Deur Mariëtte Odendaal
Marlou Strydom
Bemarkings- en logistieke hoof Waypoint Studentebediening
Jy kom as eerstejaar op die kampus aan en sien net hier en daar ’n bekende gesig. Alles is vreemd. Jou kamermaat, die dosente, jou klasmaats, die hele kampus en omgewing. Dalk voel jy ook baie uit jou plek, want jy is nie vertroud met die oorheersende kultuurgroepe om jou nie. Jy was vir jare lank deel van ’n bekende gemeenskap waarin jy jou plek in jou gesin en breër gemeenskap geken het, maar nou is alles anders en vreemd. Skielik is jy weg uit jou vertroude omgewing en moet jy deel word van ’n verskeidenheid nuwe gemeenskappe.
Een daarvan is jou nuwe gemeenskap van gelowiges, maar hoe word jy deel daarvan? Ons het met Marlou Strydom, bemarkings- en logistieke hoof van die Kopanong Studentebediening in Bloemfontein, hieroor gaan gesels. Marlou is ook verantwoordelik vir die bemarking en openbare betrekkinge van die Raad van Studentebediening (bekend as Waypoint Ministries).
Marlou, jy is betrokke by Waypoint Studentebediening in Bloemfontein en is hoofsaaklik verantwoordelik dat studente so gou moontlik deel word van ’n geloofsgemeenskap. Hoe gaan julle te werk om dit reg te kry?
“Studentebediening, soos ons dit hier in Bloemfontein ken, behels ’n baie omvattende bediening met verskeie praktiese aspekte. Een van die belangrikstes is die fasilitering van eerstejaars om deel van ’n geloofsgemeenskap te word. Studente begin hul pad ná skool in ’n omgewing wat heeltemal nuut en vreemd is.”
“Op universiteit is dit maklik om vasgevang te word tussen die mense saam met wie jy klasloop en jou koshuis- of woonstelmaats. Daar is egter min ruimtes met ’n geestelike fondasie. Daarom is een van die hoofdoelwitte van Studentebediening die fasilitering van gemeenskapsvorming deur middel van Sondagdienste, Bybelstudies (wat dikwels gepaard gaan met ’n koppie koffie of etes) en sosiale geleenthede waar studente tyd kan deurbring met mense van ander kulture en buite die gewone beweegruimte van hul koshuise of lesingsale kan wees.”
“Studentebediening is dinamies en aktief. ’n Groot voordeel van ons Studentebediening is die betrokkenheid van die studente self. Omdat hulle by verskillende bedieningsgeleenthede inskakel, is die bediening werklik in hul eie hande. Húlle organiseer die meeste van die byeenkomste onder leiding van leraars en personeel.”
“Baie studente het individuele aandag nodig. Daar is dus ’n groot behoefte aan pastorale gesprekke en leiding oor hoe om hulself weer in ’n nuwe gemeenskap te vind. Die behoefte om weer iewers in te pas is altyd daar, daarom maak die holistiese versorging van studente se welstand ’n belangrike deel van Studentebediening uit.”
“Dit verg soms baie moeite, maar dit is in álle opsigte die moeite werd. Dit is wonderlik om te sien hoe jongmense ontwikkel tot gesonde, gebalanseerde volwassenes as deel van hul nuwe geloofsgemeenskap.”
Die studente-demografie het natuurlik baie oor die jare verander. Watter invloed het dit op die ontwikkeling van Studentebediening gehad?
“Studentebediening bestaan al lankal in Bloemfontein. Aanvanklik is studente hoofsaaklik deur die NG Gemeente Universitas bedien, omdat dit die kerk naaste aan die kampus was. Teen die 1970’s het Studentebediening egter dermate gegroei dat dit uit sy nate gebars het. Daar is toe besluit om ’n nuwe kerkgebou vir studente op te rig.”
“Gedurende die 1980’s is ’n stuk grond langs die Universiteit van die Vrystaat aan die NG Kerk Vrystaat geskenk, waarop ’n ouditorium gebou is wat bykans 1 000 studente kon huisves.”
