Daar is ‘n gewilde uitspraak wat sê: “Die belangrikste ding is om die belangrikste ding, die belangrikste ding te hou.” En die belangrikste ding is altyd God. Dit geld vir elke saak of gebeurtenis in die lewe, maar op die sendingveld, nog te meer. God is die Alfa en die Omega (Open 1:8), die Begin en die Einde, die waarheid wat verkondig moet word. Gepaard saam met hierdie waarheid, kom die groot kommissie, ‘om te gaan na al die nasies en die mense My dissipels te maak” (Matt 28:19). Wat ‘n geweldige oproep waarin die liggaam van Jesus Christus nie kan kwyn nie!
‘n Opdrag waarmee ons Suid-Afrika verlaat, om diensbaar as gestuurdes, in die mooie ou Caprivi/Zambezi-distrik te wees. Die landskap getuig soos die Nederlandse geloofsbelydenis verklaar “dat die skepping is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik Sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien”. Dit is egter nie al nie! Om te verklaar wat die bediening in die Caprivi behels en wat dit vir elkeen betrokke, beteken, is onmoontlik.
Ons arriveer vuur en vol vlam, opgewonde om as gestuurdes vir die Here te werk. ‘n Besoek aan ‘n jeugsorgsentrum skop die verrigtinge af, waar daar tyd deurgebring is met talle jong mense van verskillende herkoms, elkeen opsoek na ‘n veilige hawe tot rus. Dit is hier by Zion-kinderhuis waar daardie wens ‘n werklikheid word vir elkeen van die jeugdiges en dit is ons groot voorreg om saam met hulle te sing, te speel en aan hulle elkeen hulle eie kombers as geskenk te gee. Die glimlag op elkeen van hulle gesigte, om iets van hulle eie te hê, is onbeskryflik. ‘n Belewenis wat nie een van ons kon verklaar nie, wat ná die besoek ook lei dat daar doodse stilte in die onderskeie voertuie is toe ons wegtrek na ons tydelike woning vir die volgende paar dae.
Vir die volgende vier dae reis ons deur die Caprivi-distrik, van “village na village”. Daagliks word daar besoek afgelê by twee gemeentes, elkeen afsonderlik in hulle eie “village”. Dit is by hierdie besoeke waar die inwoners stroom om ons met ‘n hartlike welkom te ontvang. Van handeklap tot drukkies uitdeel, tot verwelkomingsliedere wat getuig van die opregtheid en passievolle liefde vir die Here Jesus Christus onder die mense van die Caprivi. Dit laat mens wonder of ons soms dieselfde beeld van vreugde en blydskap oorgee as ons besoekers in ons midde ontvang.
Op die agenda by elkeen van die gemeentes is net om tyd saam met hulle deur te bring. Weens goeie verhoudings wat oor die jare opgebou is, is dit moontlik om vrymoedig met mekaar as gemeenskap van gelowiges ook ons bymekaarkoms te vier. Hier word vir ons gesing en gedans in tradisionele Losi-kultuur wat nie anders kan as om jou asem weg te slaan nie. Daar word saam uit die Woord uit gelees, ‘n kort boodskap gedeel, om ook ons eensgesindheid as kinders van die Lewende Here te bevestig. Soos altyd, word ons ook versoek om ‘n Afrikaanse lied vir die Capriviane te sing, en al is dit nie verstaanbaar vir elkeen wat dit hoor nie, deel almal in die aanbidding daarvan. Die sang het die manier gehad om ons en ons broers en susters van die Caprivi dieselfde lied te laat sing (al klink dit letterlik anders). Ons sing ‘n belydenis en viering van ons Lewende God wat ewig en altyd heers.
Dit is egter nie al wat gebeur nie! In hierdie tyd wat ons saam mekaar geniet, het ons ook die voorreg gehad om Bybels te skenk aan elke lidmaat in elke gemeente. As jy al ooit iemand opgewonde gesien het oor enige iets, dink weer, en maal dit met ‘n duisend, dan eers sal jy iets verstaan van wat dit vir hulle elkeen beteken het. ‘n Kort verhaal: “Een man, wat erken het dat hy nie in die gemeente is nie, maar wat net gevoel het hy moes vandag kom, het my persoonlik kom vra vir ‘n Bybel. Gelukkig het ons ekstra gehad, en ek kon vir hom gee. Hierdie man het die grootste glimlag wat ek nog ooit gesien het gehad, en kon nie woorde kry om sy dank uit te spreek nie. Hy gaan sit net daarna onder ‘n boom, soen die Bybel en begin die Woord oopmaak en lees. Vir die res van die tyd wat ons by die gemeente was, het daardie man net daar bly sit en lees, en met ons vertrek was hy steeds besig. Dit opsigself, het ons vir mekaar gesê, het al die beplanning en uitvoering van die uitreik, die moeite werd gemaak”.
