Deur Mariëtte Odendaal
Is Afrika nog die donker kontinent?
Dr Nico Mostert
Uitvoerende amptenaar: Vennote in Getuienis
“Die afgelope tyd is daar baie oor missionale kerkwees en missionale gemeentes gepraat. As gevolg van baie gesprekke het ons besluit om die lig so ’n bietjie op die praktyk van ons getuienistaak in die wêreld te laat val,” vertel dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van Vennote in Getuienis van die NG Kerk Vrystaat.
“’n Rukkie gelede is daar ’n baie geseënde Sendingkonferensie by die NG Kerk Pellissier in Bloemfontein aangebied. Die tema van die konferensie was ’n Venster op God se Wêreld. Drie sprekers is genooi om vir ons die venster op hierdie onderwerp te kom help oopmaak; mense met jarelange ondervinding in die praktyk van getuienis in God se wêreld.
“Hulle was Mike Burnard (konsultant van dia-LOGOS) wat sessie een aangebied het, dr Stéphan van der Watt (Missie Japan) wat verantwoordelik was vir die aanbieding van sessie twee en laastens ekself wat die derde sessie aangebied het.”
Nico, volgens jou is dit belangrik om deur drie lense na tendense in Wêreldsending te gaan kyk, naamlik die verlede, die hede en die toekoms. Hoe het sending in die verlede beweeg?
“Dit is belangrik om in gedagte te hou dat sendingbewegings vanaf die 15de tot die 18de eeu hand aan hand met die koloniale ideale van Wes-Europa geloop het. Soos daar groei in Europa plaasgevind het, was meer hulpbronne nodig en het hierdie bewegings na Afrika en Suid-Amerika uitgebrei.
“Tydens die 18de en 19de eeu was daar groot herlewings in Europa as gevolg van massabyeenkomste gelei deur groot orators in meestal Christelike kontekste of omgewings. Baie mense het tot bekering gekom en as sendelinge na die res van die wêreld beweeg.
“Sendingkongresse raak gewild en lei tot gemeentelike sendingmobilisasie as deel van die 20ste-eeuse ontwikkeling. Hierdie sendingbewusmaking lui die era in van sendingorganisasies soos die China Inland Mission, die Paris Mission Society, die London Missionary Society, die Morawiese Sendinggenootskap, ensovoorts. Die Paris Mission Society het byvoorbeeld ’n groot rol in die Vrystaat gespeel met die totstandkoming van die Lesotho Evangelical Church, terwyl die Morawiese Sendinggenootskap weer ’n groot rol gespeel het ten opsigte van die Bruinmense in die Wes-Kaap.
“In hierdie tyd beweeg twee fokusstrome as Koninkrykbouers in Afrika in, naamlik kerklike bewegings en sendinggenootskappe.
“Dit groei dermate dat voltydse administratiewe personeel en sendelinge van hoofstroom-denominasies van groot belang word om dié reuse-bewegings in stand te help hou. Sendingywer en die bloeityd van denominalisme loop hand aan hand as goed geoliede masjiene wat die Lig van die wêreld na die ‘donker’ dele op aarde moes bring.
“In hierdie opsig was die NG Kerk plaaslik maar ook algemeen sinodaal gedrewe, en reuse-befondsing aan hierdie uitreik-aksies is met groot ywer geïnisieer en onderhou.”
In die hede sien ons weer ander tendense. Vertel meer, Nico.
“In die 21ste eeu sien ons dat hoofstroom-denominasies en sendingorganisasies begin kwyn. Mense skuif weg van kerke, veral in die Westerse wêreld is daar ’n groot sekularisering wat besig is om plaas te vind. Welvaart neem toe en mense het God nie meer nodig nie. Morele gedrag, wat aan die basis van die Christendom lê, is byvoorbeeld ingeskryf in die grondwette van die Westerse samelewings; dis in ons DNA – ek gee om vir mense en respekteer almal; ek ondersteun mense finansieel, so ek het nou nie meer God in die proses nodig nie.
“Die tweede tendens wat ons tans opmerk, is die opkoms van onafhanklike bewegings en kerke. Elke ou begin nou sy eie kerk; ek hoef nie meer in my denominasie te bly nie. Ek kry nie meer daar sin vir my bestaan nie, maar ons is ’n klein groepie gelowiges wat graag saam wil aanbid en boonop nie ’n predikant of pastoor meer nodig het nie.
