Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Deur prof John Klaasen, Dekaan: Fakulteit Teologie en Religie, UV

“Hoop en Groei” is deel van die visie van die UV se Fakulteit Teologie en Religie.  Hierdie visie word onder andere verwesenlik deur gesamentlike inisiatiewe met die Vrije Universiteit (VU), Amsterdam. Hierdie inisiatiewe val binne die samewerkingsooreenkoms tussen die VU en die UV. Die eerste inisiatief is ’n pelgrimstog van hoop van Amsterdam na Rome tussen 30 Mei en 6 Junie 2025. Die tweede inisiatief is twee lesings op die twee kampusse. Hieruit sal onder meer potgooie, video’s en ander publikasies vloei.

In tye van groeiende onsekerheid soek mense al meer na hoop wat nie teleurstel nie. Hierdie behoefte is ook duidelik uit die feit dat Pous Francis die 2025 Jubeljaar se tema “Pelgrims van Hoop” gemaak het. Die Rooms-Katolieke gemeenskap het reeds eeue lank die gebruik om elke 25 jaar as Jubeljaar uit te roep. ’n Jubeljaar is ’n tyd vir nadenke en oorbegin.  Selfs met die afsterwe van Pous Francis gaan die Jubeljaar steeds voort.

Tydens die internasionale simposium oor hoop snoer die VU Amsterdam kragte saam met die UV Fakulteit Teologie en Religie, die Vatikaan, verskeie internasionale akademici en vennote in die gemeenskap. Die simposium “Herontdek en bou hoop vir almal” het plaasgevind van 2–4 Junie in Rome. Jeroen Geurts (rektor van die VU), aartsbiskop Salvatore Fisichella (verantwoordelik vir die Jubeljaar-reëlings) en die Nederlandse ambassadeur by die Vatikaan, Annemieke Ruigrok, het die opening waargeneem. Die openingslesing is gelewer deur aartsbiskop Thabo Makgoba, opvolger van aartsbiskop Desmond Tutu.

Die deelnemers aan die simposium het via ’n “hooptrein” van Utrecht na Rome gereis. Dit was ’n pelgrimsgeleentheid met tyd vir stilte en kontemplasie. Tydens die simposium is ’n “kers van hoop” aangesteek en van die een deelnemer na die volgende aangegee. Tydens sy besoek aan die UV se Fakulteit Teologie en Religie het Jeroen Geurts die kers aan die Fakulteit oorhandig om aan te steek. Dr Eugene Fortein (Departement: Historiese en Konstruktiewe Teologie) het tydens ’n Coram Deo-geleentheid die kers by prof Geurts oorgeneem.

Internasionale samewerking soos hierdie bied geleenthede vir studente en akademici om hulle blootstelling aan verskeie wêreldklas-teoloë te verbreed en aan internasionale projekte deel te neem

 | Foto’s (verskaf)