Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Betekenisvolle veroudering – ons Gerontologie Netwerk

As jy deesdae deur jou ouers se foto-albums blaai en na die vergeelde foto’s kyk, staan jy dikwels verstom om te hoor hulle was op daardie foto’s dieselfde ouderdom as jou oom of tannie (of jyself!) wat in vandag se tyd nog baie betrokke en aktief in hul gemeenskappe is. Tye het beslis verander. Ons hoor dit dikwels. Mense raak ouer en baie mense werk ook langer of raak betrokke by iets wat vir hulle belangrik is en aan hul lewens
betekenis gee.

By die Sinode Vrystaat is ds Jors Reynders van die NG Kerk Bloemheuwel die sameroeper van die  Gerontologie Netwerk; ’n netwerk wat hulle op betekenisvolle veroudering toespits – iets wat van besondere betekenis is vir die tyd waarin ons nou leef, en veral vir hoe ons die toekoms ten opsigte van betekenisvolle
veroudering sal moet aanpak. Ons het by ds Reynders gaan kersopsteek hieroor.

Waar kom die begrip ‘gerontologie’ vandaan?


Ds Reynders verduidelik dit as volg: “Gerontologie  kan kortliks beskryf word as die studie van  veroudering, veral onder ouer volwassenes. Die  woord, gerontologie, is rondom die 1950’s wêreldwyd begin gebruik, aangesien die ontwikkelings in die mediese- en tegnologiese wetenskappe daartoe bygedra het dat die lewensverwagting van mense  wêreldwyd drasties begin styg het en getalle ouerwordendes toegeneem het.”

“Daar is diverse navorsing rondom hierdie tema binne verskillende velde gedoen. Dit sluit in sielkunde, sosiologie, publieke gesondheid, geriatrie (medies), argitektuur en pastoraat. Laasgenoemde is veral vir die kerk belangrik.” Dr Petrus Moolman het in hierdie opsig baanbrekerswerk vir die NG Kerk met sy proefskrif Holistic, Motivational Life Management in Ageing: A Gerontological-Pastoral Perspective (2018) gedoen. Daarna het hy ook ’n baie maklik-verstaanbare boekie geskryf vir gemeentebediening, naamlik Leef: ’n Vars kyk op senior volwassebediening in die Geloofsgemeenskap.

Waarom is die Gerontologie Netwerk van belang vir die kerk?


Op hierdie vraag antwoord ds Reynders as volg: “In die tema van dr Moolman se proefskrif kry jy die woord, holistic. Die belangrikheid van so ’n holistiese benadering in die kerk is eerstens die besef dat die bediening van én die bediening aan senior volwassenes in die kerk die kundigheid van ander dissiplines moet insluit.”
“In die verlede het die kerk hoofsaaklik net pastoraal gefokus op, soos dr Moolman dit noem, die soteriologies-eskatologiese element in die ouerwordende lidmaat se lewe. Daar is byvoorbeeld net gefokus op die vraag ‘Is jy gereed vir die dood en daarna?’”


“Hierdie uitgangspunt sal verbreed moet word sodat gemeentes senior volwassenes in die kerk én die samelewing kan help om die ‘lewe vóór die dood’ as betekenisvol te beleef, met ander woorde end-uit! Vandaar ook die slagspreuk van ons Gerontologie Netwerk, Betekenisvolle Veroudering.” Ds Reynders verduidelik verder: “Die Gerontologie Netwerk wil juis ten opsigte van betekenisvolle veroudering ’n ondersteunende bydrae aan gemeentes en die samelewing lewer. Kerkspieël 2018 se inligting wys dat tot 27% van die belydende lidmate van die NG Kerk, reeds bo die ouderdom van 60 is. Hierdie persentasie kan nog vinniger styg as gevolg van die emigrasie van jonger lidmate ter wille van beter werksgeleenthede in die buiteland.” (Die verwerking van 2022 se statistieke van Kerkspieël sal eersdaags verskyn, aldus prof Kobus Schoeman.)


“Juis omdat die Gerontologie Netwerk die kerk en samelewing wil dien, werk ons komitee nog aan die bewoording van die volgende visie en missie. Tans is ons visie die bevordering van betekenisvolle veroudering onder senior volwassenes in die Vrystaatse kerk en samelewing. (Let wel, die woorde bejaarde en oumensies, is uitgediende begrippe!) Ons missie is tans om die sinodale gebied van die Vrystaatse NG Kerk met holisties gerontologiese inligting en praktyke te dien sodat die kerk, saam met ander vennote, senior volwassenes in die provinsie optimaal in die proses van betekenisvolle veroudering kan ondersteun.”

Hoe gaan dié Gerontologie Netwerk ’n verskil aan ons gemeenskappe maak?


Hierop verduidelik ds Reynders as volg: “Ek is oortuig daarvan dat ons samelewing ’n kopskuif sal moet begin maak rakende die proses van veroudering. Hierin wil dié Netwerk instrumenteel wees.”


“Jonger mense sal daarop moet let dat daar nie neerhalend oor afgetrede mense gepraat moet word as byvoorbeeld has-beens nie. Menswaardigheid hou nie op by aftrede nie. Daarmee saam moet afgetredenes hulself ook nie as old dogs beskou wat nie meer in die kerk en samelewing van betekenis kan wees nie.” “Kennis is mag! Daarom glo ons dat inligting uit kundige vakgebiede verkry moet word en lidmate daaraan blootgestel moet word om hulself as senior volwassenes te bemagtig. Die belangrikheid van liggaamlike oefening binne die grense van jou funksionaliteit is byvoorbeeld belangrik; ook die stimulering van jou brein en sosialisering met ander mense. Dis ook belangrik om op te let na liggaamlike tekens wat vroegtydig mediese behandeling verg. Watter kennis moet ingewin word om finansiële sekuriteit te handhaaf in ’n tyd waarin baie ouerwordende mense met skelmstreke ingeloop word? Let op na persoonlike veiligheid, ensovoorts; die lys is lank.”

So, hoe kan geïnteresseerde lidmate hierby betrokke raak?


Ds Reynders verduidelik: “Ons ideaal is om aanvanklik ’n gemeente- of ten minste ’n ringskontakpersoon by elke gemeente of ring geïdentifiseer te kry met wie die Gerontologie Netwerk kan skakel om artikels en inligting oor seminare binne hul gemeente- en ringsgebied te versprei. Ons wil sover moontlik probeer om toerustingsgeleenthede per Zoom-skakel vir elke gemeente of ring in die Vrystaat toeganklik te maak. Gemeentes kan dan hul eie lidmate laat saamkom om by so ’n Zoom-gesprek in te skakel wat by die kerkgebou uitgesaai word.”

Vir meer inligting kan ds Jors Reynders by 082 783 0730 of
jomarey@mweb.co.za gekontak word.

Foto verskaf: Ds Jors Reynders,
Sameroeper van die
Gerontologie Netwerk.

116 | Maatskaplike NOODLYN