“In Afrika sien ons egter iets anders. Groot massabyeenkomste soos ons gesien het in die vorige eeu vind aanklank in Afrika, veral in Wes-Afrika. Reinhard Bonke en Billy Graham begin in Afrika met hierdie massa-byeenkomste. Groot tente word opgeslaan en luidsprekers word opgestel, maar die mense van Afrika luister nie na hierdie boodskap vanuit die konteks van die Westerse Christendom nie; die verstaan van hierdie boodskap is vir hulle heeltemal anders.
“Die volgende groot tendens wat ons raaksien, is dié van die Amerikaanse ‘tele-evangeliste’, veral vanaf 1974 word hierdie tendens al hoe groter. Mense woon nou TV-kerkdienste by in plaas van om hul eie denominasies te ondersteun en bydraes word direk aan hierdie tele-evangeliste gemaak om die Goeie Boodskap in ‘Donker Afrika’ te help versprei. Hierdie Amerikaanse tele-evangeliste begin tyd koop by plaaslike televisiekanale in Afrikalande en Afrika-kykers begin deel word van hierdie groot Amerikaanse bewegings.
“Dit lei tot die ontstaan van ons eie Afrika-tele-evangeliste, profete en biskoppe vanaf die 2000’s. TV Josua word byvoorbeeld baie gewild. Die weelde en welvaart van hierdie TV-persoonlikhede is opsigtelik en word beskou as die seën van die Here; iets waarna baie van die armes begin streef.
“Ons sien dus ’n duplisering van die 19de-eeuse Europese massa-byeenkomsmodel binne die reeds Christelike Afrika-konteks. Hierdie skuif hoef nie net negatief beskou te word nie, maar ook positief. Dit het meegehelp dat die Christendom in Afrika tog gegroei het, veral in die areas suid van die Sahara. Mushroom churches ontstaan as gevolg van mense wat wegbreek van bestaande denominasies, maar probleme soos uitbuiting begin ontstaan; elke mens kan nou ’n kerk begin. Vanaf 1970 tot 2020 het die Christendom in Afrika met 10,6% gegroei.
“In die suidelike gedeeltes van Afrika sien ons egter dat waar die Moslem-invloed altyd klein was, dit begin inkom by lande soos Mosambiek – selfs in die Vrystaat dink ek daar is nie een dorpie waar daar nie Pakistani’s (wat Moslems is) bly nie.
“Ons sien daar is wêreldwyd ’n groeiende tendens om beperkinge op geloof te plaas; nie net in Moslemlande nie, maar ook in ander lande. Die rede hiervoor is dat ekstremisme ’n al hoe groter probleem word. Godsdiens se uitvalle lê in fundamentalisme. Hierin is daar nie plek vir hermeneutiek of die uitleg van die Skrif nie. Dis wat in Islam gebeur; hulle het nie hermeneutiek nie. Godsdiens jaag dikwels geweld aan en in baie plekke lei dit tot gewelddadigheid; regerings begin dus beperkings op die uitoefening van geloof plaas. Christen-fundamentalisme is net so sleg as Moslem-fundamentalisme en as Joodse fundamentalisme. Dit lei na ’n na-binne-gekeerdheid, ’n geveg vir jouself om jouself te handhaaf. Daar is niks van vredemakers, of ons roeping van vrede en liefde in die wêreld nie.
“Wat onbereikte groepe betref, is daar werksaamhede in die Caprivi, in die Boesmanland-gedeelte by Chumkwe (Andries Gouws; Viljoenskroon se gemeente is hierby betrokke) en by Oos-Caprivi (Bothaville-gemeente is by hulle betrokke). Dit vorm deel van onbereiktes wat wel bereik word deur organisasies.
“Bevolkingsgroei wêreldwyd plat af, maar stedelike bevolking neem geweldig vinnig toe. Ons sien dit byvoorbeeld in die suidelike gedeeltes van Bloemfontein. Die grootste gedeelte van ons bevolking lewe in armoede en beweeg na stede met die hoop op ’n beter lewe, maar dit skep weer baie sosio-ekonomiese probleme; iets wat dringend aangespreek sal moet word.
“Nuwe groepe gelowiges groei dus, maar die Christendom versplinter en hoofstroomkerke groei nie.”
So, wat sou jy sê is die tendense wat ons moet verwag ten opsigte van die toekoms vir die Christendom, Nico?
