Deur Mariëtte Odendaal
“Die hoogtepunt was veral drie nuwe bekeerlinge wat ons die voorreg gehad het om te kon doop. Dit was niks anders as Goddelike wonderwerke van genade nie!”
Ds Tobie de Wet
Missie Japan/RCJ
Wat is nou lekkerder as om deur ’n foto-album te blaai waarin onvergeetlike oomblikke vasgevang is, of om tydens vakansies of naweke saam met jou vriende of kinders video-speletjies te speel? Jy het heel waarskynlik ’n digitale Canon-kamera gebruik om daardie onvergeetlike oomblikke vas te vang en waarskynlik ’n Sony PlayStation op jou Panasonic TV-skerm gebruik om die videospeletjies mee te speel. Buite in die oprit staan dalk ’n praktiese Isuzu-bakkie of spoggerige Lexus-motor – alles produkte wat in Japan vervaardig word.
As jy weer een van hierdie of enige ander Japannees-vervaardigde produk gebruik, kan jy gerus ’n oomblik stilstaan en daaraan dink dat daar vanjaar al vir tagtig jaar ’n sterk band tussen ons kerk en die Gereformeerde Kerk in Japan, die RCJ (Reformed Church in Japan), bestaan.
Die afgelope vyftig jaar het daar, danksy Missie Japan, ’n baie hegte susterskerkvennootskap en sendingsamewerkingsooreenkoms tussen die RCJ en die NG Kerk ontstaan. Op die oomblik vervul dr Stéphan van der Watt en sy vrou, Carina, hierdie rol waar hulle in Kobe, Japan, as permanente en langtermyn-sendelinge namens ons Kerk en Missie Japan saam met die RCJ werk. Stéphan is tans ’n voltydse dosent verbonde aan die Kobe Reformed Theological Seminary waar hy missiologie en pastorale teologie doseer. Hulle ondersteun ook plaaslike RCJ-gemeentes en hy is in 2019 as predikant van die Westelike Ring aangestel.
Die RCJ bestaan uit ongeveer 10 000 lidmate in 140 gemeentes waarvan 40 nie ’n voltydse predikant het nie.
Daarom was dit ’n groot uitkoms toe ds Tobie de Wet en sy vrou, Annalie, in 2023, na tien jaar van aftrede in Swellendam, deur Missie Japan genader is om weer as sendelinge in Japan te gaan werk. (Lees meer daaroor hier.)
Nadat die sendingsamewerkingsooreenkoms tussen die RCJ en die NG Kerk onlangs in Wellington vir ’n verdere drie jaar met die De Wets verleng is, het ons met hulle gaan gesels om meer uit te vind.
Tobie, vertel kortliks wat die fokus die afgelope drie jaar in jul Niihama-gemeente was.
“Na tien jaar van aftrede het daar onverwags ’n deur oopgegaan om as sendelinge na Japan terug te keer. Missie Japan en die Ring van Shikoku het ons in 2023 na Niihama Sendingpos gestuur wat toe alreeds vir ’n paar jaar vakant was en nie ’n voltydse leraar kon bekostig nie.
“Met ons aankoms was daar net vier ouer vrouelidmate wat die erediens bygewoon het. Ons fokus was aanvanklik op die pastorale versorging van hierdie lidmate en nog ’n gesin wat vir jare nie meer die eredienste bygewoon het nie. Ons het later deur middel van uitnodiging na koinonia-etes ook op mense buite die binnekring begin fokus.
“’n Kernaspek van my bediening was die Sondag-eredienste wat ek basies elke Sondag volledig moes waarneem en my in Japannees moes voorberei; iets wat van kardinale belang is, aangesien die lidmate nie Engels verstaan nie.
“Annalie was elke Sondag alleen verantwoordelik vir die liefdesmaaltye wat ’n baie belangrike geleentheid van onderlinge gemeenskap (koinonia) is. Dit bied dan ook die geleentheid om nuwelinge die hartlike liefde van gelowiges te laat ervaar.
“Ons het ook weekliks Bybelstudie met nie-Christen ‘soekers’ gedoen; iets wat opreg waardeer is.”
Wat was in hierdie tyd die hoogte- en laagtepunte van jul werk?
“As ons vandag terugkyk, is die ‘laagtepunte’ nie meer noemenswaardig nie.
“Die hoogtepunt was veral drie nuwe bekeerlinge wat ons die voorreg gehad het om te kon doop. Dit was niks anders as Goddelike wonderwerke van genade nie!
“Een van hulle was Masatomi san wat uit ’n radikale Boeddhistiese sekte kom en geen Christelike agtergrond of Bybelkennis gehad het nie. Na ’n volle jaar van weeklikse Bybelstudie en erediensbywoning het hy ons versoek om gedoop te word.
“Nog een van die drie was Megumi san. Sy het nog nooit ’n Christen ontmoet of geken nie maar in haar geestelike soeke het sy Christus deur middel van die internet gevind en na maande van Bybelstudie saam met ons het sy haar geloof bely.
“Ons is ook dankbaar vir lidmate wat weer teruggekeer het na die gemeente.”
Waarom is julle kontrak verleng?
“Die Ring van Shikoku het besluit dat, indien ons beskikbaar is en Missie Japan dit goedkeur, ons vir ’n volgende termyn van drie jaar in ’n ander gemeente in die ring, die Tokushima-Wes Sendingpos, moet gaan help. Hulle is al ’n geruime tyd vakant en het ons amptelik beroep.”
Hoe verstaan julle jul roeping en die belangrikheid van wêreldsending?
“Ons roeping vir wêreldsending is gegrond in ons geloof in Jesus Christus as die enigste lewende God, die enigste Verlosser van die ganse wêreld, die Here van alle here aan Wie alle mag in hemel en op aarde behoort, wat ons roep tot onvoorwaardelike gehoorsame dissipelskap en ons almal stuur om dissipels van alle nasies te maak.” (Matteus 28)
Wat beskou julle as uitdagings waarvoor ons kan bid?
“Dis ’n uitdaging om elke Sondag in Japannees te moet preek en weekliks die lidmate in Japannees te bedien.
“Dis ook ’n uitdaging om te volhard in ’n intieme en groeiende geestelike en biddende geloofsverhouding met die Here Jesus self as ons enigste bron van krag en vrug.
“Bid ook asseblief vir die uitdaging van ’n lewe van selfverloënende diensbaarheid om alles vir almal te probeer wees om sommiges te red.
“Dis ’n groot uitdaging om menslik onbereikbare, trotse, selfversekerde, geslote Japannese met die evangelie van Christus te bereik.”
| Foto’s is verskaf.
Vir meer inligting kan Tobie en Annalie de Wet by tobiedewet@hotmail.com en annaliedewet1@gmail.com gekontak word.




