Deur Mariëtte Odendaal
Vanjaar vier ons Vrystaat Sinode die 160ste bestaansjaar van ons kerk; die anker in Christus vir duisende mense in die Vrystaat vir meer as ’n eeu en ’n half.
Om die leisels bymekaar te hou en agter die gordyne te sorg dat alles op geoliede wiele bly loop, is daar dikwels onontbeerlike staatmaker-vroue soos Heila Oelofse en Sussa van Tonder hard aan die werk.
Ons het met hulle gaan gesels om te hoor oor hoe hulle die Sinodale Kerkkantoor in hulle tyd vanaf 1960 tot 2013 beleef het.
Heila, in watter jare was jy by die Sinodale Kerkkantoor werksaam en wat het jou werk hoofsaaklik behels?
“Ek het vanaf Maart 1960 tot Augustus 2003 in die Sendingkantoor as sektretaresse van die Sinodale Sendingkommissie gewerk.
“My werk het onder andere behels dat ek die sekretaresse van die Algemene Sinodale Kommissie was en ook alle notules in snelskrif moes skryf. Verder was ek die sekretaresse van al die kleiner kommissies.
“Jare later het ek tydens sinodesittings aangesluit by die administratiewe personeel van die sinode en saam met onder andere Amanda de Lange en ander sekretaresses van die taakspanne onder leiding van Sussa van Tonder gesorg dat die notules van die sinode betyds na die drukkers gaan ná afhandeling van elke dag se sitting.”
In watter jare het jy daar gewerk, Sussa, en wat het jou pos behels?
“Ek het vanaf 1970 tot 1973 as administratiewe klerk (tikster) in die Sinodale Kerkkantoor gewerk en ook die Argief behartig. In daardie tyd was daar nog geen argiefpersoneel aangestel nie.
“Daarna, vanaf 1973 tot 1977, was ek die sekretaresse van die saakgelastigde; later die direkteur van administrasie en finansies genoem. Ek het toe ook die werk van dr SJ Naudé, finansiële bestuurder, gedoen. Vanaf einde 1977 tot einde 1984 was ek vir sewe jaar tuis om my twee seuns groot te maak.
“Vanaf 1985 tot 2013 was ek die sekretaresse vir die moderamen. Ek moes reëlings ten opsigte van sinodesittings en moderamenvergaderings tref en was verantwoordelik vir die gereedmaak van agendas en handelinge van die sinodes nadat ek die verslae van al die verskillende taakspanne ontvang het; ’n enorme, uitdagende taak.
“Ek het ook vir baie jare die destydse Regskommissie (nou die Sinodale Kommissie vir die Kerkorde) se werk hanteer en ná elke sinodesitting, in samewerking met die skriba van die Regskommissie, die nuwe Kerkorde saamgestel.
“Terselfdertyd het ek die kuratorium se werk behartig: teologiese dae gereël, alle reëlings ten opsigte van kuratorium- en eksamenkommissievergaderings met betrekking tot die keuring en legitimasie van teologiese studente aan die Universiteit van die Vrystaat getref.”
Heila, wat was in jou tyd vir jou die grootste uitdagings?
“Die vertrek van ds Tobie de Wet en sy vrou, Annalie, as sendelinge na Japan was ’n geweldige uitdaging, omdat die administratiewe werk ten opsigte van visums en verblyfpermitte in daardie tyd baie kompleks was.
“Nog ’n uitdaging was om te verseker dat daar fondse beskikbaar was vir die salarisse van sendelinge in Zambië.
“Verder was ek ook betrokke by die aanpassing van salarisse van die personeel in Zambië teenoor die soortgelyke personeel in Suid-Afrika.
“Ek moes ook sendelinge in Lesotho help vestig en seker maak dat hulle die NG Kerk Vrystaat se missie en visie verstaan en toepas.
“Dan was ek ook betrokke by die uitstuur van sendelinge na Zambië, wat besondere administratiewe uitdagings meegebring het.
“Ek moes ook sorg dat alle administratiewe sake ten opsigte van sendelinge wat in die internasionale arena namens die NG Kerk gevestig was, in plek was.”
Wat sou jy sê was vir jou die grootste uitdagings, Sussa?
“Die moderamen het voortdurend kontroversiële sake op hul agendas gehad wat soms baie lank geneem het om afgehandel te word. So moes ons kantoor dikwels vraelyste uitstuur aan gemeentes om stemming oor sake te kry. Na die tyd moes al die antwoorde gekompileer word om sodoende by ’n besluit te kom. Dit het geweldig baie administrasie tot gevolg gehad.
“Die stuur van omsendbriewe was destyds ’n groot werk. Eers is die koeverte getik (soms vir sowel die leraars as die skribas van die onderskeie gemeentes), dan is die briewe op wasvelle getik en afgerol. Daarna is dit gevou en in die koeverte geplaas, toegeplak, deur die seëlmasjien gesit en dan eers kon die bode die groot possak met sy fiets na die hoofposkantoor in Maitlandstraat neem vir versending.
