Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie
Om die verskil tussen die God van die Bybel en die god wat in die Koran as Allah bekend gestel word, in ’n kort artikel of twee uit te wys, kan nie in die minste reg laat geskied aan die diepte en die omvang van die saak nie. Hierdie kort artikel se doel is om die algemene lidmaat aan die basiese sake, wat hierdie gesprek betref, bekend te stel.
Beide Christene en Moslems gebruik die woord “God”, maar die wese van wat hulle daarmee bedoel, het radikaal verskillende identiteite, karakters en openbarings. Die verskil lê nie net in detail nie — dit lê in die aard van God self.
Die Christelike verstaan van God, soos gevind in die Bybel, teken God as Drie-enig: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. God word geteken as drie Persone in een Wese.
Volgens die Bybel is Jesus God. Hy is nie net ’n profeet nie. Die Heilige Gees is ook God – nie net ’n engel of ’n krag nie. Voorbeelde uit die Bybel is te veel om te noem, maar in Johannes 1:1 staan daar byvoorbeeld van die Here Jesus: “Die Woord was by God en was self God”. In Johannes 10:30 sê die Here Jesus: “Ek en die Vader is een.” In Matteus 28:19 kry ons ook een van die Drie-eenheidsformules, waar daar staan: “… doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.”
Hierdie God is ’n verhoudingsgod. Hy is liefdevol en die Drie-eenheid leef ook in ’n onderlinge verhouding van liefde (Johannes 17:23).
Volgens die Islamitiese verstaan van god, soos gevind in die Koran, is Allah absoluut een (tawhid). Enige vorm van “deelgenootskap” (soos die Drie-eenheid) is volgens Moslems die grootste sonde. Dit is vir hulle godslasterlik. Iets wat hulle shirk noem. Jesus (genoem Isa in hulle geskrifte) is volgens hulle nie God nie, nie die Seun van God nie, en is ook nie gekruisig nie. Noodwendig beteken dit dan ook dat hy nie uit die dood opgestaan het nie.
Voorbeelde uit die Koran vind ons onder andere in Surah 112:1-4, waar daar, volgens die Engelse vertaling van die Koran staan:
Say, “He is Allah, [who is] One,” “Allah, the Eternal Refuge [As-Samad].”
“He neither begets nor is born,” “Nor is there to Him any equivalent.”
Hulle bely dus dat Allah geen mense verwek nie en hyself is ook nie verwek nie. Surah 4:171 sê in reaksie op Christene se leer oor die Drie-eenheid: “Sê nie: ‘Drie’ nie … Allah is maar een God.” Surah 5:72 sê in dieselfde trant: “Hulle het waarlik ongelowig geword wat sê: ‘Allah is die Messias, seun van Maria.’”
Dit spreek dus duidelik uit bogenoemde dat die God van die Bybel nie die god van die Koran kan wees nie. Dat Christene en Moslems nie dieselfde God aanbid nie, spreek duidelik uit bogenoemde tekste.
By ’n volgende geleentheid gaan ons voort om te kyk na die verskille tussen die God van die Bybel en Allah, deur te kyk na die karakter van God.
’n Reeks Islam-artikels. Hierdie artikel handel hoofsaaklik oor die verskil tussen die God van die Bybel en Allah: Die identiteit van God: die Drie-eenheid teenoor die absolute enkelheid.

