Skip to content Skip to footer

Verskeie kerke hou saam basaar in suide van Bloemfontein

Deur dr Enrico Casaleggio, leraar van NG Gemeente Fichardtpark

Waar tafels kreun onder tuisgebak se geur,
en hande saamwerk in diens en seën,
daar groei gemeenskap soos wingerd in sonlig –
elkeen ’n loot, verbind in geloof se gloed.
Kinders lag, oumas bid, en liedere vul die lug –
’n fees waar hemel en aarde mekaar ontmoet.

Dit is sommer ’n paar reëltjies wat ek geskryf het na aanleiding van ’n wonderlike basaar wat ’n hele aantal kerke in die suide van Bloemfontein saam op 1 Augustus gehou het. Uit NG-geledere was daar Fichardtkruin, Fichardtpark, Fauna, Hospitaalpark, Pellissier, Brandfort, Lig Gemeente en Uitsig. Ander kerke wat hierby betrokke was, is Therapea Volle Evangelie Kerk, Lede in Christus, die Hervormde Kerk Bloemfontein-Wes en Gereformeerde Kerk Bloempark.

ENGO, Ons Kinder- en Gesinsorg en die Bybelgenootskap het ook stalletjies daar gehad. In Psalm 133:1 lees ons woorde wat die feestelikheid en eensgesindheid van dié kerke mooi saamvat: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!”

Hoewel hierdie geleentheid, wat jaarliks op Altonapark in Fichardtpark aangebied word, in die eerste plek ’n geleentheid bied vir die kerke in die suide van Bloemfontein, is ander kerke ook welkom om deel te word van hierdie basaar.

Dit bevorder ’n positiewe gemeenskapsgees deur mense van verskillende agtergronde saam te bring in ’n atmosfeer van vreugde en samehorigheid. Daarmee saam bied dit ’n geleentheid vir die kerke om fondse in te samel vir liefdadigheid, sendingwerk of plaaslike projekte wat ’n verskil maak. Mense van verskillende ouderdomme werk en kuier skouer aan skouer saam. Kinders en jongmense leer hier waardevolle lewensvaardighede soos diensbaarheid, spanwerk en verantwoordelikheid deur hul betrokkenheid.

Die basaar was deur en deur ’n kerklike fees wat ons geloofsverbondenheid versterk het deur ’n ruimte te skep waar aanbidding, dankbaarheid en vreugde natuurlik saamgevloei het met die reuk en smaak van goeie kos.

Elke gemeente het ’n unieke dis of produk verkoop waarop hulle alleenreg gehad het. Daar was byvoorbeeld ’n tafel met vars vleis en een wat vlakvark-salami’s verkoop. Die publiek kon ook heerlik kom smul aan ’n Argentynse potjie, kerrie en rys, slap chips, sosaties, koeke, terte, vetkoek, worsbroodjies, verskillende hamburgers, basaarpoeding en vele meer.

Dit was ’n uiters geseënde geleentheid en almal wat daarby betrokke was, sien uit daarna om van volgende jaar se basaar ’n nog groter sukses te maak.

 | Verskaf deur: Dr Enrico Casaleggio