“Die gemeente, destyds bekend as die NG Studentegemeente Bloemfontein, het in 1984 as ’n selfstandige gemeente begin funksioneer. Studentebediening het floreer en studente het elke Sondag in groot getalle kerk toe gekom. Uitreike is gevestig en studente het ook die Bloemfontein-gemeenskap bedien deur hul betrokkenheid by verskeie barmhartigheidsdienste.”
“In later jare het die gemeente begin swaarkry met die veranderende studente-demografie op die Kovsie-kampus. Die kerk het egter kreatiewe maniere gevind om fondse te werf, soos die verhuring van die ouditorium aan die universiteit as lesingsaal en aan verskeie instansies vir optredes en funksies.”
“Rondom 2017 is ’n groot projek aangepak om die ouditorium op te gradeer — nie net vir funksies nie, maar ook vir die studente van dié tyd. Gedurende daardie tyd was die gemeente sowat 300 lidmate sterk en het hulle steeds hard gewerk aan al hul aksies en uitreike wat intussen plaaslik en internasionaal uitgebrei het.
“Dit is ook in hierdie tyd dat my pad met die gemeente begin het. Saam met die opgraderings het die kerk se naam verander van NG Gemeente Kovsie-kampus na Kopanong Church. Die doel hiervan was om die Afrikaanse, Engelse en Sesotho-dienste saam te voeg in een Engelse diens, sodat die gemeente as ’n eenheid kon aanbid. Taal is iets kleins om prys te gee as ons groter doel die bediening van God se kinders is.”
“Alhoewel daar aanvanklik teenstand was, het die gemeente onderneem om as een groep gelowiges saam te staan. ‘Ons almal aanbid tog een God …’ was die sentiment wat algemeen gedeel is. Van daar af het die kerk sterk gegroei en het dit goeie vordering gemaak as ’n nuwe multi-kulturele kerk in Bloemfontein — gefokus op die bediening van studente, ongeag kultuur, ras of geloofsoortuiging.”
“Ons het besef dat dit ons roeping is om studente te bedien. Ons kan tog nie ons rug draai op die nood van enige student nie. Daarom het dit die kerk se nuutgevonde missie geword om die nood van ons studente aan te spreek — hoe onoorkomelik dit ook al mag lyk.”
En toe kom 2020. Hoe het COVID julle geraak en wat is gedoen om as kerk in daardie uitdagende tyd te kon oorleef; hoe moes julle kreatief te werk gaan?
“Soos die meeste kerke moes ons ons deure sluit en aanlyn met die gemeente werk. Dit was ’n besondere groot uitdaging vir ’n studentegemeente, aangesien die studente in daardie tyd verkies het om saam met hul families godsdiens te beoefen. As gevolg hiervan het hulle na ander gemeentes geskuif.”
“Een van die grootste uitdagings gedurende hierdie tyd was die finansiële tekort weens die inperking van alle aktiwiteite wat normaalweg as inkomste vir die gemeente gedien het. Daar was geen klasse of funksies wat in die gebou plaasgevind het nie en studente het ook nie die finansiële kapasiteit gehad om by te dra soos voorheen nie. Die gemeente het gesukkel om te oorleef en om ’n gemeenskap te behou wat ná die pandemie sou kon terugkeer kerk toe.”
“Namate studente geleidelik na die kampus begin terugkeer het, het die gemeente sy deure weer oopgemaak en het die kerk stelselmatig begin groei. Die finansiële skade was egter reeds aangerig en teen die einde van 2022 is die moeilike besluit geneem om die kerkgebou aan die Universiteit van die Vrystaat te verkoop.”
Hierdie besluit was natuurlik verreikend. Wat is toe gedoen om die voortbestaan van Studentebediening te verseker?
“As gevolg van die groot onsekerheid oor die pad vorentoe is daar verskeie gesprekke met die Vrystaatse Sinode gevoer wat gelei het tot ’n ooreenkoms om die fondse te belê. Die rente op hierdie belegging sou dan aangewend word om Studentebediening in Bloemfontein in die toekoms te ondersteun. As deel van hierdie proses is ’n raad gestig om toesig te hou oor die effektiewe bestuur van Studentebediening. Met die stigting van die raad het Kopanong Church sy status as gemeente afgestaan en ’n bediening van die NG Kerk Vrystaat geword.”
