Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Lampstaanders en sterre, onder die seënende hand van die Almagtige

“Die gelowige leraars, deur die Koning van die Kerk self geroep en toegerus, hou Hy in sy regterhand. Hy oefen absolute gesag oor hul uit. Hy beveilig hulle te alle tye. Soos ligtende sterre, sirkel hul onaantasbaar aan die uitspansel van Sy genade, oor sy bruidskerk asook oor die donkere en ligskuwe wêreld. Op onderskeie wyse moet die Kerk en die Universiteit – elkeen selfstandig (soewerein) op eie gebied, daartoe meewerk dat bedienaars van die Woord, soos sterre in hul God-verordende bane geplaas word, sodat ook die ligtende lampe – die gemeentes – op hul aangewese plekke tot verheerliking van God, altyd aan sy kerk en koninkryk diensbaar sal bly.”

Met dié woorde is die 41ste jaarlikse vergadering van NG Kerk Vrystaat se Kuratorium afgelope Maandag by The Willows geopen – dieselfde woorde as waarmee dr. Andries van der Merwe die eerste vergadering van hierdie Kuratorium op Woensdag, 21 November 1979 geopen het. Woorde, na aanleiding van die bemoedigende visioen van Johannes op die eiland Patmos (Openbaring 1:8-20). Vanjaar se vergadering het in die teken van herinnering gestaan: formele teologiese opleiding aan die Universiteit van die Vrystaat is in haar 40ste bestaansjaar: op 17 Augustus 1980 is die eerste ses dosente beroep; op 4 Februarie 1981 het die Fakulteit amptelik geopen. Een van die eerste studente, Riaan Stander, het op aangrypende wyse sy herinneringe aan dié vier dekades met ons gedeel: die beginjare as jong, konserwatiewe student van Hennenman af; sy eerste vyf jaar as “kleindominee Riaan” van die NGKA Bultfontein; sedert 1989 leraar van Langenhovenpark, deeltydse dosent in Nuwe Testament en lid van die Kuratorium. Veel het verander, dít het prof. Jan-Albert van den Berg wat onlangs as sekundus-dekaan aangewys is, ons tussen die eerste- en die jongste foto’s van dosente en studente laat sien – in karakter en kleredrag, profiel van die dosentekorps (waaronder nou 12 dosente uit die NG Kerk-familie), en in die samestelling van die studentegemeenskap (tans uit meer as 30 kerkgenootskappe!).

In ons luister na die verslae van kerklike vakeksaminators en in gesprekke oor die dinamiese vennootskap tussen akademiese opleiding in die Fakulteit enersyds en kerklike vorming en begeleiding in die Seminarium andersyds, het die oortuiging gegroei: die bedoeling van die NG Kerk Vrystaat, soos sedert 1964 in verskeie sinodes uitgespreek, om hier in Bloemfontein gereformeerde teologiese opleiding met die oog op ons kerklike behoeftes in die sentrale streke van die land te bied, word steeds verwesenlik. Dit was duidelik te beleef toe drie kandidate – Adrie Els, JC Els en Charné Viljoen – deur die Kuratorium geëvalueer en Dinsdagaand as proponente in Pellissier-gemeente gelegitimeer is. Drie jong teoloë, opgelei in ‘n ekumeniese fakulteit aan ‘n publieke universiteit en daarom toegerus om in ‘n diverse samelewing wat brandende uitdagings aan gemeentes stel, die Woord van die Here te kan bedien. Gereformeerde teologiese opleiding saam met die VGKSA, NGKA en susterskerke soos die Reformed Church in Zambia en die Lesotho Evangelical Church, lê in die hart van ons roeping as missionale kerk hier. In dié gees het die dekaan, prof. Rantoa Letšosa, ook die NG Kerk Vrystaat vir haar betrokkenheid by teologiese opleiding bedank, vir kundigheid in die dosentekorps en goeie studentepotensiaal, sowel as vir ons finansiële bydrae – “’n druppel in die emmer, maar ‘n belangrike druppel”, het ‘n kuratoriumlid dit bestempel…

Benewens die drie proponente, was daar vanjaar in Bloemfontein nóg 28 NG-studente wat as gemeenteleraars, diensleraars en bedienaars (ouderlinge met erediensbevoegdheid) opgelei word. Ons verwag ‘n getallegroei in 2021, en is ons beursfondse ook geherstruktureer om almal te kan help. Die Kuratorium het voorts besluit om ons opleiding wyd bekend te stel ten einde nuwe studente te werf – die oes daarbuite is groot, die arbeiders min. Dit het verteenwoordigers uit ander sinodale gebiede soos die Oos- en Noordkaap en Natal ons laat hoor. Of dan, in die woorde van dr. Van der Merwe uit 1979, om “ligtende sterre en lampe” aan ‘n “wêreld in duistere nood” te kan voorsien.

Die Kuratorium het sy dank uitgespreek teenoor al die Vrystaatse gemeentes wat ons teologiese opleiding ondersteun en teenoor leraars wat as mentors vir studente of as tydelik-deeltydse dosente by die Fakulteit en in die Seminarium optree. Julle is die “goue staanlampe” tussen wie Hy, die Lewende, die rondgaan en in Wie se regterhand die boodskappers soos “ligtende sterre” gekoester word. As geroepenes en kerke is ons inderdaad geseënd!

Jan Lubbe (VDm)

Voorsitter: Kuratorium