Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Paasfeesboodskap langs N1 – én viering met breër gemeenskap

Deur Mariëtte Odendaal

“Die feit dat die lidmate van verskillende denominasies aan die geleentheid deelgeneem het, het die band van gemeenskap van gelowiges op ’n besondere manier versterk.”

Ds Rikus van Zyl
Edenburg-gemeente

Ons land is bekend vir sy uitgestrekte vlaktes en lang afstande tussen hoofstede en dorpe. As jy dan soms iets langs die pad opmerk wat jou aanraak, kan jy in die stilte van jou voertuig verder daaroor nadink, soos met die onlangse Paasfees wat wêreldwyd gevier is. Dis by uitstek ’n tyd van weer stil word en nadink oor wat Jesus Christus al in ons lewens beteken het en nog steeds beteken.

As jy dan wonder hoe ’n mens hierdie boodskap prakties breër kan verkondig, is ’n boodskap met sagte woorde langs die pad dalk net wat jou gemoed in hierdie uitdagende tye nodig het.

En dit is presies waaraan ds Rikus van Zyl gedink en sy lidmate van die Edenburg-gemeente gemotiveer het om die afgelope Paasfees te doen. Edenburg is ’n klein plattelandse dorpie 80 kilometer suid van Bloemfontein langs die N1 – ideaal om so ’n boodskap met duisende verbygaande Paasfeesgangers op pad Kaap of Johannesburg toe te deel.  

Ons het meer by ds Van Zyl oor hul inisiatief gaan uitvind.

 

Rikus, vertel ons meer van jul gemeente en hoe julle op hierdie idee gekom het.

“Ons gemeente is maar klein en bestaan uit minder as 190 Afrikaanssprekende wit- en bruinmense waarvan 68 dooplidmate is.  

“Verlede jaar, tydens ’n kerkraadsvergadering, het die gedagte by my ontstaan om hierdie jaar meer van Paasfees te maak; om iets te doen waaraan meer lidmate kon deelneem.

“Die gedagte was aanvanklik om ’n kruistog na die N1, wat so 2 kilometer van die dorp af is, te onderneem met ’n banier wat ons by die brug wou oprig, maar dit was ongelukkig prakties onmoontlik. Ons sou net die baniere voor die tyd oprig, maar sonder ’n kruistog.

“Soos wat ek meer daaroor nagedink en met lidmate gedeel het, het die gedagte aan baniere verder ontwikkel. Tydens ’n strategiese beplanningsessie van die Sinode Vrystaat het ek die gedagte daar ook gedeel en die positiewe reaksie het my verder gemotiveer.”

 

Hoe het julle te werk gegaan om die baniere se woorde te bepaal, te produseer en op te rig?

“Die bedoeling van die baniere was om die gebeure van Goeie Vrydag en Paassondag met grafiese voorstellings te doen; vandaar ’n kruis en langs die kruis die leë graf met die woorde: ‘Vir jou’ in Afrikaans en ‘Molemong oa hau’ in Sesotho. 

“Ons het een banier vir die dorp gemaak en een banier aan beide kante gedruk en aan pale vasgemaak sodat dit van albei kante langs die N1 sigbaar sou wees. Die baniere is vir so tien dae vertoon en gaan weer volgende jaar gebruik word.”

 

Hoe is dit toe prakties uitgevoer?

“Die finale program het die volgende behels: Donderdagmiddag voor Paasfees is die baniere langs die N1 en in die dorp opgerig.  Die banier langs die N1 sou motoriste herinner aan die kruisgebeure en dat die opstanding ‘Vir jou’ is. Die banier in die dorp sou die gemeenskap weer laat besef hoe groot Jesus se liefdesdaad aan die kruis was. Lidmate is uitgenooi om ’n kruisie op Goeie Vrydag saam te bring en ná die erediens by die banier in die dorp te plant.

“Die erediens het begin met ‘n tyd van stilte. Ons het toe geluister na die lied Houtkruis, terwyl twee seuns die kruis ingedra het. Die preek het gehandel oor die sewe kruiswoorde. Die boodskap was: Die Onskuldige sterf vir ons, die skuldiges, om ons onskuldig te maak.

