Die Interim Komitee van die Sinode van die NG Kerk Vrystaat het met hartseer, maar ook begrip, kennis geneem dat die laaste papier-gedrukte Volksblad koerant, wat as feesuitgawe op 7 Augustus 2020 verskyn het. Hierdie gewaardeerde Afrikaanse dagblad sal voortaan hopelik in elektroniese formaat bly voortbestaan.
Vir meer as ‘n eeu lank het die Volksblad ‘n reuse rol gespeel om die Afrikaanssprekende gemeenskappe in die sentrale streek van ons land met nuus, inligting, leidinggewende kommentaar en ander gemeenskapsgerigte projekte te bedien. Die Volksblad was deur veelbewoë jare immer dáár: die opbou na die Anglo-Boereoorlog, Uniewording (1910), die Rebellie (1914), die Groot Griep (1918), die armblanke vraagstukke en die depressiejare (1920’s en 1930’s), die Tweede Wêreldoorlog en opkoms van Afrikaner Nasionalisme (1940’s), die jare van Apartheid (1948-1994), die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika (1994), die eerste
dekades van die 21ste eeu met die groot, nuwe uitdagings wat hierdie era meebring. Daar was laagtepunte, rampe en pynlike momente wat Volksblad vir die gemeenskap help verwoord het, maar ook hoogtepunte en oorwinnings wat die koerant feestelik help vier het. Deurgaans is die Afrikaanse taal verryk en gedien. Die koerant het ‘n belangrike en vormende rol in hierdie streek se gemeenskappe gespeel.
Natuurlik was die bril waardeur die Volksblad na gebeure gekyk het – soos by die kerk ook maar! – nie altyd vry van vooroordeel en uitsluiting nie, maar daar was altyd die wil om so gebalanseerd en konstruktief moontlik by die wel en weë van hierdie gemeenskappe betrokke te wees.
Oor al die jare was daar ook ‘n openheid om oor godsdienstige en kerklike sake te berig; daar was ‘n hartlike (maar soms ook kritiese) verhouding tussen kerk en koerant. In die Volksblad was daar vir die kerklike gesprek altyd ruimte gemaak. Daarvoor het die NG Kerk Vrystaat groot waardering, teenoor die koerant, die onderskeie redaksies, die joernaliste en ander personeel (ook die koerantverkopers).
Nou breek daar noodwendig ‘n nuwe era van digitalisering aan. Dit bied nuwe moontlikhede, maar ook uitdagings om op ‘n eerlike en verantwoordelike wyse oor die nuus van die dag te berig en menings te help vorm. Die brug tussen gemeenskappe (ook oor taal-, ras- en kultuurgrense heen) moet geslaan word; die onreg en morele verval moet uitgewys en bekamp word; ‘n ingeligte en verantwoordelike burgerskap moet gebou word; en daar moet heling in ons gebroke gemeenskappe gebring word. In hierdie proses behoort daar steeds ook ruimte vir gesprek oor God Drie-enig en oor die kerk se rol in die gemeenskap geskep te word. Daarin sal die kerk graag met die koerant bly handevat.
Die NG Kerk Vrystaat bid die Volksblad ryke seën toe op die pad vorentoe.