn en Frans du Toit besig om die Veritas-metode van Bybel-uitleg te demonstreer
Kerkraadslede en Sondagskool onderwysers van NGKA gemeentes regoor Lesotho wat die tweedag-werkswinkel kom meemaak het. Links staan Herman Steyn van Veritas
Kerkraadslede en Sondagskool onderwysers van NGKA gemeentes regoor Lesotho wat die tweedag-werkswinkel kom meemaak het. Links staan Herman Steyn van Veritas