“Daarna is die Nagmaal gebruik en ons het die kerkgebou in stilte verlaat en mekaar op die trappe voor die kerk ontmoet. Die mense het toe die geleentheid gekry om hul eie kruise wat hulle saamgebring het by die banier in die dorp oorkant die kerk te gaan plant; iets wat vir almal baie beteken het.”

 

Die Lede in Christus- en die Woord in Waarheid-gemeentes in Edenburg is ook uitgenooi na die Goeie Vrydag-erediens en het deelgeneem aan die verrigtinge daarna. Vertel hoe dit gebeur het.

“Ek het die behoefte gehad om ’n gesamentlike erediens met Goeie Vrydag aan te bied.  Die pastoor van die Woord in Waarheid-bediening het dit onder my aandag gebring dat hy by ’n konferensie in Mosselbaai is en dat daar dus geen erediens die Vrydagoggend sou wees nie. Ons het hulle toe genooi om die erediens in ons gemeente by te woon. 

“Daarna het ons uitgereik na die Lede in Christus-gemeente wat toe ook die erediens bygewoon het. Ons het al by meer as een geleentheid in die verlede die Lede in Christus-gemeente uitgenooi na ons Kerssangdienste, so daar is ’n goeie verhouding tussen ons.

“Pastoor George Fourie van die Lede in Christus-gemeente het daarna onder andere laat weet: ‘Dit was ’n besondere voorreg en eer om te sien hoe kerke saamstaan om eer aan ons Koning Jesus te bring vir wat Hy vir ons gedoen het. Ons was werklik soos eregaste by jul kerkgebou ontvang. Daar was ’n goddelike eenheid en eensgesindheid tussen al die mense. Ons was so verras dat ons saam kon deel in die Nagmaal; dit het vir ons as gemeente baie beteken. Die boodskap was treffend en die pragtige liedere wat ons saam kon sing, het Hemelse melodieë in ons harte gelos. Ons is so aangenaam verras om te sien hoe die kerke in so ’n klein dorpie kan saamstaan as ware kinders van die Here.’”

 

Wat het dit vir die lidmate beteken, Rikus?

“Marlize van Wyk, die ma van die twee seuns wat die kruis ingedra het, vertel: ‘Vandag, toe my kinders die kruis die kerk ingedra het aan die begin van die diens, het dit my diep geraak. Om hulle so te sien – my kinders vir wie ek onbeskryflik lief is – het my laat dink dat as ek, as ’n ma, soveel liefde in my hart kan hê vir my kinders, hoe groot moet God se liefde nie wees nie? Selfs toe Jesus gevra het dat die beker by Hom moet verbygaan, het God nog steeds gekies om Hom vir ons te gee; nie omdat dit maklik was nie, maar omdat sy liefde vir ons groter is as wat ons ooit kan begryp. Paasfees is die bewys daarvan: dat Jesus gely, gesterf en opgestaan het sodat elkeen van ons die kans kan hê om ewig saam met Hom te leef.’

“’n Ander lidmaat, Elna Pienaar, vertel: ‘Die simboliek agter die Heilige Week – van Palmsondag tot Opstandingsdag – het daagliks ’n ondersoekende nadenke by my aangewakker. Joh. 1:29 Daar is (aanskou) die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, het bo-oor alles geskryf gestaan. Hoe geseënd was die Goeie Vrydag-diens in die kerkgebou, gevul met Edenburg se breë gemeenskap nie? Die indra van die kruis, die boodskap gebou op die sewe kruiswoorde, die nagmaal en die plant van ons persoonlike kruisies in die dorp was ’n uitsonderlike Paasbelewenis.’”

 

Rikus, wat het dit vir jou as predikant van die gemeenskap beteken?

“Vir my was dit ’n diep geestelike verryking. Dit het vir my baie beteken dat die lidmate dit so positief ervaar het. Die feit dat die lidmate van verskillende denominasies aan die geleentheid deelgeneem het, het die band van gemeenskap van gelowiges op ’n besondere manier versterk.”

 | Foto’s is deur ds Rikus van Zyl, verskaf.

Vir meer inligting kan ds Rikus van Zyl by rikus.vanzyl1960@gmail.com gekontak word.