Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Praktiese selfsorg vir predikante met prof Yolanda Dreyer

Deur Mariëtte Odendaal | Predikante Netwerk
Video’s en Powerpoint-aanbiedings oorgeneem uit Grens.Pos
Prof Yolanda Dreyer het tydens twee sessies opgetree
Dit word vergesel deur twee Powerpoint-aanbiedings, wat afgelaai kan word

‘n Wenk: Laai die twee Powerpoint-aanbiedings af en kyk rustig na beide video’s tesame met die skyfies.

“Dit is van groot belang dat predikante duidelike grense moet stel, selfsorg baie belangrik moet ag en moet streef na ’n ‘normale lewe’ vir hul kinders en die hele gesin.”

Prof Yolanda Dreyer

Tydens ’n ringskommissie-werkswinkel van die NG Kerk Vrystaat wat vanaf 4 tot 6 September op Clarens gehou is, het prof Yolanda Dreyer, dosent in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria en self ’n predikant, leraars begelei om aandag aan hul selfsorg te gee. Gegewe die aard van predikante se werk is selfsorg van die uiterste belang.

Een van die onderwerpe waaroor daar gepraat is, was die versorging van ons predikante; iets wat van kardinale belang vir ons gemeentes is. Prof Yolanda Dreyer het hierdie onderwerp hanteer.

Maar wie is Yolanda Dreyer? Ons het gaan uitvind.

Nadat prof Dreyer emeritaat-ouderdom einde 2021 bereik het, het sy op ’n kontrakbasis met haar werk as professor in praktiese teologie, sub-dissipline pastoraat, aan die Universiteit van Pretoria voortgegaan.

Sy was die eerste vrou wat in ’n Afrikaanse susterskerk georden is. Dit was in 1981. Sy was ook die eerste vrou wat as professor by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria aangestel is; in 2000.

Ná haar legitimasie in 1980 het sy dadelik ’n beroep na die Hervormde Kerk Fonteinedal-gemeente van die Onderwyskollege in Pretoria ontvang en daar begin bedien.

Sy was ook vir agt jaar predikant by die Hervormde Kerk Nelspruit-gemeente en bedien al die afgelope 29 jaar die Nederlandssprekende gemeente van die Hervormde Kerk in Parktown, Johannesburg – sedert 2000 deeltyds en die afgelope ses jaar heeltyds. Daarvoor moes sy Nederlands leer en sy preek steeds elke Sondag in Nederlands!

Wat ’n merkwaardige vrou.

Ons wou meer weet van haar aanbieding by die ringskommissie-werkswinkel en het haar gevra om te verduidelik watter faktore gesonde predikant-wees bedreig. Op watter simptome moet predikante (en gemeentes) bedag wees en wat is die redes vir ongesonde leefstyle?
“Die predikantsberoep het unieke uitdagings, waarvan die 24 uur per dag, sewe dae per week aan-diens-wees-program seker die heel moeilikste is. Mense kan enige tyd bel of aan die pastorie se deur kom klop. Mense sterf in die middel van die nag en dikwels word die predikant dan dadelik geskakel.

“Die grens tussen ’n predikant se werks- en privaatlewe is dikwels vaag. ’n Predikant moet dan self baie meer doen om gedissiplineerd daardie grens te stel en te handhaaf as mense wat van die werk af tuis kom na ’n private ruimte.

“Vandag se ‘van die huis af werk’ wat veral ná Covid momentum gekry het, bied ’n soortgelyke uitdaging. Die feit dat die hele gesin in die gemeente se oog is, maak dit nie vir kinders maklik nie. Hulle het dikwels die druk op hulle om vir die gemeente (en gemeenskap) ’n ‘voorbeeld’ te moet wees en het ook dikwels die gevoel dat die predikant-ouer altyd daar is vir almal behalwe vir hulle as kinders.

“Dit is ook moeilik vir predikante om vriendskappe in stand te hou. Een van die redes daarvoor is dat hulle werksritme anders is as ander mense s’n. Hulle werk oor naweke terwyl dit die tyd is wanneer vriende kan kuier. Verder is dit ’n delikate saak om in die gemeente seker mense as vriende te hê, terwyl die ander mense net deel van hul ‘werk’ is. Baie predikante is so besig met die gemeente dat hulle nie veel geleentheid het om mense uit ander sfere te leer ken en vriendskappe te sluit nie.

“As dit by pastorale berading kom, is dit ook moeiliker om professionele berading te doenmet ’n persoon met wie daar oor baie jare ’n nader verhouding is, as wat mense byvoorbeeld met ’n dokter of sielkundige het.

