Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Gideon van der Watt: Die middestad vertel ’n storie

Oorgeneem uit Netwerk24 en Volksblad, 10 Oktober 2023 | Deur dr Gideon van der Watt

“In St Georgesstraat stap ons verby die eerste Raadsaal, wat ook die beginjare van kerk en skool was; verby Andrew Murray se pastorie, verby die Roomse en Anglikaanse katedrale; verby waar die Lutherse kerk eers was; ons maak ‘n draai by Waaihoek waar die ANC in ‘n Metodiste kerkie gestig is.” –

| Dr Gideon van der Watt

Dr Gideon van der Watt vertel boeiend van die #loopvirhoop op erfenisdag in Bloemfontein se middestad.

Loop vir Hoop is ‘n nuwe, landwye inisiatief. Dis deel van ‘n groeiende spiritualiteitsbeweging waarin die eeueoue pelgrimstog as reis oor grense herontgin word, ‘n reis wat uiteindelik ook inwaarts keer, geestelike verruiming bring.

Onlangs het ‘n gawe groep mense ‘n koue Erfenisdag met so ‘n staptog deur die middestad van Bloemfontein gevier, ‘n Loop vir Hoop. By ‘n klomp historiese bakens het ons verbygestap, met entoesiastiese argitek-gidse wat die ou stories uit die sandsteengeboue loswikkel, die geskiedenis lewend maak.    

Die staproete het by die Tweetoringkerk begin, splinternuut geverf. Vandaar is ons Hoffmanplein toe, deur die besige Kerkstraatsteeg waar immigrante uit ander Afrikalande die stalletjies beman. Dadelik was daar die nostalgie: hier het ons destyds kom inkopies doen en deftig in die teekamer koek geëet; as studente saans winkelvensters loop en bekyk;  hier was die ou Sonop-winkel, Fichardt’s en die Cecil Hotel waar ons ouers ons eenmaal middagete laat eet het – om ons wilde plaaskindertjies bietjie etiket te leer; die statige Poskantoor waar ons pakkies weggestuur het – betroubare diens, goeie ou dae.

En tog wonder jy: was dit regtig “goeie ou dae?” Dié doelbewuste uitsluit van die grootste deel van die gemeenskap? Die aandklokke wat mense uitjaag, tot ver buite die stad? Mense wie se nasate duidelik geen erg aan dié middestad-nalatenskap het nie.   

Die hoofstraat is vernoem na Charlotte Maxeke, ‘n formidabele vroueregte aktivis, Christenleier. Dit het die naam Maitlandstraat, vernoem na ‘n koloniale Kaapse goewerneur, vervang. Hier staan ons stil by die geboorteplek van JJR Tolkien, die beroemde skrywer van Lord of the Rings, en aan die bokant van die straat die standbeeld van Jan Brand, president van die model Republiek van die Oranje Vrijstaat, hy wat immer gesê het: “alles zal recht komen … als elkeen zijn plicht doet.” Agter die standbeeld staan die ou regeringsgebou in tipiese Engelse koloniale styl en met ‘n besonder imposante toring, deesdae die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum waar ook Sesotho literatuur bewaar word. Daaragter troon die Verwoerdgebou nog hoër uit – nou die Lebohang gebou wat steeds die provinsiale administrasie huisves. Die geboue vertel elk ‘n storie van eras wat kom en gaan, nuwe heersers wat stempels afdruk, goed én sleg, en dan deur die gang van die geskiedenis agterhaal word – geboue en stadsruimtes wat nooit “neutraal” is nie.   

Ons stap oor die smerige Hertzogplein, waar die stigter van die Nasionale Party vereer moes word. Dit lê tussen die Vierde Raadsaal, setel van die Vrystaatse Parlement, die neo-klassieke stadsaal wat onlangs afgebrand en herbou is, die Appèlhof en die Nasionale Museum. In St. Georgesstraat stap ons verby die Eerste Raadsaal, wat in die beginjare ook kerk en skool was; verby Andrew Murray se pastorie, waar Mev. Murray by die kerkraad geneul het tot die misvloer met ‘n plankvloer vervang is; verby die Roomse- en Anglikaanse katedrale; verby die plek waar die Lutherse kerk eens was;  ons maak ‘n draai by Waaihoek, waar die ANC in ‘n Metodiste kerkgeboutjie gestig is, en terug deur die besige taxihalte vol huis- en tuinwerkers, arbeiders in ons voorstede wat tussen Bloemfontein en Botshabelo moet pendel.

Inderdaad, dis goed ons steek grense oor, tussen gister en vandag, vuil en skoon, kulturele-, sosio-ekonomiese- en taalruimtes, verby kerke wat langs mekaar staanplek gesoek het, eras wat mekaar opgevolg het, wêrelde in een stad, maar vreemd en daarom bang vir mekaar.  

So met die stap groei die wete van verganklikheid, verlies, die niet, maar ook dat jy jou nóú bevind binne nuwe, polsende ritmes, geure, kleure en klanke, lewe wat voortstu. Die middestad is nie leeg nie; ook hier is mense met drome, verdriet en vreugde.  

Dis goed om oor grense te stap, want as jy fyn kyk en luister, vind jy God weerskante van Bloemspruit, ook anderkant die spoor.  

116 | Maatskaplike NOODLYN