Verdere aktiwiteite by die gemeentes het behels dat ons skitterende mediese sorg ook kon bied, met die hulp van opgeleide persone. Al was dit ook net tydelike verligting, het dit steeds ‘n enorme uitwerking gehad, veral in terme van die gesindheid tussen mekaar. Daar is ook spesiale aandag gegee deur ons jeugspan aan al die jeugdiges by die gemeentes, deur verskillende speletjies wat elkeen ten volle geniet het. Terwyl die jeugdiges besig gehou is, was daar ook geleentheid gewees vir die geestelike span om in gebed saam met elkeen te gaan wat gebed wou hê. Die behoefte vir gebed was vreeslik groot, veral na Covid-19 veroorsaak het dat ons as medegelowiges mekaar vir ‘n paar jaar nie kon sien nie. Gebed het ‘n prominente rol gespeel in voorbereiding tot die uitreik, maar ook in uitvoering daarvan. Dit het mens net weer herinner hoe belangrik is gebed ook vir en saam met mekaar is.
Die uitreik het nie net ten bate aan die mense by wie besoek afgelê word nie, maar vir elkeen wat gaan is dit ‘n geleentheid vir groei. Groei het sigbaar geword ook soos die uitreik voortgegaan het. Van die oggendwyding wat ons gereed maak vir die dag wat voorlê, tot om die aandgodsdiens af te sluit onder die maanligsterre, was dit duidelik dat elkeen elke dag al hoe meer besef waaroor ons werklik gekom het en beslis weer sal kom. In alles wat gedoen is tussen kos voorberei, na grappies vertel, tot ‘n bootrit op die Kwando-rivier, hang die besef net al hoe sterker dat “ons is hier as gestuurdes, om die evangelie van Jesus Christus oor te dra, uit te leef, en in gemeenskap met ons medegelowiges te vier”. Die roeping versterk ons in die uitreik, en rig ons op wat werklik belangrik is, en dit is God. Daar waar God erken word vir wie Hy werklik is, die Enigste God, daar is geloofsgroei altyd ‘n werklikheid. Dit is duidelik sigbaar onder ons, maar ook in die gemeenskapsviering saam met ons medegelowiges van die Caprivi, dat God werklik sigbaar was ook in hierdie uitreik. Wat ‘n geweldige vreugdesboodskap is dit nie, as mens weer terugdink daaroor nie!
As mens terugkyk, kan mens nie anders as om te glimlag nie. Glimlag, want mens besef net weer hoe geseënde geleentheid dit was. Glimlag, want mens besef net weer van voor af wat ‘n groot voorreg dit is om as gestuurdes, diensbaar ook onder ander medegelowiges in ‘n vreemde land te wees. Glimlag, dat God nog altyd self Sy kerk in stand hou. Sy kerk wat nie verbonde is aan landsgrense nie, maar wat strek oor die hele aarde. Wat ‘n vreugde om ook deel van Sy kerk te wees in die Caprivi!
Ons dank ons Here dat ons die vreugde van die evangelie kon sien, en op tye wanneer ons dit vergeet, net kan terugdink aan die Caprivi. Ons het nie net gegaan en gegee en die mense van die Caprivi se lewens verbeter nie. Nee, beslis nie! Ek wil sê dat die teenoorgestelde gebeur het: Dat ons lewens vir altyd verander is. Ons dank ons Here dat ons dit kan vier.
Mag elke gelowige altyd eg bly aan die opdrag wat ons Here ons gee. Mag ons dit nooit oor onsself maak, oor dit wat ons kan gee of kan ontvang nie. Mag ons altyd dit wat die belangrikste is, die belangrikste ding hou. Mag dit altyd gaan oor God, en oor Sy Koninkryk. Kom en deel in die vreugde om ook diensbaar in die Caprivi te wees, Amen!