“Die behoeftes van studente het ná die pandemie merkbaar verander. Een van die grootste uitdagings wat geïdentifiseer is, was die nood aan intieme, persoonlike verbondenheid. Dit het duidelik geword dat ’n gesonde Christelike gemeenskap noodsaaklik is vir die vorming van studente se geloofsgemeenskap. Die raad het toe begin werk aan ’n nuwe model vir Studentebediening, bestaande uit die mense wat dit sou bedien.”
“Twee ander gemeentes, die NG Gemeente Pellissier en Centre of Faith Universitas, is geïdentifiseer as ruimtes waar studente reeds inskakel. (Studente het in hierdie tyd begin aanklank vind by kleiner gemeenskappe waar mense mekaar en God op ’n dieper vlak kon leer ken.) Hierdie twee gemeentes is toe genooi om deel te word van die raad weens hul bestaande verbintenis met studente.”
“In 2024 het die raad baie moeite gedoen om die model te verfyn en verskeie skakelpunte te skep waardeur studente kan inskakel. Die jongste toevoeging tot hierdie netwerk is die NG Gemeente Langenhovenpark se S.I.N.K. (Studente in die NG Kerk).”
“Met hierdie vier bedieningspunte het Waypoint Ministries (die nuwe naam vir die raad), wat as ’n sentrale ‘hub’ dien, hierdie vier ’nodes’ bevestig as verbindingspunte vir studente in Bloemfontein — ’n plek waar hulle ’n geestelike tuiste kan vind en werklik met God en mede-gelowiges kan connect.”
Julle is baie inklusief. Hoe het julle te werk gegaan om te “include and expand”?
“Soos reeds genoem, het die demografie op die Kovsie-kampus drasties begin verander vanaf die vroeë 2000’s. Studente van uiteenlopende kulturele agtergronde het na die kampus gekom om ’n beter toekoms vir hulself te bou. Tegelykertyd het die roeping van Studentebediening ook ontwikkel. Waar dit voorheen hoofsaaklik NG Kerk-lidmate was wat na die kerk gekom het, het Studentebediening nou ook studente van tradisionele Afrika-kerke, Pinksterkerke en verskeie ander denominasies begin insluit. Dit was boonop nie net ’n saak van verskillende kerklike agtergronde nie, maar ook van verskillende kulture.”
“Aanvanklik kan dit ’n uitdaging wees om kerk by te woon in ’n taal wat nie jou huistaal is nie, maar mettertyd besef ’n mens dat taalvoorkeur prysgegee kan word ter wille van die genade van Jesus, en dat kultuur net so buigbaar is. Dit is nie maklik om multi-kulturaliteit deel te maak van ’n geloofstruktuur nie, want vir enige groep gelowiges vorm kultuur ’n belangrike deel van hoe hulle hul aanbidding beoefen.”
“Toe ons die eerste stappe geneem het om hierdie verskeie groepe bymekaar te bring, was daar baie gesprekke nodig. Sommige gemeentelede was ontsteld oor veranderinge aan die manier waarop dinge gedoen is; dit was nie meer ‘soos ons dit altyd gedoen het’ nie. Oor die jare het dit egter al hoe makliker geword om deur middel van Engels as taalmedium almal saam te bedien.”
“As bediening is Waypoint trots daarop dat ons binne die NG Kerk ’n ruimte kon skep waar mense van verskeie kulture en agtergronde sáám ’n verenigde visie voor God kan nastreef. Ons het ook verseker dat daar vir elke student ’n tuiste is, en daarom is die ’node’-struktuur ’n goeie strategie vir Studentebediening in die Vrystaat.”
“Ons vier hoofbedieningspunte is tans Langenhovenpark S.I.N.K. en Pellissier Jonk wat weens die posisionering van hul tuisgemeentes hoofsaaklik Afrikaans as voertaal gebruik. Kopanong Ministry en Centre of Faith gebruik Engels en bied ’n groter tuiste vir studente van diverse agtergronde.”
“Daar is vir elke student ’n plek en almal kan onder een vaandel tuiskom. Die intieme konneksies wat deur hierdie verskillende ruimtes geskep word, speel ’n belangrike rol in hul emosionele en geestelike welstand. Omdat ons fokus op die holistiese ontwikkeling van studente, is dit belangrik om vir hulle verskeie ruimtes en interaksies te bied waar hulle kan leer hoe om as deel van ’n groter gemeenskap te funksioneer.”
