Deur Mariëtte Odendaal
Missio Dei – God se sending
“Hierdie RCJ vredesverklaring is ook aan die Japannese regering uitgereik. Dit lui: ‘Ons staan vir vrede en ons wil hê julle moet vir vrede staan soos wat julle 80 jaar gelede in die grondwet verklaar het.’ Die RCJ doen dit nie vanuit ’n magsposisie nie, maar as minderheidsgroep vanuit ’n randposisie; ons doen dit met dapper nederigheid.
“Dit het alles te make met die missio Dei; dis God se vrede. Dis die geregtigheid van God wat moet seëvier. Ons is as sy bedienaars van vrede en versoening geroep.”
Dr Stéphan van der Watt
Reformed Church in Japan (RCJ)
“Die afgelope tyd is daar baie oor missionale kerkwees en missionale gemeentes gepraat. As gevolg van baie gesprekke het ons besluit om die lig so ’n bietjie op die praktyk van ons getuienistaak in die wêreld te laat val.”
“Vanaf Vrydagaand 12 Julie tot Saterdag 13 Julie is daar ’n baie geseënde Sendingkonferensie by die NG Gemeente Pellissier in Bloemfontein aangebied,” vertel dr Nico Mostert, direkteur van Vennote in Getuienis van die NG Kerk Vrystaat.
“Die tema van die konferensie was ’n Venster op God se Wêreld. Drie sprekers is genooi om vir ons die venster op hierdie onderwerp te kom help oopmaak; mense met jarelange ondervinding in die praktyk van getuienis in God se wêreld.
“Hulle was Mike Burnard (konsultant van dia-LOGOS) wat sessie een aangebied het, dr Stéphan van der Watt (Missie Japan) wat verantwoordelik was vir die aanbieding van sessie twee, en laastens ekself wat die derde sessie aangebied het.”
Missiologie of missio Dei – God se sending
Die tweede sessie, met die tema ‘Missiologie van die missio Dei’, is deur dr Stéphan van der Watt aangebied. Hy is sendeling-predikant van die Reformed Church in Japan (RCJ) en getroud met Carina, dogter van Japansendelinge Tobie en Annalie de Wet. Die RCJ word vanuit Suid-Afrika ondersteun deur Missie Japan, ’n gesamentlike getuienisaksie van die NG Kerk en ander gereformeerde kerke in Suid-Afrika wat in noue vennootskap met die RCJ werk. Stéphan is ook dosent in missiologie en praktiese teologie aan die Kobe Reformed Theological Seminary.
Wat behels ons teologie as ons oor sending praat?
Volgens Stéphan word sendingwetenskap of missiologie deesdae sendingstudies genoem, wat basies handel oor die missio Dei (God se sending) – ’n baie belangrike klem. “Ons moet die rigting vanwaar die sending begin eerstens reg verstaan, asook die manier waarop ons oor God dink, met ander woorde ons teologie,” verduidelik Stéphan.
“Dis rigtinggewend en bepalend vir waarmee ons besig is in ons gestuurde taak. Psalm 117 vat dit baie mooi saam: Loof die Here, die Verbondsgod wat anders as alle ander gode van sy tyd is; Hy is ewigdurend dieselfde. God se troue liefde en goedertierenheid word hierin besing.
“Dit het baie te make met hoe ons sendingwerk aanpak, of hoe ons oor sending of gestuurdheid dink.
“In die Nuwe Testament sê Petrus in sy eerste preek (Handelinge 2:36) ‘Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.’ Dit was die kernbelydenis van die vroeë kerk: ‘Jesus is Here.’”
Wie is jóú Here en na wie verwys die weg wat jy volg?
“Ons kom al langer as 350 jaar met die Christelike geloof vanuit Europa. Ons het hierdie geloof met moedersmelk ingekry. Ons kinders hier in Suid-Afrika weet wie die Here is en weet dat Hy hulle gemaak het.
“Die kinders van Japan het dit nog nie gehoor nie. Van die 125 miljoen mense in Japan het die meeste nog nooit van Christus gehoor nie. Daar is net 1% Christene in Japan.
“Die evangelie is die eerste keer in 1549 deur die Portugese Jesuïte-priesters na Japan gebring, ongelukkig ook met ’n politieke agenda. Na 70 of 80 jaar het die Japannese daardeur begin sien en gelowiges wreedaardig begin uitroei. Die boek en film ‘Silence’ vertel die storie.
“Daarna volg ongeveer 240 jaar van vervolging en totale afsluiting van die land tot in 1868, toe daar vir die eerste keer Protestantse sendelinge na Japan gekom het. Sedertdien is daar net 1% Christene.
“Die Japannese glo, nes ons gereformeerde gelowiges, dat hulle uitverkies is. Die doel van Christelike uitverkiesing is om nie vir jouself te leef nie, maar ter wille van ander. Die Japannese glo egter hulle is uitverkies deur die songodin, Amaterasu Ōmikami (die groot songodin wat die hemele verlig). Die Japanse grondwet verwoord strategies dat die keiser, Naruhito, die simbool van die staat en die eenheid van die mense is. Die Japannese beskou hulself as afstammelinge van die godin Amaterasu en die keiser. Hierdie oortuiging staan bekend as Shintoïsme, en dit beteken letterlik ‘die Weg van die gode’. Hulle soek ‘die Weg’ op verskeie maniere. Tot 80 jaar gelede was mense, ook skoolkinders, nog verplig om die nasionale verklaring plegtig op te sê, naamlik: ‘Ons is kinders van die keiser; ons leef vir die keiser.’ Hierdie nasionalisme in Japan het tot 1945 hoogty gevier. Dis aangevuur deur Staat-Shinto en het in die laaste paar jaar weer vlamgevat.”
“Al is daar tans ’n pasifistiese grondwet in Japan wat vrede moet waarborg, is daar die afgelope dekades baie duidelike Shinto-beweegredes, soortgelyk aan hoe apartheid deur die Afrikaner via die kerk, sonder enige teologiese regverdiging daarvoor, ‘geregverdig’ is.”
‘Staat-Shinto’ is ’n volksideologie wat weer deur die vorige regsgesinde eerste minister ingebring is. Hy het ook al hoe meer militaristies begin raak en skoolkinders moes weer die Imperial Rescript on Education begin opsê om die keiser te vereer.
“So, die vraag in Japan is: ‘Wie is jóú Here?’ Die keiser, of Christus?’”
Wat beteken die groot sending van God waarvan ons deel is?
“Ons het almal een of ander teologie waarmee ons werk. Dit begin by ’n kerngedagte oor wie God regtig is. Is God vir jou die liefdevolle God, of die pretbederwer wat wag om jou te straf?
“Ons sending word bepaal deur ons sendingteologie en van daaruit is ons almal betrokke by sendingaksies. Dit wat jy doen, reflekteer hoekom jy dit doen. Hierdie aksie-refleksie, of praxis, is van groot belang. Dis belangrik om voortdurend na te dink oor hoekom ons besig is met waarmee ons besig is. En hoekom is ons besig om dit só, en nie anders nie, te doen?
“Charles van Engen het ’n boek daaroor geskryf en praat van die Interacting Disciplines of Mission Theology. Onderliggend hieraan is die missio Dei waardeur ons almal gedryf word om vir die Here te werk. Die Bybel is ons kern, die gesaghebbende bron en oorsprong van ons geloof in die Drie-Enige God.
“Daarmee saam is ons deel van ’n kerk, die instrument van God waardeur die wêreld kan sien hier lyk dit anders; hier is die God van vrede, geregtigheid en versoening. Aan ons as nuwe skepping van God is daar ’n bediening toevertrou – die bediening van die versoening. Ons is deel van die kerk wat daardie roeping ontvang het.
“Die verskillende kontekste waarbinne ons almal werk – naby en ver – verskil egter van mekaar. Ons eerste taak is om daardie konteks baie goed te ken. Leer ken eers die mense vir wie jy moet bedien, en hulle leefwêreld.
“Hoe interpreteer ons ons bron, die Bybel? Daar is ook ’n sekere manier waarop ons die kerk en verskillende kerkverbande verstaan. Al het ons so opgemors, het die Here kerke oor die wêreldgeskiedenis verdra. Alhoewel ons baie meer een behoort te wees, is daar baie verskillende interpretasies van die Bybel en ons moet dit in ag neem.
“Ons moet die kerkgeskiedenis en identiteit verstaan en weet waar ons vandaan kom en waarom ons hiermee besig is. Ons moet die sending-voorveronderstellings waarmee ons kerk werk, verstaan.
“In ons Gereformeerde teologie is daar die uitverkiesingsleer en vir enige gestuurde is dit goed om te weet: Dis nie van my afhanklik om mense te red nie; ek is nie die Messias nie, ek getuig net oor die Lig. Net God weet wie Hy uitverkies het en daarom moet ons as gelowiges getuig sonder voorbehoud of vooroordeel.”
“Ons moet ook ander godsdienste verstaan, soos Islam, omdat daar al hoe meer Moslems in ons midde is. Intergodsdienstige dialoog is dus belangrik; nie om ons geloof prys te gee nie, maar om in gesprek te kan tree, want ons het iets om te bied. Ons bied dit aan met sterk oortuiging, in nederigheid.
“Daar is ook baie te leer oor die sendinggeskiedenis en allerhande wetenskaplike velde soos die antropologie, sosiologie, sielkunde, informasietegnologie en ekonomie. Wat is die realiteite waarmee ons werk?
“’n Kursus in missiologie sal die volgende moet insluit: Begin by die Bybel – Wat is missiologie en waarmee is ons besig? God het geskep met ’n doel – van die begin tot aan die einde is daar ’n deurlopende tema van ‘gestuurdheid’ in die hele Bybel. Jesaja 49:6 is byvoorbeeld die kernvers waarmee ek na Japan geroep is. Jesaja het amper ses eeue voor Christus die visie gekry om die uitverkore volk, Israel, in ballingskap te bemoedig, want hulle was verward, ontnugter en skepties. Die Here sê vir sy teleurgestelde volk: Daar’s ’n groter roeping. Dis onvoldoende om nét Israel te verlos. Daar is ’n nuwe sending: Lig vir al die nasies! Ook Paulus haal uit Jesaja 49 aan en maak dit sy eie deur deel te word van God se lig vir die nasies. Christopher Wright se The Mission of God help ons baie om die volle prentjie van die Bybel se gestuurdheid te verstaan.
Ons moet ook praat oor die geskiedenis van sending. Waar het die Kerk goed gedoen en waar het die Kerk misluk?
“Ons moet van ekumeniese organisasies en sendelinge kennis neem; ook huidige temas en tendense in missiologie, byvoorbeeld die hele konsep van ‘global Christianity’. In 1910 was 66% van Christene wêreldwyd in die Noordelike Halfrond. In 2010 was dit net mooi omgekeerd, met 66% Christene in die Suidelike Halfrond. Projeksies voorspel dat dit sal vermeerder tot 77% teen 2050, waarvan Afrika grootliks deel sal wees.”
“Een van die belangrikste temas waaroor gepraat moet word, is die rol wat vroue in die geskiedenis van sending gespeel het. Vroue het oor die eeue heen in die sending van die Kerk sleutelrolle gespeel, ook in herlewings. In 1907 was daar byvoorbeeld ’n herlewing in Noord-Korea deur vroue gelei, wat die ontstaan van die kerk in Suid-Korea in die 1950’s tot gevolg gehad het. Daar was ook in Madagaskar ’n soortgelyke herlewing wat deur vroue gelei is.”
“Die Lausanne Movement het in 1974 ontstaan met Billy Graham en John Stott as stigters. Waar Billy meer op die verkondiging van die Woord en evangelisering gefokus het, het John beklemtoon hoe belangrik werke of dade is – die fokusverskille tussen die evangeliese en ekumeniese groepe – maar dit het al hoe nader aan mekaar begin beweeg, en die vierde Lausanne-byeenkoms vind vanjaar in September in Seoul, Korea plaas.
“In die 4de eeu ná Christus is die term missio Dei deur Augustinus gemunt – dit gaan oor die drie-enige God se sending waarmee ons besig is.
“In die laat 1920’s, vroeë 1930’s het Karl Barth en Karl Hartenstein ook hieroor begin skryf, en in 1952 was daar nog ’n belangrike internasionale sendingkonferensie in Willingen, Duitsland, waar daar ’n groot wending plaasgevind het.
“Daardie voortvarende selfversekerdheid wat saam met die Verligting van die Europeërs in die 17de en 18de eeu na Afrika gekom het, en die latere Modern Missionary Movement van die 1800’s, wou met imperialistiese taal militaristies die wêreld inneem en God se Koninkryk vestig. Die inisiatief het dus by ménse in die Kerk gelê.
“Dit het egter mettertyd om verskeie redes afgeplat en is gelouter deur hierdie 1952-sendingkonferensie in Willigen. Tydens hierdie konferensie het invloedryke teoloë besef dat dit in die eerste plek oor die drie-enige God gaan; dis Gód wat die sending doen met ons as sy medewerkers. Dis Gód se Koninkryk wat moet kom; nie ons as mense s’n nie. God die Vader stuur sy seun na die wêreld; die Vader en Christus stuur sy Gees na die wêreld en die drie-enige God stuur die Kerk na die wêreld. Lees gerus Johannes 14 tot 17; dis hiérdie gestuurdheid waarmee ons besig is.
“In Transforming Mission: Paradigm Shifts in Theology of Mission het David Bosch besonder insiggewend hieroor geskryf. Christopher Wright praat van ’n missionale hermeunetiek (The Mission of God: 2010) – hoe die Bybel geïnterpreteer moet word.
“Daar is vier essensiële dimensies van belang om sending te verstaan. Eerstens is die verkondiging van die Woord belangrik (kerugma). Tweedens is dit die erediens waar God aanbid word (leitourgia), waaruit (derdens) liefdesdiens (diaconia) moet vloei en waarmee ons met gesag in Christus as brugbouers iets na die wêreld moet bring. Die goue draad deur al hierdie dimensies van kerkwees of sending is (vierdens) om ’n nuwe geloofsgemeenskap in eenheid en liefde te vorm en as Liggaam van Christus onsself opnuut aan God te verbind (koinonia).”
Die RCJ se vredesverklaring as belydenis en beliggaming van vrede.
“Nadat Japan deur twee atoombomme getref is – die enigste land ter wêreld wat nog ooit so iets beleef het – het hulle besluit om ’n pasifistiese grondwet aan te neem. In die 9de artikel van die grondwet is ingeskryf dat hulle nie meer die wapens mag opneem om aan te val nie.
“Tagtig jaar later klink dit nou anders. Alhoewel die grondwet nog nie gewysig is nie, is daar in die laaste 20 jaar direkte aanslae waarmee Amerika baie te doen het. Hulle wil graag weer ’n vastrapplek in Japan hê en Japan is ’n kragtige pion om te gebruik; met baie geld en mag.
“Daar is ook ander gelowe wat nog ’n invloed in Japan het; die Shintoïstiese nasionalisme, Boeddhisme en Confucianisme, met ’n oorvloed van tempels.
“Daar is egter ook baie kerke in Japan. Al is dit net 1% van die bevolking, is die invloed baie wyer en ons is deel van hierdie kerk, die RCJ, wat 140 gemeentes het.
“In 2023 het die RCJ ’n verklaring van vrede uitgereik wat die vroeë kerk se belydenis van vrede baie ernstig opneem. Die vroeë kerkvaders het veral gepraat oor die geduld wat die kerk moet hê. Soos God moet ons barmhartig, liefdevol en geduldig wees; ons moet mekaar verdra.
“Die wending het in die 4de eeu gekom toe Konstantyn as Romeinse keiser die Christelike geloof aangeneem het en die kerk mag begin kry het. Vir meer as duisend jaar daarna het die Kerk deurlopend sy mag bly misbruik totdat die Reformasie daarteen in opstand gekom het met ‘Keer terug na die Woord en na Christus alleen’.
“Tans is daar baie organisasies, ook nie-Christelikes, wat hard werk vir wêreldvrede. Die Wêreldraad van Kerke en die World Evangelical Alliance is twee groot Christen-organisasies met groot inisiatiewe rakende vrede. Vrede is van die braafste beginsels wat ons vandag kan nastreef. Ons moet vredemakers wees. Daarom het die RCJ hierdie vredesverklaring uitgereik in ’n land wat al hoe meer militaristies raak.
“Hierdie RCJ se verklaring van vrede is ook aan die Japannese regering uitgereik. Dit lui onder meer: ‘Ons staan vir vrede en ons wil hê julle moet vir vrede staan soos wat julle 80 jaar gelede in die grondwet verklaar het.’ Die RCJ doen dit nie vanuit ’n magsposisie nie, maar as minderheidsgroep in ’n randposisie; ons doen dit met dapper nederigheid.
“Dit het alles te make met die missio Dei; dis God se vrede. Dis die geregtigheid van God wat moet seëvier. Ons is as sy bedienaars van vrede en versoening geroep.”
Kontak
Vir meer inligting kan dr Stéphan van der Watt by jsvdwatt@icloud.com gekontak word.
Dr Stéphan van der Watt, Reformed Church in Japan (RCJ).