Deur dr Martin Laubscher | Erediens Netwerk
Onlangs begin ek weer lees aan die boek Rut, en sommer reg aan die begin staan dit soos ’n paal bo water: Die fokus is nie op die sterk manne (groot regerings en ander maghebbers) nie, maar op ’n familie se stryd om oorlewing, en veral hul ironiese soeke om (weer) die Huis van Brood te vind. Hierdie stryd ken letterlik en figuurlik geen grense nie. Meer nog, die fokus is nie soseer op jou tipiese geïdealiseerde vertoon van familie nie, maar eintlik op die “saamgestelde” veerkragtigheid en die “optel”-geloof van weerlose immigrantevroue wat saam loop en in ons midde kom staan. Teenstrydig met alle natuurlike verwagtinge tree transendensie na vore. Hierdie verhaal bly resoneer met ons nog lank vóór en ná die afgelope vrouenaweek en -maand.
Reeds in die eerste vyf verse ontplooi hierdie lyn van vertelling op dramatiese wyse. Veelseggend en heilspellend hoor ons reg aan die begin die name van die manne in hierdie verhaal – waarskynlik net nog ’n verdere aanduiding dat ons hier meer met verhaal as met geskiedenis te make het. Hier hoor ons van ’n ander stel feite en waarhede wat van iets dieper wil getuig. Die pa heet Elimelek, wat beteken “God is Koning”, maar die twee seuns ken ons as Maglon en Kiljon, wat onderskeidelik sinspeel op “siekte” en “vermorsing”. Nood en lyding is beslis Naomi (en Rut, die hoofkarakter wat nog kom) se voorland, maar reeds uit die staanspoor is daar ’n aanduiding van wat haar man se naam vir haar en haar vreemde skoondogter vorentoe sal beteken. Vir tyd en wyl is sy nog “aangenaam”, maar binnekort gaan die wiel draai, sodat haar reis as verbitterde vrou na vore gaan tree. En dit gebeur soos die manne in hul lewens vroeg uit die prentjie wegval (vers drie en vyf).
Hierdie verhaal gaan oor weerlose vroue in die vreemde. En tog ook oor soveel meer. Strydig met en dog so eie aan ons samelewings, word die vreemde weerlose vroue voorop gestel in die verhaal; ons word op reis geneem na ’n groter en dieper werklikheid van hoe God met ons praat deur bepaalde mense in ons midde te stel.
Maar hoe sal God dan nou ooit so voor ons kom staan?
Seker maar op dieselfde manier as wat die dissipels ook jare later met die aanhoor van (Matteus 25:44) sou ontdek: “Here, wanneer het ons U honger of dors of ’n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en nie gehelp nie?” Waar ook al ons gaan en verlang om te wees, hiervan kan ons nooit ontvlug nie. So sal mens die Huis van Brood weer vind!
En so staan Stef Bos se “Vrouwen aan de macht” ook weer op: “Dat is wat ik zag / In een droom vannacht / Ik zag de vrouwen aan de macht / En wat een mooie toekomst / Vrouwen aan de macht / Ze nemen ons uit eten / En ze betalen het gelag / Wij luisteren en lachen / Zij doen voor ons hun best / En ze maken carrière / En ze sterven van de stress / Het is mooier dan ik dacht / Wat ik zag vannacht / De wissel van de wacht / Vrouwen aan de macht.”
Stil manne! Sy (en haar dogters) kom verby!