“Dit is dus van groot belang dat predikante duidelike grense moet stel, selfsorg baie belangrik moet ag en moet streef na ’n ‘normale lewe’ vir hul kinders en die hele gesin.”
Tydens die tweede sessie het jy gefokus op ’n aantal aspekte wat aandag verdien. Kan jy uitwei, veral oor die rol wat heling hierin kan speel en die krag en belangrikheid van spiritualiteit?

“Die eerste belangrike punt is dat ’n predikant nie die beroep sal gebruik om ongesonde maniere van dink en doen in stand te hou en te versterk nie. Een voorbeeld is die sogenaamde messias-sindroom – iemand wat hul waarde daarin soek ‘om altyd daar en beskikbaar te wees’ as die redder vir ander.

“Die predikant self is die enigste persoon wat verantwoordelikheid kan aanvaar vir sy of haar eie genesing van kinder- of lewenswonde, asook om ’n gebalanseerde volwasse persoonlikheid te ontwikkel.

“Holisties gesproke beteken dit: sorg vir die liggaam, sorg vir die psigies-emosionele aspek van menswees en sorg vir die spiritualiteit, met ander woorde jou verhouding met God; die verbonde voel met iets groters as jyself.

“Die predikant se roepingsgevoel kom heel waarskynlik uit ’n spirituele ervaring. Daardie ervaring plat dikwels af op universiteit waar teologie ’n leervak van die verstand word, en verder in die gemeente waar dit jou ‘werk’ word. Dit is belangrik vir iemand wie se werk dit is, om nie die misterie en die ervaring daarvan te verloor nie. Dit moet gevoed word, anders kan dit ongesiens wegsyfer; dikwels sonder dat hulle dit self agterkom.”

Kan jy dalk iets sê oor die belangrike rol wat die estetiese ook moet speel?

“Dinge wat vir ’n mens mooi is en jou vreugde gee, raak ál drie aspekte van menswees. Op ’n liggaamlike vlak beleef jy dit deur jou sintuie, dit laat jou liggaam ontspan en kalmeer die brein. Op ’n psigiese vlak ontketen dit emosies van vreugde.

“Jy raak so ingetrek deur die mooi van musiek, die natuur, ’n gedig, prosa of ’n kunswerk, dat dit voel of jy vir ’n oomblik uit jou veeleisende werklikheid weggevoer word. Dit gee jou psige ’n oomblik van rus en vreugde. Op ’n spirituele vlak ervaar ’n mens verwondering en voel verbonde aan iets groters as jyself en mooier as jou wêreld van elke dag.”

Watter uitdagings lê daar nou, ná hierdie aanbiedinge van jou, voor vir ons predikante?

“Eerstens om te rade te gaan met ou wonde en op ’n gesonde manier daarmee om te gaan en daarvan te genees.

“Tweedens om vir hulleself en vir hul eie mense te sorg en om te gee met dieselfde toewyding as waarmee hulle vir die gemeente sorg en God se werk doen.

“Derdens om die gawe van onderskeiding onder leiding van die Gees te beoefen. Om te kan onderskei wanneer mense se optrede en kommentaar op alles en almal húlle probleem is, en dit nie binnetoe te neem waar dit jou vergiftig nie. Om te onderskei wanneer kritiek van ander jou wys op iets waaraan jy graag in jou lewe sou wou werk sodat jy die beste mens kan word wat jy kan en wil wees.”

En watter rol kan ons ringe hierin speel?

“Die ringe kan vir predikante geleenthede skep om bewus te raak van wat nodig is en die geleentheid bied om dit te kan beoefen.

“Die ringe kan ook hul gemeentes toerus om die lewe van ’n predikant beter te verstaan en beter met hul bedienaars om te gaan.

“Ook gemeentelede het dikwels ou wonde waaraan hulle nie genoegsaam aandag gee nie. Dan raak hulle ‘moeilik’ of speel magspeletjies in hul gesin en in die gemeente om daarvoor te kompenseer. As hulle neutrale toerusting van buite (vanuit die ring) ontvang, is die kans groter dat hulle iets daarvan sal insien, eerder as wanneer die predikant die saak probeer hanteer.”

Kontak

Dalk wil jy as leser meer weet oor hierdie onderwerp? Kontak dan vir prof Yolanda Dreyer by yolanda.dreyer@up.ac.za vir meer inligting.

 | verskaf deur dr Bertus Celliers – Prof Yolanda Dreyer oor die versorging van die leraars

 | verskaf Prof Yolanda Dreyer van UP gesels oor selfsorg vir predikante

116 | Maatskaplike NOODLYN