Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Sit Konstantyn dalk agter die sogenaamde korrupte evangelie?

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

Met enigiets in die lewe is dit baie belangrik om presies te verstaan wat ’n persoon se probleem is voordat jy die probleem wat hy stel, behoorlik kan beantwoord. Ons het reeds gesien dat Moslems graag sê dat hulle nie die Bybel kan glo nie, aangesien die Bybel gekorrupteer is. Wat ons óók al agtergekom het, is dat Moslems nie ’n samehangende standpunt het ten opsigte van hulle bedoeling met hierdie beswaar nie. In gesprekke met Moslems kom mens agter dat dit ’n opmerking is wat hulle van moedersknie af ken, sonder enige verduideliking oor die betekenis daarvan.

Iemand wat wel ’n antwoord met ordelike samehang oor hierdie vraag gee (dog feitelik verkeerd), is die Moslem-teoloog en skrywer Ahmet Tomor[1]. Hy stel dit dat die “profeet Jesus” baie min volgelinge (hawariyun) gehad het en die godsdiens van Allah verkondig het. Hoewel “profeet Jesus” die Bybel uit sy kop geken het, het sy volgelinge dit nie goed geken nie. Hulle was nie geleerde mense nie en kon dit daarom ook nie memoriseer nie. Toe hulle weens vervolging na verskeie plekke gevlug het, het hulle hierdie afgewaterde evangelie aan die mense op daardie plekke verkondig. Die inwoners van daardie plekke kon lees en skryf en het hierdie afgewaterde boodskap van “profeet Jesus” neergeskryf en hulle eie stories ook tussen Jesus se stories neergeskryf. Op hierdie manier is Jesus se evangelie nie net vervals en verwater nie, maar daar het boonop honderde weergawes daarvan ontstaan.

Hierdie situasie sou dan voortduur totdat Konstantyn die Grote aan bewind gekom het. Die Christene het van Konstantyn verwag om hierdie krisis op te los. Die probleem was egter, volgens Tomor, dat “profeet Jesus” die evangelie met hom saamgeneem het toe hy opgevaar het hemel toe.

Konstantyn het in 325 nC die priesters van die kerk in Nicea laat byeenkom – die enigste waarheid in hierdie hele argument. Konstantyn het enkele priesters, wat nie noodwendig edele karakters was nie, ondersteun en aan hulle die opdrag gegee om die honderde evangelies te verminder tot een. Die beste wat hulle kon doen, was om dit te verminder na vier, naamlik Matteus, Markus, Lukas en Johannes.

Konstantyn sou besluit het watter een van hierdie vier eintlik die Evangelie is. Daar het egter toe ’n groot stryd in die kerk ontstaan, omdat die meeste Christene dan glo nie hierdie vier evangelies erken het nie. Tomor meld dat ’n priester met groot aanhang, Arius, vermoor is omdat hy nie hierdie boeke as evangelies wou aanvaar nie. Konstantyn het ook toe nooit die besluit geneem om te bepaal watter een van hierdie vier boeke die evangelie is nie.

Hoewel Arius wel ’n baie belangrike rol by die Konsilie van Nicea gespeel het, het dit niks te doen gehad met die keuse van ’n evangelie nie. Die vergadering is juis bymekaar geroep omdat Arius die Godheid van Jesus verwerp het. By dié vergadering het die kerk, op grond van die getuienis in die Bybel, die besluit geneem dat Jesus wel God is. Hierdie besluit is as volg opgeneem in die Belydenis van Nicea: “Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; (God uit God) Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;  deur wie alle dinge ontstaan het.”

Om ’n keuse te maak oor watter geskrif die Evangelie is, is nie die keuse van een geskrif tussen vier nie. Al vier hierdie geskrifte is as gesaghebbende Evangelies erken, selfs nog voor die Konsilie van Nicea. Die begrip “Evangelie” is ook baie wyer as hierdie vier geskrifte. Dit is ’n term wat bykans honderd keer in die Nuwe Testament gebruik word en wat onder andere saamgevat kan word in die woorde van 1 Korintiërs 15:3,4: “Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.”

Meer bekend nog is die samevatting daarvan in Johannes 3:16 wat lui: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Hoewel Tomor ’n samehangende verduideliking gee oor hoekom die Bybel dan gekorrupteer sou wees, sien ons dat dit nie op feite gebaseer is nie. Konstantyn mag dalk baie foute gehad het, maar om saam te sweer oor watter Evangelies aanvaar behoort te word (en om na te laat om een uit die vier te kies), was nie een van hulle nie.  Die Bybel is nie gekorrupteer nie – nie deur Konstantyn of enigiemand anders nie.

[1] Tomor, A. 2023. The Quran and the Bible. Erkam Publishing: Gloucester

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hier is nog ’n artikel wat handel oor die Moslems se beskuldiging dat die Bybel gekorrupteer is. In hierdie geval gaan dit oor die beskuldiging dat Konstantyn die Grote agter hierdie korrupsie sit.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za

116 | Maatskaplike NOODLYN