Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons sê “tot siens” aan Christelle Smith

Deur Mariëtte Odendaal

“Christelle laat ’n groot leemte; die kantoor voel heel van balans af. Sy was ’n ware vriendin vir ons hier in die kantoor. Ons gaan haar regtig baie mis.”

So getuig personeellede van die NG Kerk Vrystaat se sinodale kantoor oor Christelle Smith wat onlangs na Gauteng verhuis het nadat haar man, Charl, as tegniese ondersteuningsingenieur by Jaguar Land Rover in Johannesburg aangestel is.

“Sy was altyd vroeg op kantoor, akkuraat in haar werk, altyd behulpsaam,” vertel nog ’n paar van haar kollegas in die wandelgange. Hulle praat van haar as die “sagte, vrolike en altyd positiewe mens”.

Hierdie kreatiewe vrou wat uitstekende borduur- en naaldwerk doen, veral kruissteek-projekte, geniet dit ook om in die kombuis te bak en brou.

Tydens Christelle se werk by die sinodale kantoor was sy verantwoordelik vir die finansiële administrasie van die sinode vir die afgelope 17 jaar – vanaf 1 Maart 2007 tot 14 Junie 2024.

In hierdie tyd was Christelle verantwoordelik vir die sinode se bankrekonsiliasies, gemeentes se pro ratas en kollektes, die verhuring van die Barend Wessels-meenthuiskompleks en EFT-betalings. 

Ons het meer gaan uitvind.

Christelle, wat was vir jou aanvanklik die grootste aanpassing in jou pos?

 “Dit was om met mense te werk. Ek was altyd ’n baie groot introvert en het nie sommer met vreemde mense gepraat nie. Toe ek dus in hierdie pos met mense moes werk, het dit my gedwing om meer uit te reik na ander; iets wat vir my ’n besondere verryking was.”
Wat was vir jou die hoogtepunte van jou werk?
 

“Daar was baie, maar wat uitstaan, is die wonderlike belewenis van my eerste Sinodesitting in die ou Sinode-gebou. Ek het hoendervleis gekry toe al die afgevaardigdes opgestaan en begin saamsing het. Ek sal dit beslis nooit vergeet nie.”

Christelle, wat sal jy die meeste van die NG Kerk Vrystaat mis?
 

“Ek dink wat ek die heel meeste gaan mis, is die mense saam met wie ek gewerk het. Dit was ’n veilige ruimte en hulle het later soos familie geword.”

Wat is jou wense en drome vir die NG Kerk Vrystaat vir die toekoms?
 

“My bede is dat hulle sal aanhou met die wonderlike werk wat vir die Here gedoen word. My wens is dat die probleme en verskille in die gemeentes uitgesorteer sal word en veral dat die opleiding van studente nog vele wonderlike predikante sal oplewer.”

Wat lê vir jou voor in die toekoms?
 

“Ek is tans nog onseker oor my toekoms wat werk betref. Ek benut nou eers my tyd om ons trek na Johannesburg uit te sorteer en ons twee seuns, Christo (6 jaar oud en in Graad R) en CJ (9 jaar oud en in Graad 3) in ’n nuwe roetine by hul nuwe skool te kry.”

Vir meer inligting kan Christelle by charl.christelle@gmail.com gekontak word.

116 | Maatskaplike NOODLYN