Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Goeie bestuur – die sleutel tot ’n meer volhoubare kerk en kerklike instansies

Deur Mariëtte Odendaal

“As goeie beheerliggame aangestel word, kan dit daartoe lei dat opleidingsinstansies beter funksioneer en dat beter uitkomste gelewer word. Wanbestuur sal ook op hierdie manier in die kiem gesmoor kan word en goeie, deursigtige bestuur en uitvoering kan weer die vertroue van donateurs wen, wat daartoe kan bydra dat inisiatiewe opnuut ondersteun word.”

Dr Nico Mostert
Vennote in Getuienis

Die Reformed Family Forum (RFF), bestaande uit die algemene sekretarisse van al ons NG Kerkfamilies in Suid-Afrika en ons Gereformeerde susterskerke in Sub-Sahara- Afrika, vergader een maal per jaar.

Nico, hoe sou jy voorstel moet kerkleiers omgaan met donateurs?
“In die konteks waarmee ons vandag sit, is baie van ons kerke van donateurs afhanklik, so die strukture en instellings wat tot stand gebring is, kan nie regtig deur onsself onderhou word nie. Donateurs of vennote kom van buite af in om te help, maar met hul eie bepaalde oogmerke.

“As agtergrond is dit belangrik om te onthou dat geld wêreldwyd al hoe skaarser word. Soos daar ’n inkrimping in hoofstroomkerke hier in Suid-Afrika is, is daar ook ’n inkrimping in Europa en Amerika. Dit beteken dat geld wat wêreldwyd vir humanitêre hulp of sending beskikbaar is, ook al hoe minder word.

“Die kerke wat ontstaan het as afhanklike kerke van groter kerke is dus baie afhanklik van hierdie kerke vir die finansiering van hul werksaamhede, programme en instellings, maar hierdie fondse is besig om dramaties op te droog.

“My en kollega dr Daniël de Wet van Wes-Kaap se werk is om ons gesprek met donateurs en vennote wêreldwyd aan die gang te hou. Dit raak egter al hoe moeiliker. Donateurs het hul eie oogmerke of doelwitte wat hulle graag wil bereik met die geld wat beskikbaar is. Dit raak, namate geld al skaarser word, dus nou baie meer gedefinieerd. So, geld word nie meer net gegee nie, maar gegee met ’n bepaalde doel.
“Een van ons grootste struikelblokke in Afrika is om werklik verantwoordbaar vir en deursigtig te wees met die geld wat ons ontvang. In baie gevalle het programme doodgeloop en donateurs onttrek omdat daar nie deursigtigheid was nie; daar is nie verantwoordelikheid aanvaar vir die gebruik van die geld nie.

“My raad aan kerkleiers is: Moenie met die geld wat jy ontvang, omgaan soos jy wil nie; speel volgens die reëls wat deur die donateurs vasgestel is. Jy moet sélf bepaal of jy die geld van die donateur wil ontvang of eerder nie. As daar byvoorbeeld te veel bepalings op die donateur se lys is waarvoor jy nie kans sien nie, stel ek voor dat hierdie geld dan eerder nie aanvaar word nie.

“Die hartseer wat ons sien, is dat die geld dikwels as gevolg van groot desperaatheid eenvoudig net aanvaar word. Jy aanvaar dus geld wat jy weet jy nie volgens die donateurs se bedoeling kan aanwend nie. Jy gaan dus nie deursigtig daarmee om nie en daar sal ook nie die nodige wees nie. Geouditeerde state, goeie finansiële bestuur en al daardie belangrike bestuursbeginsels is dan afwesig.

“Eintlik word daar vandag eerder van vennootskappe in plaas van donateurs gepraat. Wêreldwyd sal min instellings ’n donateur wees wat net geld gee. Gewoonlik word dit in ‘n vennootskapsooreenkoms of memorandum van verstandhouding gedoen: ‘Ons sal hierdie en hierdie fondse beskikbaar stel, maar dan moet dit en dat die uitkomste wees wat ons graag wil sien.’

“Ons kerkleiers sal baie meer aandag hieraan moet gee en ons eie interne sisteme moet opgradeer en goeie verhoudings met donateurs moet hê. Jy kan nie net besluite neem en nie jou donateurs en vennote inlig nie. Jy kan nie net jou eie ding doen met die geld wat hulle vir jou gee nie; dis ’n samewerkings- en vennootskapsverhouding en ons sal as kollegas moet saamwerk om juis dit te versterk.”

 | verskaf deur dr Nico Mostert: Groepbesprekings tydens die aanbieding van ds TK Ilesanmi oor ‘Good governance as a key to a more sustainable church and church institutions’.

 | verskaf deur dr Nico Mostert: Ds TK Ilesanmi en dr Nico Mostert.

Kontak gerus vir meer inligting:

Dr Nico Mostert | missio@ngkvs.co.za

Vorige skakels na hierdie artikels: