Deur Mariëtte Odendaal
In ’n wêreld waar die mens toenemend sukkel om kop bo water te hou, regerings al hoe meer korrup word en verbrokkelde gesinstrukture om verskeie redes toeneem, skep dit wêreldwyd vir miljoene kinders ’n onmenslik wrede en harde werklikheid waarmee hulle van kleins af moet probeer oorleef.
Daarom is dit ’n riem onder die hart wanneer jy hoor van instansies soos die Setshabelo Jeugsorgsentrum in Botshabelo. Ons het met Elbie Conradie, ontwikkelingsbeampte van die Reformed Initiative for Community Development (RICD), wat onder andere ook hierdie jeugsorgsentrum bestuur, gaan gesels.
Elbie, vertel vir ons meer van die Setshabelo Jeugsorgsentrum.
“Dit het ontstaan as ’n plek van veiligheid vir kinders wat versorging nodig gehad het.
“Die eerste kind wat opgeneem is, was Roelien wat ’n baie jong, gedragsmoeilike kind was. Geen ander jeugsorgsentrum of instansie wou haar (weens haar moeilike gedrag) akkommodeer nie. Hierdie tuiste sou vir haar ’n plek van veiligheid en sorg bied.
“Die goeie nuus is dat die jeugsorgsentrum nou al vyftien seuns en dogters tussen die ouderdomme van 9 en 16 huisves. Die kinders roteer gereeld, aangesien hulle weer, sodra die omstandighede by die huis verbeter het, met hul families herenig word; iets waarop baie sterk gefokus word.
“Tans werk daar 14 personeellede by die kinderhuis. Dit bestaan uit ons bekwame algemene bestuurder, Ivy Monakane, wat al daar begin werk het net nadat die jeugsorgsentrum oopgestel is. Sy is ook verantwoordelik vir die fondsinsamelings, wat die kook van etes vir groot groepe insluit.
“Ons maatskaplike werker is Puleng Lekeka en dan is daar ook vier jeugwerkers, vier sekuriteitsbeamptes wat in skofte werk, sowel as twee kokke, ’n tuinier en ‘n motorbestuurder.”
Alhoewel Missie Japan die Setshabelo Jeugsorgsentrum ondersteun, help RICD om onderhoudswerk aan geboue daar te onderneem. Vertel meer.
“Dit was ’n groot projek om aanvanklik die meeste van die werk klaar te kry en instandhoudingswerk sal voortdurend gedoen moet word. RICD moes aan alle geboue op die perseel aandag gee om dit funksioneel te maak. Die ongeveer R500 000 wat oor twee jaar daaraan bestee is, is uiters suksesvol aangewend en het die volgende behels:
“Daar is ’n groot gebou op die perseel waar ons die loodgieterswerk, elektrisiteit, kombuis, plafonne, dak, buitemure asook die binnekant van die gebou moes opgradeer of oordoen. Vensters is vervang en die voordeur en stoepe is aangebou. Daarna is daar rondom die gebou geplavei om dit teen water te beskerm. Dan is daar ook ’n waskamer sowel as badkamers vir gaste op die erf buite die groot gebou aangebou en die kantoor en stoorkamer is ook herstel. Die grensmuur rondom die geboue is voltooi en herstel- en verfwerk is gedoen.
“Buiten hierdie enorme uitgawe het RICD ook ’n maatskaplikewerkerspos vir ’n jaar gefinansier.”
Elbie, wat sou jy sê is die voordeel wat hierdie RICD-ondersteuning vir die kinderhuis inhou?
“Dit beteken vir die kinders en die personeel oneindig baie.
“Die kombuis en die binne-badkamer was in so ’n swak toestand dat daar baie werk daaraan gedoen moes word. Die elektriese bedrading binne en buite die gebou moes ook oorgedoen word, aangesien dit al oor die jare onveilig geword en ’n brandgevaar ingehou het.
“Die grootste uitgawe was ten opsigte van die buite-badkamers en kombuis. Dit het die kosvoorbereiding in die kombuis en wasgeriewe vir die kinders aansienlik verbeter; iets waaroor almal diep dankbaar is.
“Daar is ook ’n binnebraai in die TV-kamer gebou wat as ’n kaggel kan dien; iets wat onontbeerlik is om die bitterlike koue winters van die Vrystaat te kan help trotseer.
“Die bestuurder, Ivy, is baie dankbaar vir die verbeteringe wat aangebring is. Volgens haar is die sentrum nou warm in die winter en daar is ook ’n lekker badkamer.”
Hierdie verbeteringe moet vir die kinders baie beteken, né?
“Ja, beslis. Die grootste oorwinning wat ons hier by die kinderhuis kan bereik, is wanneer ’n kind so gelukkig by die jeugsorgsentrum is dat hulle nie weer wil huis toe gaan nie. Dit gebeur nadat hulle goed aangepas het en die roetine van die sentrum begin verstaan.
“Ntchanjana het byvoorbeeld, te wyte aan sy ouers se nalatigheid om hom nie by ’n skool in te skryf nie, vir jare nooit skoolgegaan nie. Hy was baie agter by die res van die kinders. Dit was dus ’n groot geleentheid toe hy die eerste keer sy skoolklere kon aantrek en ook saam met die ander kinders skool toe kon gaan.
“Dan is daar ook byvoorbeeld Nash wat na twee jaar by die jeugsorgsentrum by sy ouerhuis teruggeplaas is. Dit gaan baie goed met hom in sy geboortedorp. Hy is ook nou in ’n nuwe skool.”het
| Verskaf deur: Elbie Conradie.

