Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons Sinodale Kantoor onthou

Deur Mariëtte Odendaal

Het julle geweet dat die NG Kerk Vrystaat die enigste sinode is wat nog nooit ’n predikant as saakgelastigde (later genoem direkteur van administrasie en finansies) aangestel het nie? By al die ander sinodes word predikante gewoonlik in dié pos aangestel.

Vir die volgende vyf weke kan julle nog meer interessante stories uit die sinodale kantoor van die afgelope meer as drie dekades lees.

Ons het gaan hoor wat die vyf saakgelastigdes van die afgelope halfeeu, Piet Coetzer, Hennie van der Walt, André Esterhuizen, Hennie de Lange en die huidige, Adriaan de Ruiter, te vertel het.

Soos enige boer, skoolhoof of bestuurder van ’n suksesvolle sakeonderneming weet, is daar baie werk wat agter die gordyne gedoen moet word om jou besigheid op ge-oliede wiele te hou. Gesonde finansies en menseverhoudinge is maar net enkele van die vele uitdagings wat voortdurende aandag vereis.

Gelukkig is daar darem ook baie pret en tong-in-die-kies-oomblikke wat dié uitdagende werk lekker maak; sorg net dat die regte hoofman oor honderd aan die stuur van sake staan, en alles verloop (meestal) klopdisselboom!

Ons het by die ‘hoofman’, of saakgelastigde, van drie-en-dertig jaar gelede, Piet Coetzer, gaan hoor hoe die sinodale kantoor destyds gelyk en gefunksioneer het.

Piet, jy was ’n bietjie meer as drie dekades gelede die NG Kerk Vrystaat se saakgelastigde. Vertel ons eers meer van jouself voordat ons oor kerksake begin praat.

“Graag. Ek is op 25 Junie 1941 in Pretoria gebore waar ek my eerste skooljare aan die Laerskool Oosteind en daarna in Villiera voltooi het. Nadat ek matriek aan die Hoërskool Oos-Moot, Pretoria geslaag het, het ek ’n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) behaal, asook ’n paar ander kwalifikasies.

“Ek is op 11 Desember 1965 met Louise Linde van Potchefstroom getroud. Ons vier vanjaar ons 60ste huweliksherdenking en is geseënd met twee dogters en ’n seun, asook vyf kleinkinders.

“My eerste beroep was in die Staatsdiens as senior klerk by die Provinsiale Administrasie in Pretoria. Daarna het ek by die SAUK aangesluit as administratiewe assistent – eers in Pretoria en daarna in verskeie streekkantore in Durban, Johannesburg en Windhoek, Namibië. Elke skuif het met bevordering gepaard gegaan.

“Die jare in Windhoek (1976-1991) was besonder opwindend, aangesien ek instrumenteel was in die stigting van die Suidwes-Afrika Uitsaaikorporasie (SWAUK) as onafhanklike uitsaaikorporasie.

“Ek was ook bevoorreg om tydens die Grensoorlog daar te kon meewerk aan die onafhanklikheidwording van Namibië. Die daarstelling van ’n komplekse infrastruktuur vir die uitsaaiwese het deel van my pligte as Adjunk-direkteurgeneraal: Bestuur, behels.

“Onafhanklikheidwording het egter drastiese verandering meegebring en my dienste is in Desember 1991 beëindig.”

In watter jare het jy as saakgelastigde by die sinode gewerk en hoe het jy die aanpassing beleef?

“Ek het op 2 Januarie 1992, na die skielike afsterwe van die vorige saakgelastigde, Hannes van Dyk, by die sinodale kantoor begin werk. Ek het daar gewerk tot 31 Desember 2006 toe ek met pensioen uitgetree het.

“Die politieke gebeure tussen 1992 en 1994 het ’n baie groot effek op ons land en sy mense gehad; dit het groot kopskuiwe en aanpassings geverg wat beslis ook gegeld het vir ons sinodale kantoorpersoneel.

