Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie
Bloot die feit dat daar geskille tussen Moslemgeleerdes bestaan (of bestaan het) is reeds voldoende grondslag om die bewering dat die Koran perfek bewaar is, af te wys. Ons kan nietemin verder gaan op hierdie roete deur kortliks sekere ander probleme in die samestelling van die Koran uit te wys[1]. Toe Ibn Umar – ’n metgesel van Mohammed en die seun van Kalief Umar – mense hoor verklaar dat hulle die hele Koran gememoriseer het, het hy vir hulle gesê:
“Laat niemand van julle sê: ‘Ek het die hele Koran geleer’ nie, want hoe weet hy wat die hele Koran is, terwyl baie daarvan vermis word? Laat hom eerder sê: ‘Ek het net geleer wat daarvan oorgebly het’” (Abu Ubaid, Kitab Fada’il-al-Qur’an).
As Ibn Umar geglo het dit is onmoontlik om die hele Koran te ken (omdat “baie daarvan” vermis word), hoe kan Moslems vandag sê dat hulle die hele Koran besit? Moet hulle nie sê dat hulle net dit het wat van die Koran oor is nie? Een van Mohammed se metgeselle, Abu Musa, het Ibn Umar se aanspraak ondersteun deur daarop te wys dat die vroeë Moslems twee hele suras (hoofstukke) van die Koran vergeet het weens luiheid:
Sahih Muslim 2286 – Abu Musa al-Ash’ari wat vir die voorlesers van Basra gestuur is. Hulle het na hom gekom en hulle was drie honderd in getal. Hulle het die Koran opgesê en hy het gesê: Julle is die beste onder die inwoners van Basra, want julle is die voorlesers onder hulle. Hou dus aan om dit op te sê. (Maar hou in gedagte) dat u lang voordrag nie u harte kan verhard soos die harte van diegene voor u verhard is nie.
Ons het vroeër ’n sura opgesê wat in lengte en erns gelyk was aan (Sura) Bara’at. Ek het dit egter vergeet, met die uitsondering hiervan wat ek daaruit onthou: “As daar twee valleie vol rykdom was, sou die seun van Adam na ’n derde dal smag, en niks sou die maag van die seun van Adam vul nie, behalwe stof.” En ons het altyd ’n 11 sura opgesê wat soos een van die suras van Musabbihat gelyk het, en ek het dit vergeet.
Die vers wat deur Abu Musa aangehaal word, is nie vandag in die Koran nie, wat beteken dat die hoofstuk waarna hy verwys het, nooit teruggevind is nie.
Ons weet verder dat groot dele van sekere hoofstukke ontbreek het. Byvoorbeeld: Muhammad se vrou Aisha het gesê dat ongeveer twee derdes van Sura 33 verlore gegaan het: Abu Ubaid, Kitab Fada’il-al-Qur’an-A’isha het gesê: “Surat al-Ahzab (xxxiii) is vroeër in die tyd van die profeet met tweehonderd verse opgesê, maar toe Uthman die kodekse uitgeskryf het, was hy nie in staat om meer daarvan te bekom as wat daar vandag daarin is nie [73 verse].”
Volgens Aisha kon die versamelaars eenvoudig nie die hele Surah 33 vind nie. Hoekom nie? Soos wat ons gesien het, is baie huffaz (mense wat die totale Koran uit hulle koppe ken) tydens die Slag van Yamama doodgemaak. Blykbaar het niemand wat die hele hoofstuk geken het, oorleef nie.
Die gevolgtrekking is dus baie eenvoudig, naamlik dat daar geen oorspronklike, akkurate teks van die Koran bestaan nie. Die redes is legio, maar na aanleiding van bostaande inligting is dit duidelik dat sommige van die hoofstukke van die Koran wat tydens Mohammad se dood in orale tradisie bestaan het, kort daarna saam met die bewaarders van die orale tradisie gesterf het.
[1] Inligting vir hierdie artikel kom meestal uit David Wood se publikasie Christian Essential Series: The History of the Quran, wat in 2020 deur Ad Luceum uitgegee is.
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Hierdie artikel handel oor die stryery wat plaasgevind het tussen Mohammad se eerste volgelinge oor wat in die Koran hoort en wat nie. Dit onderstreep maar net dat daar van die begin van Islam geen konsensus was oor wat in die “oorspronklike” Koran hoort en wat nie en wat uitwys dat daar nie ’n “oorspronklike Koran” bestaan nie.
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za