“Ons sien alreeds die kwyning van fondse en ywer vir sending. Nuwe generasies maak net nie meer ’n commitment nie; ons eie, plaaslike behoeftes geniet voorrang bo dié van ander. Dis ’n samelewingstendens.
“Op hierdie stadium het ons ook ’n groot opkoms van nasionalisme wat veral vanaf Amerika na Afrika oorspoel onder ’n Christelike dekmantel van die belofte van persoonlike gesondheid, welvaart en geluk. Hierdie fokus van ‘misleading theologies’ lei na ’n ingekeerdheid en die verwronge geloof dat dít tekens is dat God jou seën.
“Ons moet verstaan waarmee ons besig is en waar ons begronding lê. Hierdie soort fundamentalistiese teologie lei tot wanpraktyke wat ons al hoe meer in Afrika sien uitspeel.
“Nog ’n tendens is die afplatting van hoofstroomkerke en die groei van onafhanklike kerke (die African Initiated Churches en die Africa Independent Churches) wat meer charismaties en pentekostalisties is. Dis hoe die nuwe Christendom vanaf 2030 gaan lyk; groei gaan nie in die hoofstroomkerke soos in ons Gereformeerde kerke plaasvind nie, maar in die onafhanklike kerke. Ons gaan klein en onbenullig word.
“Die episentrum van die Christelike geloof sal vanaf 2030 van die Noordelike Halfrond na die Suidelike Halfrond skuif.
“Daar word wegbeweeg van Europese en Amerikaanse teologie na Afrika-teologie. Ons is ook daarby betrokke om goeie Afrika-teologie te help vorm.
“Die Suidelike Halfrond gaan ook die sending lei na die Noordelike Halfrond, wat al hoe meer post-Christelik raak. Die Christelike kerk kan dan nie gefokus wees op ‘health, wealth and happiness’ nie, maar dan moet dit ’n missionale kerk wees wat verstaan wat ons roeping en taak in die wêreld is.
“Die koms van die internet veroorsaak dat al hoe meer mense bereik kan word. ‘Onbereikte’ groepe begin verdwyn, maar die stroom van inligting wat oor verskeie soorte mediaplatforms versprei word, kan nie beheer word nie.
“Internetbediening raak dus al hoe belangriker; daarmee het jy toegang tot mense se persoonlike ruimte via hul selfone in die palm van hul hand. Ons kan dit meer effektief in sendingmetodologie gebruik.
“Die diaspora van mense wat uit Afrika na Brittanje, Europa en Amerika uitbeweeg, maak ook vir die Christendom nuwe moontlikhede oop. Die wêreld van werk bring nuwe moontlikhede en ook ’n herdefiniëring van die term ‘sendeling’ mee. Dis nie meer net enkelinge wat daarop fokus nie, maar ons almal as gelowiges moet onsself as ‘sendelinge’ beskou.
“Verstedeliking bring nuwe uitdagings aan alle gemeenskappe, veral in Afrika. Ons stede word soos ghetto’s waar geweld, misdaad en armoede hoogty vier. Township-pastore wil daar wegkom, maar dis juis waar die nood is. God roep ons egter nie uit nie, maar in – Jesus staan in die ry van hulle wat kos moet kry. Dis waar die welvaartsteologie vastrapplek kry as ‘ontvlugting’ uit hierdie armoede; dís ons uitdaging.
“Die globale wêreld met sy toenemende migrasie en gepaardgaande immigrasie bring vreemdelinge nou na ons voorstoep toe. Hoe benut ons hierdie geleenthede om juis die evangelie aan mense te bring?
“Die groei van Islam bly ’n groter wordende uitdaging vir die kerk, veral in Afrika en Europa.
“Die ekonomiese vooruitgang van die wêreld bring baie meer ongelykheid as gelykheid; rykes word ryker en sekere gemeenskappe word toenemend armer en dus neem morele en sosiale verval toe.
“Alhoewel die term ’onbereikte’ groepe aan die verdwyn is, is daar groepe wat die evangelie hoor, maar op wie dit nie eintlik ’n effek het nie, soos byvoorbeeld Japan – ’n hoogs-funksionerende land met net 1% Christene.”
Wat sou jy voorstel as die plan vorentoe, Nico?
