Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Daders van Koninkrykstyd

Deur ds Willie Griesel, leraar van NG Gemeente Hertzogville

So gaan dit ook met die geloof: As dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”

Jakobus 22:17 AFR83

In hierdie tyd van die liturgiese jaar, staan ons stil by Koninkrykstyd.

Dit is die tydperk ná Pinkster tot en met Advent wat in die kerkjaar bekend staan as Koninkrykstyd. Dit gaan in Koninkrykstyd daaroor dat die heerskappy van die drie-enige God; Vader, Seun en Heilige Gees, sigbaar sal wees in elke faset van ons lewe. Ons word herinner aan die roeping om die gawes wat ons tydens Paasfees en Pinkster gevier het, in ons alledaagse lewe uit te leef. Deur ons optrede moet die koms van God se koninkryk sigbaar gemaak word deur ons betrokkenheid by die materiële, geestelike en emosionele nood in die wêreld.

Koninkrykstyd herinner ons telkens aan die eenheid en interaksie tussen wat ons bely en hoe ons lewe, tussen die teks en ons konteks, tussen kerk en wêreld, tussen woord en daad.

Ek wil graag kyk na die gedeelte van 2 Timoteus 4:1-5:

  • Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap:
  • Verkondig die Woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee,
  • want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.
  • Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.
  • Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.

Wanneer ons hierdie gedeelte lees, ervaar ons egter Koninkrykstyd so tasbaar.

In die eerste vers van hoofstuk 4 word daar aan elkeen van ons ook die opdrag gegee dat ons altyd in ag moet neem met wie ons te make het. Jy as gelowige staan voor Christus. God sal oordeel so seker as wat ons bewus is van Sy straf, seën, liefde en genade. Sy oordeel is regverdig.

Die opdrag aan ons strek egter nog verder, dat ons die Woord moet verkondig, in al sy fasette, nie aan ’n spesifieke groep mense nie, maar aan almal. Die vraag bly egter of die mense dit altyd ewe goed gaan ontvang. Die antwoord hierop is egter hartseer, maar ’n besliste NEE. Mense wil nie die Woord hoor in al sy eerlike openlike oordeel en verlossing nie.

Vers 4 gee ons egter die antwoord – mense wil hoor wat hulle wil hoor. Daarom is baie mense en gemeenskappe daaraan skuldig om vir hulle leermeesters bymekaar te maak en aan te stel wat sê wat hulle graag wil hoor. Nes die profete van ouds, die valse profete wat gesê het wat die mense wil hoor en hulself op so ’n manier gewild gemaak het onder die mense, maar by God het die oordeel gekom.

Jy as gelowige staan egter ook voor God en God gaan oordeel oor elkeen van ons. Daarom word ons geroep tot getroue Woordverkondiging. Bly by die Woord, bly by die Bybel.

Dit is so maklik om konflik te vermy deur iets maar te laat gaan en te sê dalk het jy ook ’n punt beet. Mense se verdigsels is egter van so aard dat hulle dit so verdraai dat dit hulle sal pas.

Geen mens se oordeel is ewig nie en geen mens se oordeel kan ooit korrek wees nie. Daar is net een wat korrek kan oordeel en dit is God en net God sal oordeel by Sy koms.

As jy dalk die Skrif op so ’n manier aanwend dat die skrif inpas by jou lewe en jou lewe nie by die Skrif nie, gaan dit nie so goeie einde aan jou lewe wees nie.

Wees en raak jaloers oor die suiwer verkondiging van die Woord van God elke dag.

Dit is tog waaroor Koninkrykstyd gaan. Dit gaan daaroor om nie net hoorders te wees van die Woord nie, maar daders.

“So gaan dit ook met die geloof: As dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.” Jakobus 22:17 

 | verskaf:  Ds Willie Griesel, leraar van NG Gemeente Hertzogville.

116 | Maatskaplike NOODLYN