“Ons beplan ook ’n reeks aktiwiteite waar die verskillende studentegroepe bymekaar kan kom om saam te aanbid, saam te sosialiseer en net ’n aangename tyd saam te deur te bring.”
Hoe is julle tot seën vir die gemeenskap?
“Waypoint Ministries het besluit om die taak van uitreike onder die verskillende nodes te verdeel sodat die bediening nie net tot onsself beperk bly nie. Dit skep ook ’n geleentheid vir studente om diensbaar te wees in hul breër gemeenskap. Sommige van ons uitreike is gefokus op die persoonlike ontwikkeling van studente, soos Traptoer en Staptoer. Ander is gerig op diens aan die gemeenskap, soos ons Afrika-uitreike, Yzerfontein Stranddienste, Lesotho-uitreike, en Stadsuitreike (City Outreach).”
“In 2024 het ons vir ons Afrika-uitreik ’n span na Botswana gestuur om te help met herstelwerk aan ’n kerkgebou en om tyd saam met die plaaslike gemeenskap deur te bring.”
“Ons uitreike na Lesotho is ’n jarelange projek wat steeds ’n merkbare impak in Lesotho het. Studente bring tyd deur saam met die gemeenskap en help waar hulle kan.”
“’n Hoogtepunt vir baie studente is die Yzerfontein Stranddienste waar hulle ’n strandvakansie op ’n betekenisvolle manier deurbring deur kinders te vermaak en Jesus se liefde prakties uit te leef.”
“Met ons stadsuitreike (City Outreach) is ons weekliks betrokke by instansies in Bloemfontein — of dit nou is om tyd saam met kinders deur te bring, klere uit te sorteer by Torings van Hoop, of ’n speelpark in te rig by ’n plaaslike nagskuiling.”
“Ons blywende boodskap aan studente is eenvoudig: Ons moet die hande en voete van Jesus in die wêreld wees. Ons kan vir wonderwerke bid, maar dit verg ook dat ons self ’n hand uitsteek en gaan help waar nodig.”
Wie is jul vennote om jul arms te help versterk? In watter opsig help dit julle?
“Die bediening van studente is ’n intensiewe taak. Dit sou nie moontlik wees sonder die samewerking van die verskillende nodes nie. Alhoewel Kopanong as die vlagskip van multi-kulturele studentebediening in Bloemfontein funksioneer, werk ons nou saam met die NG Gemeente Pellissier en hul Jonk-bediening, die Universitas Geloofsentrum en hul Centre of Faith en die NG Gemeente Langenhovenpark en hul nuutgestigte S.I.N.K.-bediening. Elke node skep ’n veilige vesting vir studente en verskaf verskeie konneksiepunte, wat help om ’n meer permanente tuiste vir hulle te vestig.”
“Kopanong is die enigste node wat nie aan ’n groot gemeente gekoppel is nie. Die ondersteuning van die ander gemeentes help om die finansiële las van Studentebediening te dra. Elke gemeente dra by tot die sorg van studente wat by hulle inskakel.”
Wat is julle uitdagings en hoe kan mense jul bediening bystaan?
“Een van die grootste uitdagings in ons bediening is mentorskap aan studente. Daar is baie jongmense wat iemand ouer nodig het om mee te gesels — iemand wat leiding kan bied oor die daaglikse uitdagings en onsekerhede waarmee hulle te kampe het.”
“Benewens mentorskap, bly finansies ’n voortdurende uitdaging in die kerklike omgewing. Die bediening maak grootliks staat op die rente uit die belegging, maar omdat Studentebediening so prakties en aktief is, verg dit ook bykomende finansiële ondersteuning om ons werk effektief uit te voer.”
“Ons moedig mense aan om betrokke te raak by een van die studentegemeenskappe – leer ’n student ken en stap saam met hulle ’n pad.”
“Enige finansiële bydraes of ander vorme van ondersteuning word ook baie waardeer.”
Kontak Marlou by info@kopanongchurch.org vir meer inligting.




| verskaf deur: Marlou Strydom, bemarkings- en logistieke hoof, Waypoint Studentebediening.