“Ons sal moet begin fokus op die wêreld in sy totaliteit wat toenemend veelkleurig en divers raak. Dis die wêreld wat God vandag vir ons gee. Ons sal moet gaan kyk na ’n verskeidenheid metodologieë binne ’n voortdurend veranderende wêreld. Ons probeer die evangelie behou soos dit in ons tyd verstaan is, ‘but then the Gospel slips through our fingers’ (Andrew Walls). Ons kan dit nie beheer nie – dit gaan uit ons hande wegvloei. En dis OK as almal nie soos ons aanbid nie. Ons baklei oor drie formuliere asof dit die alfa en omega is.
“Ons kan nie meer teenoor die wêreld gaan staan nie; die kerk sal langs die wêreld moet gaan staan as diakonos (Mark. 10:45). God is ín die wêreld.
“Samewerking anderkant ons denominasionele skeidings sal deurslaggewend wees. Ons sal met mekaar moet saamwerk; ons kan dit nie meer alleen doen nie. Nuwe vaardighede sal aangeleer moet word, byvoorbeeld ten opsigte van vriendskapsevangelisasie en ander modelle vir onderrig (vir beide lidmate en leraars).
“As kerk sal ons moet nadink oor ons verstaan van kerkwees, veral in Afrika waar Europese en Amerikaanse ekklesiologie neig om as norm voorgehou te word.”
So, waarom kan Afrika nie meer as die donker kontinent beskou word nie?
“Hierdie benaming kom uit 1834 van die ontdekkingsreisiger Henry Morton Stanley; ’n frase wat tot vandag toe in ons psige vasgesteek bly. Ons is egter nie meer die ‘donker kontinent’ nie; ons het die kontinent van die Lig van die evangelie geword.
“Die vraag is egter: Watter soort Christendom bring ons na die wêreld toe?
“Die behoefte aan hande-arbeid in Europa word al hoe meer en ons jongmense migreer soontoe. Hoe berei ons hierdie geslag voor om missionaal te wees? In Londen is kerkbywoning op ’n Sondag net 18%, waarvan 80% van hulle uit kerke van Afrika kom.
“Die dilemma is dat ons dan kerke word wat na binne gefokus is in plaas daarvan om na buite gefokus te wees. Ons sukkel om in ’n nuwe kulturele konteks te transformeer. Ons gaan kerk toe vir onsself. Ons sal missionaal moet begin dink oor ons as immigrante.”
Volgens jou het ons gestuurdheid na die wêreld gewoonlik twee teenoorgestelde reaksies. Vertel meer.
“As ons na al die oorweldigende uitdagings in die wêreld kyk, wil ons onttrek; ons raak bang. Dis waar nasionalisme en etnosentrisme inkom. Nou kyk ons eerder na ons eie mense; ons kan byvoorbeeld nou nie meer geld vir die sending gee nie.
“Die teenoorgestelde reaksie is een van betrokkenheid. Ons verstaan dat ons met die wêreld geïntegreerd moet leef; dat ons moet deel wees van hierdie wêreld. Ons erken die kompleksiteit van die verskillende kontekste. Ons ontdek dat God ook buite die kerklike omgewing sonder kerkmense werk. Ons moet oop wees vir ander vennote; om langs mense te gaan staan in plaas van teenoor hulle.”
“Ons is deur Christus na die wêreld gestuur, maar hoe moet ons dit nóú verstaan? Oor eeue heen leef die kerk in spanning. Raak ons betrokke of bid ons? Bekeer ons of is ons by die sosiale kwessies van die dag betrokke? Dis beide. Die nood van mense moet aangespreek word en mense moet opgeroep word tot bekering.”
Ten slotte: Hoe lyk die gemiddelde Christen volgens die Pew Research Centre vandag?
“Die meeste Christene is nie mans nie, maar vroue. Dis nie witmense nie, maar bruin- en swartmense. Hulle woon grotendeels in die Derde Wêreld en nie in die Eerste Wêreld nie. Hulle is merendeels pentekostalisties en nie presbiteriaans nie.
“Die gemiddelde Christen is ’n 22-jarige bruin vrou wat nie jou konferensie bygewoon het nie, wat nie CS Lewis of Christianity Today gelees het nie … Sy is waarskynlik ook die persoon wat God as voertuig sal gebruik om aan die volgende generasie die Blye Boodskap oor te dra.”


| verskaf: Dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van Vennote in Getuienis, NG Kerk Vrystaat.