Deur ds Francois van Tonder, leraar van NG Gemeente Parys-Oos
’n Les uit die Visrivier Canyon
Met die oog op Aswoensdag wat om die draai is, breek ’n tyd van refleksie, bekering en ’n oproep tot nederigheid, aan. Dit is tradisioneel ’n tyd van geestelike vernuwing in die lewe van gelowiges en gemeentes, ’n tyd waarin gelowiges hulle lewens ondersoek en na God draai met ’n gees van bekering. In baie opsigte is hierdie seisoen ‘n oproep om in ander mense se skoene te loop, om oor die lyding van ander na te dink, en om onsself in die teenwoordigheid van ’n genadige God te verootmoedig. Dit gaan oor empatie, opoffering en om die gewig van ander se laste te verstaan – ’n waarheid wat vir my baie duidelik geword het tydens ’n staptoer deur die Visrivier Canyon in Namibië.
Die Visrivier Canyon is seker een van die staproetes wat op meeste stappers se ‘Te doen lysie’ is, met ’n asemrowende natuurskoon en pragtige rotsagtige terrein. Ons groep het op ’n sewe-dae lange staptoer deur hierdie uitdagende landskap vertrek, heeltemal bewus van die uitdagings wat hierdie staproete inhou. Die staptoer is bekend vir sy uitputtende eise: die bedompige hitte, steil klim, en die afgeleë, geïsoleerde paadjies. Die roete bied egter ook verskeie kortpaaie, paaie wat jou tyd en energie bespaar, maar wat maklik gemis kan word as jy nie genoegsame aandag gee nie.
Op ons derde dag, toe ons al lekker moeg en styf was, het ons pad met drie stappers gekruis wat in die teenoorgestelde rigting oppad was. Dit was ’n ouer paartjie en ’n vriendin, en hul situasie was onmiddellik kommerwekkend. Hulle het van hul groep geskei geraak en was besig om hul oornagbestemming te probeer bereik. Maar êrens langs die pad het hulle ’n groot fout gemaak: in hulle moegheid en verwarring het hulle per ongeluk die verkeerde kortpad geneem, wat hulle nie na hulle groep geneem het nie, maar eerder terug na die beginpunt toe.
Teen die tyd wat ons paaie gekruis het, het hulle al sewe dae geloop – veel langer as wat enige iemand in sulke omstandighede sou moes, met min kos en water oor. Die ouer vrou se skoene het begin skeur, en die man het raakgesien hoe sy gesukkel het. Hy het ’n onselfsugtige besluit geneem. Hy het haar sy eie skoene gegee, en met die min energie wat hy nog gehad het, het hy haar stukkende skoene met “Duct Tape” tydelik herstel sodat hy in haar skoene kon voortgaan.
Hierdie eenvoudige, maar diepgaande daad van selfopoffering het my baie hard getref. Dit was ’n oomblik waar die ou gesegde “om in ander mense se skoene te loop” in ’n baie tasbare manier tot lewe gekom het. In daardie oomblik het die ouer man nie net verstaan wat hierdie vrou deurgaan nie – hy het haar las op homself geneem. Hy het in haar skoene geloop, letterlik, maar ook in haar pyn, haar uitputting en haar kwesbaarheid. Hy het haar behoefte gesien en met deernis daarop gereageer, sy eie gemak geskenk om haar lyding te verlig.
Soos ek nadink oor hierdie ervaring en die seisoen van Lydenstyd, besef ek dat dit ’n kragtige herinnering is aan wat dit regtig beteken om in ander mense se skoene te loop. Christus roep ons tot empatie, om ons naaste lief te hê soos onsself, en om mekaar se laste te dra (Galasiërs 6:2). Die essensie van empatie is nie net om iemand se stryd te erken nie, maar om jou in hulle wêreld in te leef, om hulle pyn en uitdagings te deel, selfs wanneer dit beteken dat jy jou eie gerief moet opoffer.
Op Aswoensdag word ons herinner aan ons eie broosheid en sterflikheid. Ons ontvang die as op ons voorkoppe as ’n simbool van ons bekering en die erkenning dat “ons stof is, en tot stof sal ons terugkeer” (Genesis 3:19). Hierdie nederigheid is noodsaaklik om in ander mense se skoene te loop, want dit dwing ons om die werklikheid in die gesig te staar dat ons ook broos is en genade nodig het. Ons is nie bo ander mense nie, ongeag hul stryd of omstandighede.
Net soos die man in die Visrivier Canyon gekies het om in die skoene van ’n ander te loop, word ons geroep om buite ons eie gemaksone te beweeg, om langs diegene wat ly, te stap en om mekaar se laste saam te dra. Dit mag beteken om ’n luisterende oor aan iemand te bied wat deur ’n moeilike tyd gaan, om diegene wat fisies of emosioneel moeg is te help, of net eenvoudig om daar te wees vir iemand wanneer hulle die meeste steun nodig het. Dit is waaroor lydenstyd gaan: om anders oor jouself en jou lewe te kyk vanuit die vergrootglas van die kruis. Paulus sê: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde”. (2 Korintiërs 2:2)

| verskaf: Ds Francois en sy vrou, Errin van Tonder, leraar van NG Gemeente Parys-Oos.