“Gedurende hierdie proses kon ek, danksy my bogenoemde ondervinding in Namibië, ’n rol speel om die aanpassing as gevolg van ons land se nuwe bedeling en politieke bestel in my nuwe werksverband te help verwerk.”

Daar is natuurlik ook invloedryke karakters met wie ’n mens paaie kruis gedurende jou loopbaan. Wie sou jy uitlig as die mense wat ’n besondere rol in jou werk as saakgelastigde gespeel het?

“Daar is veral drie persone wat ’n groot invloed op my werk as saakgelastigde gehad het.

“Wyle ds Johan Lombard was vir etlike jare op sinodale vlak as moderator nou betrokke by die sinodale kantoor. Hy was vir my ’n waardevolle mentor wat gehelp het om die doen en late van die NG Kerk Vrystaat op vaste fondamente te hou. Sy insig, wyse raad en kollektiewe geheue was van onskatbare waarde.

“Dan was daar ook wyle ds Bobby Scherrer. Hy was die predikant van Kerkenberg (Harrismith) en het as voorsitter van die Sinodale Kommissie vir Administrasie en Finansies (SKAF) ’n fenomenale rol in die finansiële welsyn van die NG Kerk Vrystaat gespeel. Ons was bevoorreg om te kon deel in sy kundigheid en dryfkrag.

“Dr Pieter van Jaarsveld, ook ’n voormalige moderator van die NG Kerk Vrystaat, het met sy innemende persoonlikheid ’n groot rol gespeel om ons by die sinodale kantoor te bemoedig en te bemagtig ten opsigte van ons dienslewering. Hy is tans ’n emeritus wat nog steeds op uitnodiging met Woordbediening in verskeie gemeentes help. Ons het groot waardering vir sy bydraes as vriend.”

Aangesien jy uit die korporatiewe wêreld gekom het voor jou aanstelling as saakgelastigde, kon jy ’n sinvolle bydrae lewer, veral ten opsigte van die herstrukturering van die sinodale kantoor en die bestuur daarvan asook die uitbou van projekte. Vertel meer.

“As meelewende lidmaat het ek gepoog om die bestuur en die styl waarin die kerk dinge doen met mekaar te versoen. In die proses het ek die belange van die personeel onder my beheer se welwese as van groot belang geag; iets wat tot die sukses daarvan bygedra het.

“Ek was ook instrumenteel betrokke by die NG Kerk in die Vrystaat se rasionaliseringsproses, die uitbouing van die Helpmekaar Studiefonds, onderhandelinge met beleggingshuise, die erkenning aan diensverskaffers en baie ander sake wat met die normale verloop van bestuur te make het.

“Dit was vir my veral belangrik dat die gemeentes, kerkrade en leraars van die Vrystaat ingelig moes wees oor alle sake wat van belang is vir ’n gesonde verhouding tussen gemeentes en die sinode.

“Daarom het ek en die personeel baie moeite gedoen om jaarliks leraars en kerkrade in te lig oor die stand van fondse, om die behoeftes van gemeentes wat finansieel swaarkry aan te spreek en veral aandag te gee aan leraars se vergoedingspakkette.

“As saakgelastigde het ek ook aandag gegee aan ’n databasis vir administratiewe personeel ten opsigte van kerkrade se vergoeding om as riglyne vir kerkrade se hantering hiervan te dien.

“Gedurende die laaste ses maande van my dienstermyn het ek toegesien dat die sinodale pensioenfonds van ’n vaste voordelefonds na ’n vaste bydraefonds omgeskakel word en dat die amptenare-pensioenfonds dieselfde verandering ondergaan.”

Ten slotte

Ons as NG Kerk Vrystaat dank die Here vir die gawes en talente wat Hy so mildelik aan Piet geskenk het sodat hy sy roeping met soveel onderskeiding kon vervul.

Mag die Here hom in alle opsigte seën.

Kontak

Vir meer inligting kan Piet Coetzer by skriba@ngbloemheuwel.co.za gekontak word.

 | verskaf deur: Mnr Piet Coetzer ,NG Kerk Vrystaat se saakgelastigde 1992–2006