Diegene wat al na ’n terminale pasiënt moes omsien, sal weet hoe nodig jy fisiese en emosionele ondersteuning in hierdie uitdagende tyd nodig het. Dit kan jou dikwels oorweldig, veral as jy die hoof-steunpilaar in hierdie brose situasie is. Daarom is dit vir mense in sulke omstandighede ’n groot hulp as daar ’n Hospice in die omgewing is.
Die Hospice Palliative Care Association (HPCA) is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie in Suid-Afrika. Die HPCA, wat in 1987 gestig is, is ‘n lidorganisasie vir Suid-Afrikaanse hospies. As ‘n nasionale liefdadigheidsorganisasie beywer en ondersteun die vereniging ongeveer 89 lidorganisasies wat hospiesdienste aan ongeveer 100 000 pasiënte en hul gesinne per jaar verskaf. HPCA se lidhospisies regoor Suid-Afrika sorg vir pasiënte met ‘n verskeidenheid lewensbedreigende siektes, hoofsaaklik in die gerief van hul eie huise, maar soms ook in die gerief van ’n Hospice-inrigting.
Daarom is dit vir Bloemfonteiners ’n riem onder die hart om te weet dat daar ook ’n Hospice in Bloemfontein is. Hanneke Lubbe, medestigter van Hospice Bloemfontein vertel: “Tot so vyf jaar gelede was hier nie regtig ’n instansie wat na die behoeftes van terminale pasiënte omgesien het met veral kanker nie. Daar was die Naledi Hospice (wat intussen toegemaak het) wat hoofsaaklik TB-pasiënte versorg het, en die Lesedi Centre of Hope in Turflaagte wat omsien na HIV/AIDS-pasiënte. Ek en ’n bekende palliatiewe suster, Joan Marston, het toe besluit om ’n nuwe Hospice te begin, een wat na diegene omsien wat geen heenkome het nie, veral dié wat kanker het.”
Hospice Bloemfontein is geleë by die Siesta Afree-oord, Dan Pienaar, wat baie sentraal geleë is. Dit is die oudste ouetehuis in die stad, nie ver van Preller Plein nie, en net so skuins agter Hoërskool Sentraal. Hanneke vertel: “Ons huur een vleuel van Siesta wat ’n aparte eenheid van die res van die versorgingseenheid is. Ons het drie aparte enkelkamers beskikbaar met ’n sitkamer en kombuis wat deur familielede en pasiënte gebruik kan word. Ons het ook ’n kantoor daar.
“Selfs op die oog af lyk ons anders,” vertel Hanneke. “Ons vleuel is nuut en mooi geverf, en die tuin rondom ons kamers is ook pragtig aangelê. Die tuin is ontwerp en uitgelê deur Marliza den Heyer van E Sienna Life. Sy het die tuin só ontwerp dat dit ’n mens se laaste reis simboliseer. Wanneer jy by die tuin instap, volg jy ’n pad deur die pragtige bome en struike wat jou later ook simbolies deur die laaste paar treë van jou lewensreis neem. Dit simboliseer die lewensfunksies wat minder word, en dan die stilword en sterwensproses, wat eindig in die oorgaan in die paradys.”
Hanneke verduidelik verder: “Ons het ten doel om die lyding van pasiënte en hul geliefdes te verlig en om ‘n kwaliteit lewe na te streef – tot op die laaste. Dit beteken iets anders vir elke gesin en elke pasiënt – die individuele doelwitte, waardes en voorkeure van elke pasiënt word in ag geneem en gerespekteer.
“Hospice Bloemfontein bied professionele palliatiewe versorging aan pasiënte en hul families, en hierdie versorging word deur ’n span kundiges gedoen: ’n palliatief-opgeleide dokter, susters, berader, ’n arbeitsterapeut en ’n groep van opeleide vrywilligers wat as companions die pad saam met families stap. Indien nodig, is daar ook geestelike leiers wat families besoek, soos dit benodig word.”
Maar daar is seker ’n paar uitsonderlike riglyne voordat ’n pasiënt hier opgeneem kan word? Hanneke verduidelik: “Pasiënte wat na ons verwys word, het gewoonlik gevorderde kanker, eindstadium-orgaanversaking of motor-neuronsiekte. Die meeste van die pasiënte word by hulle huise versorg en besoek, maar indien hulle by ons inrigting opgeneem word, is die maksimum periode twee weke. Dié opnames in ons IPU (in-patient unit) is hoofsaaklik beskikbaar vir komplekse pyn- en simptoombeheer, opnames van pasiënte sodat familielede ’n ruskans kan hê of dan aktiewe einde-van-lewe versorging.
“Pasiënte wat in ons eenheid opgeneem word, word met groot waardigheid en deernisvolle professionaliteit behandel. Ons kamers is ook só ingerig dat dit geensins soos ’n kliniese hospitaalopset voel of lyk nie; dit is stylvol, neutraal en gemaklik ingerig. Familielede het ook oorgenoeg plek waar hulle by hulle geliefdes kan wees vir so lank as wat hulle wil. Daar is ook ’n sitkamertjie waar hulle kan ontspan, of met van die personeel gesprekke kan voer. Die versorgingspersoneel van Siesta, onder leiding van ’n professionele palliatiewe suster, versorg die pasiënte met die grootste toewyding. Die familie kan ook, indien hulle sou wou, etes uit die kombuis bestel.
“Ons weet dat dit gewoonlik ’n moeilike tyd vir families en pasiënte is,” vertel Hanneke. “Hulle is dikwels bang en onseker oor wat vir hulle voorlê. Ons wil graag hê dat hulle by ons gemaklik moet wees en veilig genoeg voel om ons met die versorging van hulle geliefdes te vertrou. Die pasiënte is in goeie hande, en alles word gedoen om hulle ook gemaklik te hou. Ons luister en kyk hoe ons ook aan die behoeftes van die geliefdes kan voldoen, en hulle so op hulle pad kan begelei.
“Die huur van die kamers en versorging kos ons wel geld, en behalwe vir die mediese fondse wat verbyf betaal, is ons, as Hospice Bloemfontein, verantwoordelik om alle uitgawes te dek. Ons versoek dus dat families, indien moontlik, ’n bydrae maak om hierdie dienste enigsins moontlik te help maak.”
Hospice Bloemfontein is baie afhanklik van die ondersteuning van families en die gemeenskap. Om hierdie dienste aan almal te kan bly beskikbaar stel, ongeag inkomste of agtergrond, moet ons ondersteuning van die gemeenskap kry. Dalk is daar ’n besigheid wat een van die Hospice-kamers wil borg en so hulle betrokkenheid sigbaar wil maak? Of dalk kan iemand ons help om ’n tenk brandstof vir ons susters te borg? Of dalk kan jy volwasse doeke skenk? Ons het ook ’n Hospice-winkel op die perseel van die Vrouemonument – kom ondersteun ons gerus daar!
Persone wat meer wil weet, kan Hanneke gerus kontak by info@hanneke.co.za.