Deur ds André Barlow, emeritusleraar van NG Gemeente Hugenoot
“Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
EFESIËRS 1:23 AFR83
Dit het gebeur tydens ’n vakansie by Kleinzee, ’n kusdorpie aan die Noord-Kaapse kus 62 km suid van Port Nolloth, redelik afgesonder met grondpaaie as toegangsroetes. ’n Interessante dorpie met ’n interessante geskiedenis.
Soos dominees maar is, vra ek vir een van die inwoners of daar eredienste op die dorp gehou word. “Hulle het ’n kerk so 4 km buite die dorp.” Sondagmiddag en ek besluit om te gaan kyk hoe lyk die omgewing. Ná ongeveer 4 km sien ek die bordjie langs die pad: NG Kerk Grootmis. Hier op hierdie afgesonderde deel van ons land. ’n Kerkgebou waar eredienste gehou word. Vars motorspore sê daar was die oggend ’n erediens. Ek dink aan die bekende uitdrukking: Daar is geen duimbreedte van ons land wat nie ingedeel is in ’n wyk van die NG Kerk nie.
Skielik oorval ’n onbeskryflike deernis vir die NG Kerk my. Buite Kleinzee op die pad na Port Nolloth toe. Die kerk wat sedert haar stigting op berge en in dale daar was. Die kerk wat gereeld deurloop onder kritiek. Die kerk wat die grootste barmhartigheidsorganisasie in die land genoem word. Die kerk deur wie se arbeid sovele Jesus Christus as Verlosser leer ken het.
Ek sit daar in my motor en staar na die bordjie “NG Kerk Grootmis” en besef jy moet spaarsamig wees met jou kritiek op die NG Kerk. Een of ander dosent het gesê: As God jou Vader is, is die kerk jou moeder. Voordat jy daar was, was die NG Kerk al daar en waaroor jy maar nog droom, was al op die NG Kerk se agenda.
In die kerklike jaar was dit Epifanie. Die Griekse woord beteken verskyning, en die klem val op die verskyning van God in die gestalte van Jesus Christus. Die Heidelbergse Kategismus sê hierdie Jesus het vir Hom uit die hele menslike geslag ‘n gemeente vergader. Jesus beskerm en onderhou hierdie kerk wat deur Paulus die liggaam van Christus genoem word (Efesiers 1:23). Die NG Kerk behoort aan die Here. Ek onthou toe dat die Kategismus ook sê dat ek van hierdie kerk ‘n lewende lid is en ewig sal bly.
Ek ken die NG Kerk. Ek was 44 jaar en drie maande ‘n Verbi Divini Minister (VDM) in die kerk. Behalwe vir die gemeentelike betrokkenheid het ek elke Algemene Sinode, van 1982 in Pretoria tot 2015 in Port Elizabeth, bygewoon. Ek was bevoorreg om lid van die algemene moderatuur te wees. Ek praat nie van hoorsê nie. Ek ken die hoogtepunte en laagtepunte van die NG Kerk. Ek het iets meegemaak van die leerstellige stryde wat oor die jare gevoer is, die kerk se worstelinge oor baie sake.
Aan die einde van my bediening dink ek met groot deernis aan die NG Kerk. Onder leiding van die Heilige Gees doen die kerk haar bes. Aan die dominees wat hier lees: Kom ons doen alles in ons vermoë om nie toe te laat dat die kerk skeur nie. Aan die lidmate wat hier lees: Dankie dat jy jou gawes en talente gewillig en met vreugde aanwend (Heidelbergse Kategismus 55) in diens van die koninkryk soos dit gestalte vind in die NG Kerk.

| verskaf : ds André Barlow