“Seker een van die grootste uitdagings in my tyd was toe al die kantore oorgeskakel het van tikmasjiene en afrolmasjiene na rekenaars en dupliseermasjiene. In daardie tyd het ons gevoel of ons baanbrekers was; terugskouend lyk dit egter onbeduidend.”
Dan is daar mos gewoonlik ook ’n paar hoogtepunte in ’n mens se loopbaan. Wat sou jy as besondere gebeurtenisse in jou tyd uitsonder, Heila?
“Die vertrek van ds Tobie en Annalie de Wet as sendelinge na Japan was ’n groot hoogtepunt.
“Nog iets besonders was die uitvoerings op die merkwaardige orrel in die sinode-saal, wat ongelukkig nie meer bestaan nie. Die bediening met lofsang en die musiek wat Dirkie de Villiers met sy uitsonderlike talent tydens sinodesittings uitgevoer het, was lofwaardig. Ek het altyd hoendervleis gekry as die meer as 400 sinodegangers so saam met die pragtige orrelmusiek die Here loof – dit was aangrypend. Dit het my altyd baie diep geraak om te ervaar dat die Woord van die Here op só ’n manier verkondig word. Dit was iets besonders om deel daarvan te kon wees.
“Verder was die grootste hoogtepunt in my 43 jaar in diens van ons Liewe Here dat ek deur middel van my werk die verkondiging van die Woord in baie lande, asook in lande waar die Woord nie geken is nie, kon help vestig. Dit was maar my beskeie bydrae ter ondersteuning om die Woord te verkondig en te verseker dat die Goeie Nuus by mense uitkom wat nog nie geweet het van die Bybel of die werking van die Heilige Gees nie.”
Sussa, wat sou jy as die hoogtepunte in jou tyd beskryf?
“Die Vrystaatse sinodesittings het vroeër jare in siklusse van vier jaar geskied (deesdae is daar dikwels ook spesiale sinodesittings). In die reses is daar kwartaalliks moderamenvergaderings gehou om sake te hanteer. Hierdie sinodesittings was vir my elke keer ’n hoogtepunt.
“Dit is vir my moeilik om nog ander hoogtepunte uit te sonder, dit sou boekdele beslaan. Daar het wel tydens my diensjare heelwat veranderinge in die NG Kerk plaasgevind. Om net ’n paar te noem: vroue is toegelaat tot die amp van predikant en ook om as kerkraadslede te dien; die einde van apartheid het meegebring dat kerke oopgestel is vir alle rasse; tentmaker-bediening het posgevat; gemeentegrense was nie meer afdwingbaar nie – lidmate is toegelaat om buite hul gemeentegrense by ander gemeentes aan te sluit; pastorieë is in sommige gemeentes verkoop en leraars kon hul eie wonings koop wat deur hul gemeentes gesubsidieer is; predikante kon, wanneer hulle aftree-ouderdom bereik, in kontrakposte voortgaan met hulle bediening.
“Kleredrag het verander: die dra van manelle en beffies of wit dasse deur sinode-afgevaardigdes is uitgefaseer en afgevaardigdes kon met gewone kleredrag sinodesittings bywoon. In gemeentes is die dra van kerkhoede deur vroue uitgefaseer en het die dra van langbroekpakke meer algemeen geraak. Manspakke het toenemend ook begin plek maak vir netjiese langbroeke en hemde.
“Musiekgroepe in plaas van orrelspel het ook in sommige gemeentes begin posvat.
“Nog ’n groot verandering was toe die amptelike naam van die NG Kerk Oranje-Vrystaat verander is na die NG Kerk Vrystaat. Daarmee saam is daar ook ’n splinternuwe, moderne embleem ontwerp.
“Die Sinodale Sentrum in St Andrewstraat wat vir beide die personeel en leraars baie spesiaal en kosbaar was, is verkoop en die kantoor is in 2013 verskuif na waar die destydse Susanna Coetzee Tehuis vir Ongehude Moeders in Van Heerdenweg was.
“Dit het meegebring dat sinodesittings sedertdien in gehuurde lokale plaasgevind het. Die eerste sinodesitting van hierdie aard het net voor my aftrede in 2013 plaasgevind by die NAMPO-terrein in Bothaville. Dit was ’n baie besondere sinodesitting met die gemeentes van Bothaville wat baie moeite gedoen het om dit vir die afgevaardigdes ’n aangename ervaring te maak.”
In enige werksopset is daar mos gewoonlik ’n paar mense wat ’n groot indruk op jou maak. Wie sou jy uitsonder as mense wat jou beïndruk het, Heila?
