Deur die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
Wat is ’n teologies-kategoriale ring?
Tydens die vergadering van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat op 10 Maart 2025 is die stigting van ’n teologies-kategoriale ring in beginsel goedgekeur. Die besluit van die Moderamen hieronder verduidelik die agtergrond en die proses:
Die Moderamen
- bevestig dat daar van drie gemeentes ’n amptelike skriftelike versoek ontvang is om by ’n moontlike teologies-kategoriale ring in die NG Kerk Vrystaat in te skakel;
- besluit dat daar voortgegaan word om hierdie drie gemeentes by te staan in die byeenroep en konstituering van ’n teologies-kategoriale ring waarin hulle hulself geestelik sou kon tuisvind, binne die NG Kerk Vrystaat en ingevolge alle bepalinge van die Kerkorde oor ringe (Artikels 29 tot 31);
- besluit dat die byeenroep, samestelling en konstituering van so ’n teologies-kategoriale ring aan die hand van die prinsipiële en praktiese advies van die STK sal geskied, naamlik –
3.1 dat geeneen van die bestaande vyftien geografies-saamgestelde ringe in die NG Kerk Vrystaat nou in ’n teologies-kategoriale ring verander nie, maar dat ’n nuwe ring vir dié doel byeengeroep en gekonstitueer word;
3.2 dat gemeentes wat by so ’n teologies-kategoriale ring (wil) inskakel en die ring self, hulself teologies sal identifiseer of definieer, ten einde duidelik te stel waarom en hoe hulle van ander geografies-saamgestelde ringe onderskei wil word;
3.3 dat die inskakeling van ’n gemeente by so ’n nuwe teologies-kategoriale ring volledig is (dus kan ’n gemeente nie tegelykertyd met amptelike verteenwoordiging aan twee ringe behoort nie), en dat die gemeente dus in hul nuwe ring in die amptelike werksaamhede van ’n ring soos in Artikel 31 beskryf (31.1, 2, 3, 5, 8, 9, 10 en 11) deel, maar dat sake van ’n meer “gemeenskaplike roeping en gesamentlike werksaamhede” (31.4, 6 en 7) nog in oorleg met die oorspronklike geografiese ring bespreek en onderneem/voortgesit kan word;
3.4 dat dieselfde riglyne wat geld vir die hantering van ’n gemeente wat by ’n ander sinode as hul eie wil inskakel (Kerkorde Artikel 32 ens.), ook in die geval van gemeentes wat by so ’n teologies-kategoriale ring wil inskakel, gevolg sal word, naamlik:
3.4.1 dat die kerkraad van daardie gemeente hul standpunt beredeneer en dit met die gemeente bespreek (’n afkondiging vooraf, uitnodiging na ’n inligtingsgeleentheid, hantering van vrae of terugvoer uit die gemeente), sodat daar verkieslik geen besware daarteen by die gemeente sal wees nie, en/of volledige instemming met die voorstel en die implikasies daarvan;
3.4.2 dat hierdie bespreking van die kwessie met die gemeente die kerkraad sal lei in hul besluitneming hieroor, wat a) met ’n gewone volstrekte meerderheid van stemme in ’n kerkraadsvergadering geneem word, en b) vir approbasie weer aan die gemeente deurgegee word;
3.4.3 dat die kerkraad daarna ’n skrywe aan hul huidige ring rig om dié in te lig oor hul versoek, die motivering daarvoor en hul voorneme om alle praktiese implikasies hiervan met die ring uit te klaar;
3.4.4 dat die kerkraad dieselfde skrywe aan die nuwe teologies-kategoriale ring deurstuur, sowel as na die Moderamen vir kennisname van die versoek en die proses;
3.4.5 dat die kerkraad en die huidige ring of sy gevolmagtigde mekaar ontmoet om die besluit van die kerkraad te bespreek, hul motivering aan te hoor en om oor praktiese kwessies soos gesamentlike projekte, ringsfondse en samewerking in plaaslike verband uitklaring te kry (sien Art. 31.4, 6 en 7);
3.4.6 dat na afloop van sodanige ontmoeting tussen die kerkraad en hul huidige ring, en indien instemming oor alle aspekte verkry is, die ringskommissie dan ’n skrywe aan die Moderamen rig waarin kennis gegee word dat aan alle vereistes voldoen is en die ring instem dat die betrokke gemeente oorgaan na die teologies-kategoriale ring;
3.4.7 dat die ringskommissie van die huidige ring ’n soortgelyke skrywe aan die teologies-kategoriale ring rig met die mededeling dat die betrokke gemeente se aansoek deur die ring goedgekeur is, en ’n versoek dat die teologies-kategoriale ring die gemeente onder hul sorg sal neem;
3.4.8 dat die Moderamen by ’n eersvolgende vergadering ná die aansoek ontvang is en alle prosesse afgehandel, die gemeente se oorgang na ’n nuwe teologies-kategoriale ring goedkeur, en daarvan in die kerkverband kennis gee; en
3.4.9 dat eers hierná, die gemeente volledig deel is van die nuwe teologies-kategoriale ring.
4. onderneem om sodra hierdie besluit oor die byeenroep en konstituering van ’n teologies-kategoriale ring goedgekeur is, dit in die Vrystaatse kerkverband bekendgemaak sal word, en dat ander gemeentes wat tot so ’n teologies-kategoriale ring sou wou toetree, dit skriftelik aan die Moderamen moet kommunikeer en hul amptelike aansoek dan volgens die prosedure in par. 3 hierbo, aan die betrokke kerkvergaderinge sal rig en as sodanig gehanteer sal word;
5. bevestig dat aangesien hierdie ’n nuwe weg vir gemeentes in ons kerkverband open, ter wille van die welwese van ons NG Kerk in die Vrystaat as geheel, dit deur almal met die nodige welwillendheid gehanteer sal word en daar nie sprake kan wees van werwing onderling vir of teen bestaande ringe of vir/teen ’n te stigte teologies-kategoriale ring nie;
6. besluit dat die byeenroeping en konstituering van ’n nuwe teologies-kategoriale ring met wedersydse kommunikasie tussen die betrokke gemeentes en ring self, en die Moderamen (namens die Sinode van die NG Kerk Vrystaat) sal verloop, wat insluit die monitering van en verslaglewering oor die verloop van prosesse, ten einde ook behoeftes of uitdagings wat mag ontstaan, gesamentlik te hanteer (dit sluit die moontlikheid in dat so ’n ring later mag verdeel);
7. bevestig daarmee ook dat hierdie ’n dinamiese proses is, wat van tyd tot tyd geëvalueer sal moet word, en dat die moontlikheid steeds bestaan dat gemeentes ná ’n proeftydperk mag besluit om na hul oorspronklike geografies-gebaseerde ring terug te keer, in welke geval dieselfde prosedure as hierbo by punt 3 uitgespel, gevolg sal moet word; en
8. onderneem om by die volgende Sinode van die NG Kerk Vrystaat in 2026 volledig verslag te lewer oor die verloop van hierdie proses rakende ’n teologies-kategoriale ring(e), die invloed daarvan op die funksionering van ringe in die algemeen in die Vrystaat en in watter mate dit geslaag het om gemeentes langs ’n welwillende weg te help om hul bediening in vryheid, verantwoordelikheid en vrede binne die NG Kerk Vrystaat en ons landstreek te vervul.