Deur ds Janke Hurter, jeugleraar van NG Gemeente Berg-en-Dal
Dis die dag voor Jeugdag, Sondag 15 Junie 2025. Ek wag rustig in die konsistorie se stilte vir die res van die Kerkraad om aan te meld, terwyl ek deur die Erediensblaadjie lees … Vandag in die Fokus, hierdie sinnetjie: “Die eredienskollekte … Ons gee ’n tiende daarvan (10%) ter ondersteuning van die genoemde sinodale werksaamheid of ander instansie/projek vir die betrokke Sondag – vanoggend, 15 Junie: NGK Vrystaat Jeugbediening”.
Dit vorm deel van die gemeente se jaarlikse bydrae aan Jeugbediening in die Vrystaat. Die sinnetjie het my vanoggend vreeslik onstel. Nog ’n jaar is verby, nog ’n keer ons bydrae. Wat het met verlede jaar se bydrae van die gemeente geword? Hoe is dit aangewend? begin ek by myself te wonder. ’n Jeugkamp? ’n Jeugkonferensie oor die 1700ste bestaansjaar van Nicea? Miskien ’n stilword-retreat vir jongmense in die Vrystaat? Of dalk ’n gesamentlike interdenominasionele uitreikprojek vir jongmense? Ek wonder steeds …
My besorgdheid dring my om verder te wonder oor hoe die netwerk binne Jonk Vrystaat op die oomblik lyk. Is die gelde nie miskien aangewend om netwerking te bevorder nie? Sou dit Jonk Vrystaat se verhouding met dosente wat Geloofsvorming doseer by die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat kon wees? Miskien is die gelde aangewend vir ’n byeenkoms waar die nuutste navorsing in Jeugbediening met predikante gedeel is? Of miskien is die gelde gebruik om ’n studie in Geloofsvorming te help befonds? Wie weet? Of sou dit dalk belê wees in ’n gesamentlike Jeugbyeenkoms wat oor sinodale grense strek, wonder ek weer. Ek wonder steeds …
Ek wonder nie net hoe lyk die netwerk binne Jonk Vrystaat op die oomblik nie, maar ook waar Jonk Vrystaat is? Waaraan bestee sy haar tyd op die oomblik? Wanneer is Jonk Vrystaat se volgende vergadering en hoe kan predikante/jeugwerkers/jongmense betrokke raak by Jonk Vrystaat? Watter geleenthede/kursusse/retreats/opleiding beplan Jonk Vrystaat vir die res van die jaar waarvan gemeentes, predikante en die jeug van die Vrystaat kan kennis neem?

