Dikwels is daar ‘n oproep vir Christene om terug te keer na die manier van kerkwees wat kenmerkend was van die vroeë kerk. In Handelinge 2:44–47 lees ons onder andere dat die vroeë Christene eensgesind was, dat hulle hulle grond, besittings en geld met mekaar gedeel het; dat hulle etes eenvoudig was, maar dat hulle dit met mekaar gedeel het.
Wat dikwels vergeet word, is dat die Christendom ‘n “nuwe” godsdiens was. Daar is dikwels aan Christene gevra wat hulle glo. Daar is aan hulle gevra op watter manier hulle van die Jodedom en al die ander godsdienste verskil. Daar is aan hulle gevra hoe hulle net in een God kon glo, terwyl ander godsdienste tientalle gode gehad het. Mense wou weet hoe hulle kon sê dat hulle net een God aanbid terwyl hulle die Vader, die Seun én die Heilige Gees as God erken.
Teen hierdie agtergrond sê Petrus in 1 Petrus 3:15: In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir “gereed met ‘n antwoord” (apologian), beteken ook om die geloof te verdedig. Die woord apologetiek of apologeet word ook hiervan afgelei. Dit is jammer dat die woord “apologie” later die teenoorgestelde betekenis gekry het. Waar dit nou beteken om verskoning te vra, het dit aanvanklik beteken dat jy jou eie regsaak verdedig.
Die vroeë Christene was mense wat die inhoud van hulle eie geloof en die inhoud van ander se geloof so goed geken het, dat hulle die Christelike geloof kon verduidelik en verdedig en ook met ander kon debatteer oor dié se geloof in afgode. As ons sê dat dit goed sou wees om terug te keer na die manier van doen van die vroeë kerk, dan moet ons onder andere bedoel dat elke gelowige in ons tyd ook toegerus moet wees om “‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe”.
Dit moet waar wees van ons verhouding teenoor alle ander godsdienste. ‘n Uitdaging wat wêreldwyd, maar ook in die Vrystaat, al hoe groter word, is die uitdaging wat Islam (die godsdiens en leefwyse van die Moslems) bied. Die Vrystaatse Sinode wil graag deur Vennote in Getuienis lidmate ondersteun en toerus met kennis oor hierdie godsdiens en ook hoe om met hulle in gesprek te tree om die Evangelie met hulle te deel. In die Vrypos sal daar gereeld bydraes verskyn om hierdie doel te bereik. Wees op die uitkyk daarvoor.