Deur ds Jan Venter, leraar van LIG-gemeente, NG Gemeente Gardeniapark
Ons lees in 2 Samuel 5:23 (AFR20): Toe Dawid die Here raadpleeg, het Hy gesê: “Moenie van voor teen hulle optrek nie; trek agter hulle om en val hulle aan voor die balsempopuliere.”
Nou wat is so spesiaal aan hierdie woorde? Kan dit rigtinggewend wees in my wandel met God? Absoluut, want God se Woord is ryk. Kyk die konteks. Dawid het sopas teen die Filistyne geveg. En gewen.
Maar hulle kom vir rondte nommer twee.
Dis opmerklik dat Dawid nie meen: ek sal hulle maar net weer pak slae gee nie. Hy neem dit nie as vanselfsprekend aan nie. Hy vertrou nie sy vroeëre sukses en strategie tot sukses nie. Hy steun nie op die verlede en sy ervaring nie. Hy raadpleeg eers gou weer die Here. Want Hy weet waar sy sukses lê. Sy hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het – die ou Joodse credo.
Gelukkig ook dát Dawid die Here raadpleeg. Want waar die Here die oorwinning die eerste rondte met ’n direkte aanval van vóór op hulle vyande gegee het, wil die Here hê hulle moet die vyand nou omsingel en van agter aanval.
Kan ek jou vra: het jy die Here geraadpleeg voordat jy vanoggend jou huis se deur agter jou toegetrek het?
Het jy gevra: “Here, wat wil U hê moet ek vandag doen …? Heilige Gees, ek het hierdie situasie, sal U my help en lei?”
Ons bid baie keer in die oggend en dan hardloop ons met die dag. Ons open ’n vergadering met gebed, en aanvaar dit “dek” die hele vergadertyd.
Dit sal wys wees om Dawid se Godsbewussyn te hê en deurgaans te vra: “Here, wat wil U …?”
Om God te raadpleeg, is ook om te glo Hy bestaan regtig. Glo ons die Here lewe en is rêrig? Hoekom Hom dan nie raadpleeg en hoor wat Sy wil is nie? Dit sal goed wees om Dawid hierin te volg.
| Verskaf: Deur ds Jan Venter, leraar van LIG-gemeente, NG Gemeente Gardeniapark