“Daar was heelwat. Ds Dawid Snyman, wat ook twee termyne as moderator gedien het, se visie en die indruk wat hy gemaak het op elke persoon met wie hy te doen gehad het – hetsy persoonlik of in sinodale hoedanigheid – was besonders. Verder was dit baie spesiaal om sy diep geloof en roeping om die Woord te verkondig, te kon ervaar. Sy benadering om komplekse sake op ʼn baie sinvolle en regverdige manier aan te hoor en ‘altyd die Woord’ as riglyn te volg, het hom as kerkleier laat uitstaan.
“Dr JM Cronjé wat as organiserende sendingsekretaris vanuit Zambië beroep is om diensbaar in die Sendingkantoor te wees, was ook ’n besondere mens. Sy organisatoriese vermoë om te verseker dat die Woord verkondig word, was uitsonderlik. Hy het byvoorbeeld toegesien dat die Woord wyer in die Vrystaat bedien word, soos byvoorbeeld ook in die Goudveld-distrikte en Lesotho. Hy het ook seker gemaak dat die sendelinge in daardie gebiede die nodige ondersteuning van die sinodale kommissies kry om hul bediening te kon uitvoer. Dr Cronjé het die administratiewe fondasie grondslag gelê vir die vooruitgang van sendingwerk in die kerk. Dit was ’n uitdagende taak om te verseker dat daar aan al die nodige instruksies en vereistes voldoen word.
“Dr Cronjé se opvolger was ds LM Erasmus. Sy bydrae het oral ’n geweldige impak gehad. Sy sin vir humor het dit veral aangenaam gemaak om saam met hom te werk. Alhoewel ds Erasmus die organiserende sekretaris was, het hy in daardie tyd ook die verantwoordelikheid aanvaar om die rol van die sendingsekretaris oor te neem nadat ds Snyman afgetree het. Hy moes dus twee funksies gelyktydig behartig.
“Die laaste sendingsekretaris waaronder ek gedien het, was dr Gideon van der Watt. Hy het die nuwe bedeling in die wyer konteks van die land probeer bevorder. Dit was ook op aanbeveling van dr Van der Watt dat ek die fakkel van die kerk by die sinodesitting van 2003 ingedra het saam met ds Jimmy Veitch, ’n predikant wat ook ’n sendeling in Zambië was.”
Sussa, wie sou jy uitsonder as die mense wat ’n groot indruk op jou gemaak het in jou jare by die Sinodale Kerkkantoor?
“Om hierdie vraag te beantwoord, is bykans onmoontlik. Ek was bevoorreg om veral die Vrystaatse predikante baie goed te leer ken in die 35 jaar wat ek in die Sinodale Kerkkantoor gewerk het. Ek sou makliker kon antwoord wat ek van elkeen van die besondere groep mense onthou.
“Die moderatuur is elke vier jaar tydens sinodesittings verkies, of is in ’n ander hoedanigheid verkies. As gevolg van die noue samewerking met hierdie groepie mense is daar besondere vriendskapsbande gesmee en ag ek myself as bevoorreg om saam met hulle te kon werk (ek is nou so in die versoeking om hul name en al die name van my kantoorhoofde hier neer te pen!)
“As ek mense móét uitsonder, sou dit wyle dr Andries van der Merwe van Kroonstad wees vir sy nederigheid, wyle dr Piet Cloete, die destydse sekretaris vir ampsbediening en evangelisasie vir sy skerp intellek, en natuurlik ook ds Lourie Erasmus, die destydse sendingsekretaris vir sy positiewe lewensuitkyk en humor.”
Ten slotte
Heila: “Die liefde wat ek gedurende my 43 jaar diens ontvang het, was iets besonders. Dit was ook werklik ’n eer om ’n klein deeltjie daarvan te kon ervaar om in diens tot eer van die Here te wees.”
Sussa: “Dit was ’n ongelooflike voorreg om my hele werksloopbaan vir die NG Kerk Vrystaat te kon werk. Ek dink met groot waardering en dankbaarheid terug aan elkeen van die oud-kollegas en predikante waarmee ek bevoorreg was om saam te werk. Na 35 jaar is hulle nie net my kollegas of vriende nie; hulle is vir my soos familie.
“Aan die Here al die eer vir die voorreg om ’n beskeie werktuig in sy akker te kon wees.
“Soli Deo Gloria!”


| verskaf: In die Sendingkantoor. Vlnr: Ds RJJ van Vuuren, Heila Oelofse en ds Dawid Snyman.

| verskaf: Sussa van Tonder.

| verskaf: Dagbestuur van die Moderatuur 2004: Voor vlnr: Prof Piet Strauss (voorsitter), dr Manie Kleynhans (skriba), agter vlnr: Dr Pieter van Jaarsveld (onder-voorsitter) en mev Sussa van Tonder (sekretaresse).

| verskaf: Vlnr: Me Sussa van Tonder (Kantoor van die Skriba van die Sinode) en me Talana de Meyer (Kerkkantoor) met die Agenda van Sinode 1995
